Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kokstad-boer kry ander plaas

Thoko Didiza, minister van landbou en grondsake, het ’n nuwe plaas van sowat 800 ha toegeken aan ’n opkomende boer van Kokstad wat vroeër vanjaar deur amptenare en ’n ryk buurman van sy grond afgegooi is.

Vuyani Zigana

Vuyani Zigana het die staatsplaas Groove Park naby Kokstad, KwaZulu-Natal, in 2012 met ’n toesighouer-ooreenkoms gekry. Dit is vroeër vanjaar met ’n huurkontrak van 30 jaar aan die buurman, Luyolo Makaula, toegeken. Makaula besit reeds verskeie plase in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

Didiza het ’n forensiese ondersoek laat doen na die manier waarop Zigana sy aanspraak op die grond verloor het nadat die DA die kwessie aan die groot klok gehang het.

Dit het hierop aan die lig gekom dat dié plaas ná ’n deursigtige keuringsproses eintlik aan ’n derde opkomende boer toegeken moes word. Die twee mees se­nior amptenare van die departement van grondsake in die provinsie, Nhlanhla Mndaweni, hoofdirekteur, en Phakamile Nobula, het egter besluit om Groove Park aan Makaula toe te ken.

Hulle het geen skriftelike redes vir hul besluit in verslae oor die toekenning gegee nie, wat tot ’n wanvoorstelling oor die verloop van die proses gelei het. Tugstappe is nou teen Mndaweni en Nobula ingestel. Nog drie amptenare wat deel van die proses was, maar nie die ongerymdhede uitgewys het nie, sal ook aan tugstappe onderwerp word, lui die forensiese verslag waarvan Rapport ’n afskrif bekom het.

Zigana word nou as toesig­houer aangestel op die staatsplaas Melville Park naby Swartberg, sowat 45 km van Kokstad. Voorsiening word gemaak vir ’n huurkontrak van 30 jaar met die opsie om die grond later te koop.

“Ek is baie tevrede. Ek sou nie graag wou teruggaan na Groove Park nie. Ek is bang vir die mense wat nou daar is,” sê hy.

‘Dis omhein, met goeie weiding.’

Rapport het vroeër berig Zigana is van betreding aangekla en sy diere geskut. Dit het hom R55 000 aan skutgeld gekos asook R80 000 aan regskoste om sy vee terug te kry. Hy moes talle van die beeste, skape en boerbokke verkoop, maar het nog 107 stuks vee van sy aanvanklike kudde oor. Dié vee loop op ’n droë stuk grond aan die Lesotho-grens wat ’n weldoener vir hom aangebied het.

Zigana het gister by Rapport gehoor dat Melville Park aan hom toegeken word. “Ek was nog nie daar nie, maar weet van die plaas. Dis omhein, met goeie weiding. Ek is baie tevrede hiermee,” het hy gesê.

Sy lot is in Augustus deur Annette Steyn, DA-woordvoerder vir landbou en grondsake, in die parlement bekend gemaak, waarna Didiza ’n ondersoek gelas het.

Intussen oorweeg Didiza dit ook om met die groep boere in Mpumalanga te vergader wat deur provinsiale amptenare van die staatsgrond gegooi is waar hulle boer. Rapport het vroeër vandeesmaand berig oor dié boere, waarvan sommige baie suksesvol is, maar wat glo geweier het om omkoopgeld te betaal.

“Minister Didiza oorweeg dit om die boere te gaan ontmoet, maar sy moet eers die memorandum wat hulle aan haar gestuur het, onder oë kry,” het Reggie Ngcobo, haar woordvoerder, Vrydag gesê.

Rapport het reeds ’n week gelede ’n afskrif van dié memorandum aan hom gestuur om te vra of die minister daarop wil reageer. “Ons kan nie so ’n dokument van die media aanvaar nie – ons moet dit van die oorspronklike skrywers af kry,” was Ngcobo se reaksie.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Luyolo Makaula  |  Vuyani Zigana  |  Kokstad  |  Staatsgrond  |  Staatsplaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.