Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Koloane aanbeveel vir Nederlandse pos na Waterkloof-debakel’
Bruce Koloane

Oudpres. Jacob Zuma hét geweet dat oudambassadeur Bruce Koloane gelieg en sy naam gebruik het om die Guptas se vliegtuig met trougaste op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria te laat land.

Hy het hom egter steeds as ambassadeur in Nederland aangestel.

Dít was Donderdag die getuienis van Maite Nkoana-Mashabane, minister in die presidensie belas met vroue, en ten tyde van die Waterkloof-fiasko die minister van internasionale betrekkinge en samewerking in Zuma se kabinet.

Nkoana-Mashabane het eers in haar getuienis voor die Zondo-kommissie vir ondersoek na staatskaping lank uitgewei oor die prosedure rondom die benoeming van ambassadeurs en dat die besluit uiteindelik lê by die president of ’n voorgestelde kandidaat wel as ambassadeur aangestel word.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het daarna reguit gevra: “Nee wag, minister. Dit is eenvoudig. Het jy vir die president gesê wat Koloane se betrokkenheid by Waterkloof was of het jy nie?”

Nkoana-Mashabane het geantwoord ja, sy het dit aan Zuma genoem.

Koloane was hoof van staatsprotokol toe hy Zuma se naam gebruik het om te verseker dat die landing van die Gupta-bruilofgaste op die Waterkloof-lugmagbasis goedgekeur word.

Koloane het met sy aanvanklike verskyning voor die Zondo-kommissie eers probleme met sy geheue gehad oor sy aandeel daarin om die landing op Waterkloof deurgedruk te kry. Die kommissie het geklassifiseerde opnames van telefoonoproepe aan hom gegee en die volgende dag het hy getuig sy geheue het verbeter. Hy kon toe onthou hy het wél Zuma se naam gebruik om amptenare sover te kry om die administrasie van die Gupta-vlug af te handel. Die presidensie het egter nooit met die administratiewe proses of protokol ingemeng om die landing goed te keur nie.

Hy het ook die naam van Ben Martins, voormalige minister van vervoer, gebruik en gesê Martins plaas druk op hom om die landing op Waterkloof goedgekeur te kry. Martins het egter geen druk op hom geplaas nie.

Maite Nkoana-Mashabane, minister in die presidensie belas met vroue, getuig Donderdag voor die Zondo-kommissie vir ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgreep

Hy het erken hy het fouteer deur Zuma en Martins se name verkeerdelik te gebruik.

Zondo het Donderdag met die afsluiting van Nkoana-Mashabane se getuienis weer gevra:

*So, wat sy erken, is dat die president van daardie tyd (Zuma) ten volle bewus was van watter rol Koloane in die Waterkloof-landing gespeel het;

*Zuma het ook geweet van die dissiplinêre prosesse waaraan Koloane weens sy aandeel in die Waterkloof-landing onderhewig was;

*Zuma was ook in ’n stadium kwaad oor hoe Koloane sy naam gebruik het; en

*Nkoana-Mashabane se getuienis voor die kommissie is dat sy Koloane om ’n verskeidenheid redes vir die amp van ambassadeur aanbeveel het.

Nkoana-Mashabane het hierop geantwoord dit is korrek.

Sy het voor dit ook getuig die aanstelling van ’n ambassadeur word deur ’n president gedoen. “Dit berus by die staatshoof om te sê wie hom verteenwoordig en wie nie,” het sy gesê.

Sy het gesê Zuma kan self gevra word oor Koloane se aanstelling as ambassadeur, asook die groep ministers wat in die kabinet se veiligheidsgroepering was, so ook die amptenare wat by die Waterkloof-lugmagbasis was.

Koloane se aanstelling as ambassadeur plaas die kollig op almal, volgens Nkoana-Mashabane.

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Koloane begin September as ambassadeur herroep nadat hy voor die Zondo-kommissie getuig het. Hy het ook uit die staatsdiens bedank.

Pandor het hieroor gesê sy het besluit om Koloane in die openbare belang terug te roep omdat die kwessies wat voor die Zondo-kommissie onthul is van só ’n aard is dat dit die regering en land in oneer gebring het.

Die kommissie sit weer Maandag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.