Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Koloane se lot ‘sal met Ramaphosa bespreek word’

Bruce Koloane se lot as Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland sal dringend met pres. Cyril Ramaphosa bespreek word, sê dr. Naledi Pandor, minister van internasionale samewerking en verhoudinge.

Dit volg nadat Koloane vroeër voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping erken het dat hy aanvanklik vir die kommissie gelieg het. Dit was oor die feit dat hy oudpres. Jacob Zuma se naam gebruik het om te verseker dat die destydse landing van die Gupta-bruilofgaste op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria goedgekeur word.

Joernaliste wou op ’n nuuskonferensie wat Pandor Donderdag by die parlement oor haar departement se begrotingsrede gehou het by haar weet of daar teen Koloane ná sy leuens voor die kommissie opgetree gaan word.

Pandor het hierop gesê: “Ek dink ons moet ’n gesprek met die president oor ambassadeur Koloane hê. Dit is my bedoeling dat ons moet bespreek of daar meriete in enige optrede teen hom sal wees, of dit nou in die vorm van ’n brief of verdere opleiding of enige ander optrede wat nodig geag mag word, is. Dit is ’n kwessie wat ek met die president sal bespreek.”

Dr. Naledi PandorFoto: Leanne Stander

Pandor is ook gevra of daar enige verdere optrede teen

Zindzi Mandela-Hlongwane, Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke, weens haar omstrede twiets verwag kan word.

Volgens Pandor volstaan sy by wat sy vroeër oor die kwessie gesê het.

“Ek het gesê daar is niks daarmee verkeerd as ’n ambassadeur haar oor Suid-Afrika se beleidstandpunte uitlaat nie, veral met betrekking tot so ’n pynlike kwessie soos grond. Ek het egter bygevoeg dat daar spesifieke gedrag is wat ek van ’n diplomaat verwag.”

Pandor glo as ’n openbare uitval tot so ’n vlak vorder waar dit afbreuk maak aan die posisie van ’n ambassadeur, kan dit die land se posisie skade berokken. Sy voeg by dat dit egter nie verkeerd is om die land se planne vir meer gelyke toegang tot grond te herhaal nie. Pandor het die media “geadviseer” om ook nie net na Mandela-Hlongwane se uitlatings te kyk nie, maar ook in geheel na die reaksie daarop.

“Desnieteenstaande verwag ek dat die optrede van ons diplomate aan die hoogste standaarde van openbare interaksie moet voldoen.”

Sy is ook versoek om kommentaar te lewer op die jongste verwikkelinge rakende Suid-Afrika se ambassade in Israel.

Volgens haar is die ambassadeur uit Israel onttrek en die ambassade daar tot ’n skakelingskantoor afgegradeer.

“Ons wil dit duidelik maak dat dit op geen manier ’n optrede teen die mense van Israel is nie, maar eerder in solidariteit met die lot en noodkrete vir vryheid van die mense van Palestina,” sê Pandor.

“As daar konkrete beweging is om blywende vrede te vind, sal ons ons posisie heroorweeg. Ons het ’n plig teenoor diegene wat gevange gehou word deur die afwesigheid van vryheid, dat hulle moet voel die wêreld staan saam met hulle – net soos ons van die wêreld verwag het om saam met ons te staan toe ons teen apartheid baklei het.”

Meer oor:  Bruce Koloane  |  Ambassadeur  |  Guptas  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.