Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Kom ons maak soos Siya en werk saam’

Terwyl Suid-Afrikaners Saterdag asem opgehou het terwyl hulle gewag het vir die eindfluitjie om te blaas in die Wêreldbeker-eindstryd in Jokohama, Japan, het die land vir ’n oomblik van sy sorge vergeet.

Nou, sê pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief, met Suid-Afrika se seile na die wind gespan ná die Springbokke se epiese oorwinning oor Engeland, moet hy nie sy trots afwater nie, sy euforie mag nie verdwyn nie en optimisme moet die wagwoord wees.

“Laat die welwillendheid wat die sukses in Jokohama vir ons gebring het, ons inspireer om skouer aan die wiel te sit en die uitdagings waardeur ons in die gesig gestaar word op ekonomiese, politieke en sosiale gebied aanpak.

“Soos Siya Kolisi (die Springbokkaptein): ‘Ons kan enige iets vermag as ons as een saamwerk’,” sê die president.

Ramaphosa het die eindstryd bygewoon en behoorlik gekraai van die lekker toe hy, Kolisi en die res van die Bokspan die Web Ellis-trofee triomfantlik omhoog gehou het.

Ramaphosa sê dit was ’n besonderse oomblik toe Kolisi die beker gelig het.

“Ek kon die opregte emosie op sy pa, Fezakela Kolisi, se gesig sien terwyl hy uit die paviljoen toegekyk het. Dit was terwyl sy seun as die eerste swart kaptein van die Springbokke geskiedenis gemaak het,” skryf Ramaphosa.

Pres. Cyril Ramaphosa Saterdag saam met die Springbokke ná hul glorie in die Wêreldbeker-eindstryd in Japan. Foto: Reuters

Hy wys daarop dat Kolisi op 16 Junie (die dag waarop die Soweto-opstande in 1976 uitgebreek het) gebore is.

“Siya se kapteinskap verpersoonlik die transformasie van ’n sportsoort wat eers op rassegrondslag verdeel was.

“Dit is ’n droom wat waar geword het. Die droom van ’n jong man wat in nederige omstandighede grootgeword het en uiteindelik die Groen-en-goud gedra het in 'n land wat dit vir hom moontlik gemaak het om te gebeur.”

Ramaphosa sê in ’n tyd wat Suid-Afrika groot uitdagings die hoof moet bied, het die land die oorwinning in Japan aangegryp.

Die ondersteuning wat die Bokke met die toernooi gehad het, het opnuut gewys watter potensiaal sport het om mense te verenig.

Die president sê Suid-Afrikaners is verenig in hul wense vir ’n land waar almal in vrede en gemak saam kan woon en waar almal gelyke kanse het om hul potensiaal te bereik.

“Die spoke van rassisme, seksisme, stamgebondenheid, vlugtelingehaat en ander vorme van onverdraagsaamheid wat van tyd tot tyd in ons gemeenskap oorkook, het ons by tye verblind terwyl ons besig is om te streef na ons nasionale doelwit van ’n nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese, vooruitstrewende en verdraagsame land,” skryf Ramaphosa.

“Maar ons het nog altyd teruggeveg wanneer dit gelyk het asof ons by die krans sou afstort.”

Saterdag was ’n triomfantlike dag omdat dit opnuut gewys het dat die land as ’n nasie kan saamstaan en daar eenheid in sy diversiteit is.

Ramaphosa sê Suid-Afrikaners vergeet gereeld hoe ver die land gevorder het sedert 1995 toe Francois Pienaar se Springbokke die eerste keer die Wêreldbeker kon wen.

Hy sê die land moet egter meer doen om sport- en ontspanningsgeriewe in veral die landelike gebiede beskikbaar te stel ter wille van jong seuns en meisies wat groot sportdrome het.

Meer oor:  Wb-Rugby  |  Cyril Ramaphosa  |  Wb-Einstryd  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.