Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Komitee besin nou oor Jiba, Mrwebi se afdanking

LP’s begin Dinsdag die proses om te bepaal of pres. Cyril Ramaphosa reg was om advv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi vroeër vanjaar uit hul senior poste by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) af te dank.

Bulelani Magwanishe, voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste, het dit Maandag bevestig.

Volgens Magwanishe het die komitee ook kennis geneem van mediaberigte oor “sekere partye” wat die parlementêre proses hieroor wil stop totdat Jiba, voormalige adjunkdirekteur van die NVG, se hersieningsaansoek in die hooggeregshof in Kaapstad afgehandel is. Die hersieningsaansoek hou verband met die ondersoek van regter Yvonne Mokgoro wat bevind het sy is onbevoeg vir haar pos.

Adv. Nomgcobo Jiba
Adv. Nomgcobo. Jiba Foto: Jean-Marie Versluis

“In hierdie stadium sal die komitee voortgaan met sy program omdat ons nie formeel ingelig is óf deur ’n interdik verbied is om met ons verrigtinge voort te gaan nie.”

Magwanishe het verder in ’n verklaring gesê dat Jiba vroeër die hooggeregshof versoek het om die Mokgoro-verslag, wat Ramaphosa in April vanjaar gebruik het om Jiba en Mrwebi uit die NVG af te dank, tersyde te stel.

“Ingevolge wetgewing moet Ramaphosa sy besluit na die parlement verwys vir goedkeuring.

“Die (NVG-)wet lui dat sodra die president sy verslag na die parlement verwys het, die parlement 30 dae het om daarop te reageer.

“Ons wil nie die wet verontagsaam nie. Ingevolge die (komitee se) konsepprogram moet ons die proses teen 27 Augustus afhandel en teen 3 September daaroor aan die Nasionale Vergadering verslag doen.”

Volgens Magwanishe is daar vroeër tydens ’n gesamentlike sitting van die portefeuljekomitee en die Nasionale Raad van Provinsies se verkose komitee oor veiligheid en justisie besluit dat Jiba en Mrwebi, destydse hoof van die NVG se gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, tien werksdae het om voorleggings te doen oor waarom hulle nie uit hul voormalige poste verwyder moes word nie.

“Die komitees het ’n voorstel dat die twee mondelingse voorleggings moes doen, geweier en aangevoer dat geskrewe voorleggings voldoende sou wees.

“LP’s van die komitees het ook daarop gehamer dat hulle nie die ondersoek weer wil heropen nie. Wat hulle wil doen, is om te verseker dat hulle na al die dokumente kyk wat aan hulle beskikbaar is.

“LP’s meen dat daar in die aanvanklike ondersoek na getuienis van alle kante geluister is en dat die parlement nie ’n behoefte het om die proses weer van voor af te begin nie,” het Magwanishe Maandag gesê.

Vroeër is berig hoe Ramaphosa vir Jiba en Mrwebi afgedank het nadat die Mokgoro-kommissie bevind het dat hulle onbevoeg vir hul poste is.

Die konstitusionele hof het egter in Junie bevind dat Jiba en Mrwebi steeds as professionele advokate mag praktiseer nadat ’n vier jaar lange hofstryd om hulle van die rol van die Algemene Balieraad te skrap onsuksesvol was.

Intussen het Jiba se regspan verlede week ook aansoek voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gedoen om Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, te kruisondervra nadat hy haar vroeër voor die kommissie by bewerings van staatskaping geïmpliseer het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.