Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Komitee hoor hoe Zondo-kommissie geld opslurp

Die Zondo-kommissie bestee maandeliks sowat R18 miljoen van belastingbetalersgeld net aan sy ondersoekers en hul ondersoeke na staatskaping.

Dit sluit nie die hemelhoë salarisse in van die advokate wat as getuienisleiers vir die kommissie optree nie.

Die parlement het Woensdag gehoor dat die kommissie ’n bykomende R42 miljoen van die departement van justisie en korrektiewe dienste versoek het omdat sy begroting vir sy ondersoekers tans uitgeput is.

Dié bedrag is benewens die R150 miljoen wat vir die kommissie vir die 2020-’21-boekjaar begroot is.

LP’s in die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het Woensdag ook gehoor dat die kommissie die belastingbetalers sedert sy ontstaan al sowat R700 miljoen uit die sak gejaag het.

Die departement van justisie en korrektiewe dienste en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het voor die komitee verskyn in verband met hul aangepaste begrotings.

Hulle bestee sowat R18 miljoen per maand aan hul ondersoeke. Dit sluit die vergoeding in van ondersoekers en die baie duur toerusting vir hul ondersoekwerk.

Adv. Jacob Skosana, waarnemende direkteur-generaal van die departement, is ook gevra waarom die Zondo-kommissie meer geld toegeken is terwyl alle ander staatsdepartemente en -entiteite se begrotings besnoei is.

LP’s wou ook weet of daar deursigtigheid is met al die geld wat aan die kommissie toegeken is, en wat gedoen word om die “weghol”-onkoste van die kommissie te beperk.

Skosana het gesê die departement eerbiedig die hooggeregshofbevel wat die kommissie se spertyd verleng het en wat onder meer gelui het dat dit in die belang van alle Suid-Afrikaners is dat die kommissie sy werk moet afhandel.

Volgens hom is die groot kostedrywers vir die kommissie sy ondersoekwerk en getuienisleiers.

“Hulle bestee sowat R18 miljoen per maand aan hul ondersoeke. Dit sluit die vergoeding in van ondersoekers en die baie duur toerusting vir hul ondersoekwerk.

“Die kommissie het vir 2020-’21 ’n begroting van R240 miljoen versoek. Wat my egter opgeval het, was die 5%-verhoging in die vergoeding van hul advokate.

“Ek het geweier om dit goed te keur omdat niemand in Suid-Afrika, van regters, direkteurs-generaal of ander staatsamptenare vanjaar verhogings gekry het nie. Hulle sou daardeur ’n verkeerde boodskap uitstuur. Hul fooie is egter verbysterend.”

Volgens Skosana het die kommissie sy begroting tot R150 miljoen aangepas. Hy het ook opdrag gegee dat strenger beheer uitgeoefen word oor die vergoeding van getuienisleiers.

Skosana het bygevoeg die kommissie is aangesê om hul sittings in ’n regeringsgebou te hou in plaas van die vorige gebou wat hulle ten duurste van die private sektor gehuur het.

Ek het geweier om dit goed te keur omdat niemand in Suid-Afrika, van regters, direkteurs-generaal of ander staatsamptenare vanjaar verhogings gekry het nie. Hulle sou daardeur ’n verkeerde boodskap uitstuur. Hul fooie is egter verbysterend.

Intussen het adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, aan die komitee gesê dat die NVG soortgelyke vaardighede as die Zondo-kommissie se ondersoekers en getuienisleiers benodig om die komplekse staatskaping- en grootskaalse korrupsiesake suksesvol te kan vervolg.

“Die staat het tans ’n gebrek aan kapasiteit en vaardighede vir sulke tipe vervolging. As ’n mens sien wat dit die Zondo-kommissie tot dusver gekos het, kan jy net dink wat dit ons gaan kos. Dit is egter wat nodig is vir ons om diegene wat vir grootskaalse korrupsie verantwoordelik is, te kan vervolg. Ons kan egter nie die salarisse wat die Zondo-kommissie betaal, bekostig nie.”

Volgens haar sal die NVG binnekort met die Zondo-kommissie in gesprek tree oor hoe die vervolgingsowerhede van die kommissie se vaardighede en kapasiteit in sy vervolgings gebruik kan maak.

Batohi het gesê die NVG sal daarop fokus om die miljarde rande wat deur staatskaping gesteel is, te verhaal.

Meer oor:  Jacob Skosana  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.