Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Komitee hoor oor ‘kleiner, nuwe’ staatsdiens

Die hersamestellingsproses van die staatsdiens moet teen Maart 2020 afgehandel wees.

Dié proses, wat oor tien maande heen strek, het ten doel om die uitvoerende gesag en die staatsdepartemente te herkonfigureer.

Vordering is reeds gemaak met die totstandkoming van sekere ministeries, asook die herbenaming, samesmelting, verdeling, totstandkoming of afskaffing van sekere departemente, het die parlementêre portefeuljekomitee oor staatsdiens en administrasie Woensdag gehoor.

Senzo MchunuFoto: DAILY SUN

Dié proses volg nadat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede aangekondig het dat ’n hersiening van die grootte, samestelling en doeltreffendheid van die staatsdiens gedoen moet word.

Prof. Richard Levin, direkteur-generaal van die departement van staatsdiens en administrasie, het Woensdag ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee gedoen.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, was ook daar, maar het later die vergadering verlaat.

Mchunu het daarop gewys dat ’n vergadering vir 20 September met georganiseerde arbeid geskeduleer is. Die regering en arbeid sal op dié dag “alle kwessies bespreek wat verhoudinge tussen die twee partye kan raak”.

“Dit is sodat ons mekaar kan verstaan dat daar oor die volgende vyf jaar hierdie en hierdie in die administrasie sal wees, so laat ons onsself voorberei. Asook wat die moontlike oplossing is en hoe ons die hele skip van die staatsdiens en arbeid in Suid-Afrika in sy geheel sal navigeer,” het Mchunu gesê.

Levin het verduidelik dat die regering met die herstruktureringsproses verkwistende uitgawes wil uitsny en groter besparing wil verseker. Die regering is daartoe verbind om te verseker dat dié veranderinge staatsamptenare nie negatief sal raak nie.

Die herkonfigurasie behels die groepering van verwante funksies om duplisering te voorkom. Verskeie staatsdepartemente het reeds saamgesmelt.

Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika se aantal ministeries opgeblase voorkom vergeleke met onder meer Suid-Afrika se buurlande, asook die Brics-lande. Die internasionale vergelyking stel voor dat die ideale grootte van Suid-Afrika se uitvoerende gesag tussen 22 en 28 ministeries moet wees.

Suid-Afrika het nou 28 ministers en 39 adjunkministers.

Die aantal adjunkministers het vergeleke met 1994 “ongekende groei” van 164% in 2014 getoon. Levin het daarop gewys dat adjunkministers ingevolge die Staatsdienswet en die Wet op die Bestuur van Openbare Fondse nie die magte van die uitvoerende gesag het nie. “Baie min stukke wetgewing skryf magte aan adjunkministers voor.”

Solly Malatsi, DA-LP, het gesê die voorlegging ontbreek aan sekere besonderhede. Volgens hom word verwys na besprekings met arbeid. Hy wou weet hoe die proses die verkleining van die staatsdiens en die grootte van die salarisrekening sal raak.

Levin het hierop geantwoord: “Oor die gevolge van die vermindering van die aantal staatsamptenare is die raamwerk op die oomblik herorganisering. Dit is die werklikheid. Ons het nie ’n instrument vir personeelvermindering nie.

“Daar is ’n kwessie aangaande die salarisrekening en die bespreking met arbeid. Die minister het verwys na die vergadering op 20 September waarop groot interaksie hieroor sal wees, want ek dink hy het besef dit sal beter wees om oop te maak en om oor die kwessies te praat en te probeer om konsensus te bereik, as om goed af te dwing wat baie moeilik sal wees vir die samelewing op die oomblik.”

Levin het verder gesê hy dink op sekere gebiede sal daar teenstand wees.

“Dit is egter nie nou die dominante tema nie. Daar sal onvermydelik onderbrekings in dienslewering wees deur die proses van nasionale mikro-herkonfigurasie, maar dit is nog nie geïdentifiseer nie. Ek dink die grootse risiko is die bestuur van die verhoudinge met arbeid.”

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Senzo Mchunu  |  Staatsdiens  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.