Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Komitee kap terug ná Maynier-bewerings
David Maynier Foto: Argief

Die parlement se staande komitee oor finansies het Maandag teruggekap teen die uitsprake van die DA-parlementslid David Maynier dat dié komitee ondoeltreffend is om twyfelagtige beleggings deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) te ondersoek.

Maynier, DA-woordvoerder oor finansies en lid van dié komitee, sê in ’n verklaring die parlement behoort die bewerings te ondersoek dat dr. Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, ’n betaling van R4,5 miljoen gekry het omdat hy ’n lening van R210 miljoen van die OBK gefasiliteer het.

Die OBK bestuur R2 000 miljard se beleggingsgeld vir onder meer die staatspensioenfonds.

Lees ook: Bewerings van omkoopgeld is belaglig, sê Mkhize

Maynier sê die staande komitee oor finansies is heeltemal ondoeltreffend en hy gaan die bewerings oor Mkhize na die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) verwys.

Yunus Carrim, voorsitter van die staande komitee oor finansies, het egter teruggekap en gesê die komitee het oor die afgelope nege maande nege keer met die OBK vergader, meer kere as met enige ander entiteit wat binne sy portefeulje val. Dit wys duidelik die komitee se toewyding in sy wetgewende en toesigrol.

“Op ons laaste vergadering op 5 Junie het ons die OBK-direksie onder sy nuwe voorsitter, adjunkminister Mondli Gungubele, gevra om al die bewerings in die openbare domein te ondersoek en in die derde kwartaal aan die parlement verslag te doen.”

“David Maynier is nooit gekeer om enige vrae te vra nie, en die komitee kan hom ook nie verhoed om dit te doen nie.”

David Maynier is nooit gekeer om enige vrae te vra nie, en die komitee kan hom ook nie verhoed om dit te doen nie.
Yunus Carrim

Carrim sê die komitee het nie die tegniese en forensiese vermoë om bewerings teen individue of sakeondernemings te ondersoek nie. Die Valke en die nasionale vervolgingsgesag moet dit ondersoek en die howe moet oor die meriete daarvan besluit.

Hy meen Maynier is welkom om sy kommer oor die OBK na Skoor te verwys, maar Skoor het nie die mag om te besluit of iemand skuldig of onskuldig is nie en moet ook sake na die Valke en die strafregstelsel verwys.

Maynier sê hy gaan aan Themba Godi, voorsitter van Skoor, skryf om te vra vir ’n openbare sitting oor die bewerings van onreëlmatige betalings en twyfelagtige beleggings deur die OBK.

Benewens die bewerings van die betaling aan Mkhize moet Skoor ook die bewerings ondersoek van onreëlmatige betalings deur dr. Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, wat blykbaar nie deeglik genoeg ondersoek is nie, asook beleggings in AYO Technology Solutions, Steinhoff en die VBS Mutual Bank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.