Die interministeriële komitee wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangewys is, sal nie Covid-19-verwante kontrakte ondersoek nie, maar moet ’n verslag oor dié kontrakte en tenders saamstel.
Die regering het Sondag in ’n verklaring gesê hy wil verwarring oor die komitee uit die weg ruim.
“In teenstelling met sommige berigte is die ministeriële span nie daarvoor verantwoordelik om Covid-19-verwante kontrakte te ondersoek nie. Dit bly die taak van die betrokke wetstoepassers.”
Daar word eerder van die span ministers verwag om ’n volledige verslag saam te stel oor alle Covid-19-verwante tenders en kontrakte wat deur die nasionale en provinsiale regering en ander openbare instellings toegeken is. In die belang van deursigtigheid sal dit aan die publiek bekend gemaak word,” lui die verklaring.
Die taakspan sal eers ontbind as sy werk afgehandel is.
In teenstelling met sommige berigte is die ministeriële span nie daarvoor verantwoordelik om Covid-19-verwante kontrakte te ondersoek nie. Dit bly die taak van die betrokke wetstoepassers.
Ramaphosa het Donderdag aangekondig dat hy die komitee van ses ministers, onder leiding van Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, saamgestel het om die bewerings van korrupsie veral oor die verkryging van persoonlike beskermende toerusting te help ondersoek.
Senior ANC-lede en hul families is vroeër daarby betrek. Dit sluit Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko, en haar man in wat by ’n tender van R125 miljoen vir persoonlike beskermende toerusting in Gauteng betrek word. Dr. Bandile Masuku, die provinsie se LUR vir gesondheid, word ook hierby betrek. Diko en Masuku is albei op spesiale verlof daaroor.
Luidens die verklaring sal die werk van die spesiale ondersoekeenheid, wat deur Ramaphosa gemagtig is om enige korona-verwante ongerymdhede in staatsinstellings te ondersoek, voortgaan.
“Dit is benewens die stappe wat deur die nasionale tesourie gedoen is om verkrygingsregulasies te verskerp en die voortgesette werk van die ouditeur-generaal om alle Covid-19-uitgawes te oudit.
“Die regering meen dat die samestelling en publikasie van die inligting nodig is om groter aanspreeklikheid en deursigtigheid te bevorder.”
Die verklaring benadruk dat enigeen wat skuldig is aan misdadige aktiwiteite vervolg sal word.
• Die komitee bestaan uit Lamola, Jackson Mthembu, minister in die presidensie, Tito Mboweni, minister van finansies, Bheki Cele, minister van polisie, Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.