Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Komitee oor Grondwet ‘wil nie in ’n hoek gedruk wees’

LP’s het tot einde Maart aanstaande jaar om konsepwetgewing te skryf om art. 25 van die Grondwet – die eiendomsklousule – te wysig om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.

Die veelparty parlementêre ad hoc-komitee wat hiermee gemoeid is, behoort hulle egter nie deur dié sperdatum in ’n “hoek te laat dryf” nie omdat die produk van dié komitee die “toets van die tyd sal moet deurstaan”.

Dr. Mathole MotshekgaFoto: GCIS

Dit was Woensdag die woorde van Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee, wat dié proses moet dryf.

Die komitee het Woensdag vir die tweede keer vergader en die proses van die komitee deurtrap.

Motshekga het voorgestel dat die eerste stap van die komitee moet wees om ’n werksessie onder leiding van ’n afgetrede regter te hê.

Kenners, waaronder prof. Ruth Hall en emeritus-prof. Ben Cousins, verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, prof. Quinton Johnson van Nelson Mandela-Universiteit, regters Albie Sachs, Dikgang Moseneke, Sandile Ngcobo en Johann Van der Westhuizen, adv. Themba Ngcukaitobi, die Nasionale Vereniging van Demokratiese Prokureurs (Nadel), die Black Lawyers Association, Agri SA, die Khoi-gemeenskap, tradisionele konings en koninginne behoort volgens hom voorleggings te maak. Die lys is egter nie volledig nie en komiteelede kan nog voorstelle maak.

Motshekga het gesê die komitee moet sy werk teen 31 Maart aanstaande jaar afhandel.

“Ons gaan egter met die leierskap van die parlement in gesprek tree dat ons nie onsself in ’n hoek moet dryf nie, want wat ons hier produseer moet die toets van die tyd deurstaan. Miskien kan ons aanbeveel dat die proses op of voor einde Junie afgehandel moet wees . . .” het Motshekga gesê.

Glynnis Breytenbach, DA-LP, het voorgestel dat oudpres. Kgalema Motlanthe ook genooi word om die komitee toe te spreek oor sy hoëvlak verslag na onder meer grondhervorming, en dat adv. Wim Trengove SC ook by die lys gevoeg moet word.

Dr. Corne Mulder, VF Plus-hoofsweep, het met Motshekga saamgestem dat daar nie noodwendig op die huidige sperdatum van 31 Maart gefokus moet word nie. “Ek dink ons moet die nodige tyd neem, want ons almal weet dat dié kwessie wat die Grondwet en die Handves van Menseregte raak, onderhewig gestel sal word aan noukeurige ondersoek wat groter is as die parlement,” het hy gesê.

Floyd Shivambu, EFF-onderleier, het kennis geneem van die voorstel vir ’n werksessie, maar het daarop gewys dat die mandaat van die komitee per die resolusie van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies is dat die Grondwet gewysig moet word om toe te laat vir onteiening sonder vergoeding.

“Dit is waaraan ons nou werk. Ons kan vir lank teoretiseer en filosofeer, maar ons het ’n konsepwetsontwerp nodig wat die bewoording moet wees vir uitdrukking in die Grondwet.”

Mandla Mandela, ANC-LP, het voorgestel dat die godsdiensgemeenskap ook betrek word. Die NG Kerk byvoorbeeld, besit “groot stukke grond” en hulle behoort ook insette te lewer, asook die Huis van Tradisionele Leiers en die Khoi- en San-gemeenskap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.