Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Komitee wat Grondwet moet wysig, weer aangestel

Die parlement se ad hoc-komitee wat die omstrede wysiging van art. 25 van die Grondwet moet ondersoek om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, gaan hersaamgestel word.

En dié keer moet sy werksaamhede – openbare konsultasies ingesluit – ten spyte van die beperkinge wat met die Covid-19-pandemie gepaardgaan teen einde vanjaar voltooi wees.

Dít is die besluit van Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), en Lechesa Tsenoli, adjunkspeaker, oor die lot van die komitee.

Tsenoli het bogenoemde Donderdag op ’n aanlyn sitting van die NV se programmekomitee, waarvan hy en Modise voorsitters is, bekend gemaak dat politieke partye in die parlement reeds van die besluit in kennis gestel is.

Die komitee, wat in Februarie vanjaar begin het om landwyd openbare sittings te hou oor sy voorgestelde wysigings, het amptelik op 31 Mei ontbind.

Dit moes teen die spertyd ’n nuwe voorgestelde weergawe van art. 25 van die Grondwet aan die parlement voorlê.

Dr. Mathole Motshekga, wat voorsitter van die vorige ad hoc-komitee was, het toe gesê dat dit weens die Covid-19-pandemie nie in staat was om sy werk te kon voltooi nie. Dit omdat openbare sittings nog in die Wes-Kaap en Limpopo moes gehou word.

“Ons het terugvoering van ’n wye verskeidenheid van mense met verskillende menings oor hierdie baie emosionele aangeleentheid (tydens die openbare sittings) gekry,” het Motshekga toe in ’n verklaring gesê.

Politieke partye in die programmekomitee het verlede week ook uiteenlopende menings gehad oor of die ad hoc-komitee weer saamgestel moet word of nie. Modise wou toe eers met Tsenoli daaroor beraadslaag voordat hulle ’n besluit oor die lot van die ad hoc-komitee sou neem.

Tsenoli het Donderdag op ’n aanlyn sitting van die programmekomitee gesê Modise het verlede week onderneem om konsultasies te doen.

“Dit is gedoen en daar is besluit dat die ad hoc-komitee hersaamgestel moet word en dat dit sy werk teen die einde van die parlementêre termyn moet voltooi, met ander woorde in November/Desember vanjaar wanneer ons toemaak.”

Volgens Tsenoli moet ’n spesifieke sperdatum nog vasgestel word.

“Die algemene gevoel was dat dit nie van pas sou wees dat die ad hoc-komitee se werksaamhede nog vir langer as vanjaar moet aangaan nie.

“Gegewe die omstandighede waaronder ons tans werk, is daar metodes wat die hersaamgestelde ad hoc-komitee moet ondersoek om openbare kommentare te doen in die twee uitstaande provinsies. Daar moet na metodes gekyk word om te verseker dat daar voldoende openbare konsultasies is om die werk van die komitee af te handel sodat ons ’n finale besluit oor die saak kan maak,” sê Tsenoli.

Veronica Mente, EFF-LP, het in die sitting Donderdag gesê die EFF het intussen ’n brief oor die aangeleentheid aan Modise gerig.

Modise het ontvangs van die brief erken en belowe dat sy teen volgende week daarop sal antwoord. “Dit is egter ’n baie belangrike debat waarin alle partye eers in ag geneem moet word,” sê Modise.

Meer oor:  Mathole Motshekga  |  Grondhervorming  |  Grondwet  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.