Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Komitees vra volle ondersoek na water en sanitasie
Nomvula Mokonyane, voormalige minister van water en sanitasie, is met Maandag se kabinetskommeling as die minister van kommunikasie aangewys. Foto: Jaco Marais
Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).Foto: Lindile Mbontsi
Gugile Nkwinti is Maandag aangewys as die minister van water en sanitasie. Foto: Lisa Hnatowicz

Nadat amptenare van die departement van water en sanitasie herhaaldelik nie vrae oor verkwiste en onreëlmatige besteding kon beantwoord nie, kan hulle strafregtelike klagte in die gesig staar.

Die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het Dinsdag bevestig dat hy die portefeuljekomitee oor water en sanitasie se beroep op ’n volle parlementêre ondersoek na die departement steun.

“Dié departement het ’n lang geskiedenis van onstabiliteit en finansiële wanbestuur, en Skoor het onderneem om ’n strafsaak te open oor die R2,9 miljard se oortrekkingsgerief wat die departement met die Reserwebank het,” sê Themba Godi, Skoor-voorsitter, in ’n verklaring.

“Die komitee het ook besluit om met die nasionale tesourie in gesprek te tree oor die oortrekkingsgerief.”

Dit kom nadat Skoor Dinsdagoggend ’n sitting sou hou waarin amptenare moes kom verduidelik oor onreëlmatige en verkwiste besteding.

Skoor het dié sitting kortgeknip weens die versuim van amptenare om komiteelede se vrae te beantwoord. Dit is die derde keer dat amptenare van dié departement voor Skoor verskyn het nadat hulle met die vorige twee verskynings ook nie vrae beantwoord het nie.

Godi sê die komitee is bekommerd daaroor dat gewone Suid-Afrikaners ly onder die “onbestendigheid en wanbestuur in die departement”, in ’n land waar waterbronne onder druk is.

“In werklikheid laat minister Nomvula Mokonyane ’n departement agter wat heeltemal ineengestort het. Dit is kommerwekkend dat sy nou die kommunikasieminister word in ’n tyd dat die SAUK begin herstel,” lui die verklaring.

Helen Zille, Wes-Kaapse premier. Foto: Jaco Marais

Gugile Nkwinti, voormalige minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het in Maandag se kabinetskommeling die nuwe minister van water en sanitasie geword, met Mokonyane wat na die departement van kommunikasie oorgeplaas word.

Intussen het die Wes-Kaapse regering dié stap teen die “bankrot departement van water en sanitasie” verwelkom en hulp aangebied met die parlementêre ondersoek.

Helen Zille, Wes-Kaapse premier, sê die wanbestuur in die departement het ’n “hewige uitwerking” op watersekerheid en die lewering van waterinfrastruktuur in die Wes-Kaap en elders in die land gehad.

“Hoewel die lewering van grootmaat-waterinfrastruktuur onder sy mandaat val, het die departement nie geld vir aanvullingsprojekte in die krisis beskikbaar gestel nie omdat die tesourie ná ’n rampspoedige ouditmening letterlik die geldkrane toegedraai het.”

As gevolg van die geldtekort moes die Kaapse stadsraad self inspring om alternatiewe waterbronne te ontgin, wat sowat R5,9 miljard oor vyf jaar sal kos, volgens Zille.

Die provinsiale regering het ook R369 miljoen van sy begroting sedert die 2015-’16-boekjaar aan noodleniging bestee.

“Vir elke hoërisiko-munisipaliteit in die Wes-Kaap is daar ’n mislukte, vertraagde of gestaakte waterprojek van die departement.”

Zille het ook verwys na die bouwerk om die Clanwilliamdam se wal te verhoog wat van 2013 tot 2018 sou plaasvind en waarvoor R2 miljard begroot is.

Bonginkosi Madikizela, DA-leier in die Wes-Kaap. Foto: Lindile Mbontsi

“Die departement het onlangs aangedui dat hy nie meer geld vir dié projek het nie, ondanks die bouwerkers wat al sedert 2014 in Clanwilliam sit teen ’n koste van meer as R100 miljoen tot op hede.”

Bonginkosi Madikizela, DA-leier in die Wes-Kaap, het Donderdagmiddag ook die beroep op ’n ondersoek na die departement verwelkom.

“Dit is ’n baie belangrike stap in die proses om die departement verantwoordbaar te hou vir die versuim om waterinfrastruktuur te bou en te onderhou, sowel as om bykomende finansiering vir die droogte te bied.”

Volgens Madikizela is onreëlmatige en verkwiste besteding deur die departement is ’n “regstreekse aanval op die mense van die Wes-Kaap”, wat met die ergste droogte sedert 1906 worstel.

“Die DA-geleide Wes-Kaapse regering doen al sedert 2009 ’n beroep op ’n toename in watervoorsiening op grootmaat.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.