Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kommer oor Harith se bande met ANC, OBK – DA

Die noue bande tussen die finansierder van die konsortium wat die beherende aandeel in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) neem, die ANC en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wek kommer.

Só het die DA gesê ná die aankondiging Vrydagoggend deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, dat die konsortium bekend as Takatso 51% van die aandele in die SAL koop, terwyl die regering 49% van die aandele sal besit.

Die maatskappy Harith sal die konsortium finansier.

Alf Lees, DA-lid van die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge, sê daar is ’n “oormaat van kommer” oor die transaksie.

Die DA is bekommerd oor die noue bande tussen Harith, die ANC en die OBK.

Jabu Moleketi Foto: Alet Pretorius

Jabu Moleketi is die voorsitter van Harith. Hy is ’n oudvoorsitter van die OBK en was adjunkminister van finansies toe ’n konsessie van R17 miljoen in 2006 aan Harith betaal is, sê Lees.

“Dit is opmerklik dat wanneer die ANC in openbare-private vennootskappe betrokke raak, dit altyd hoë kokkedore in die ANC is wat die meeste voordeel trek.”

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, sê Solidariteit deel dié kommer oor die noue bande tussen Harith en die OBK.

Daarom sal Solidariteit fyn dophou hoe die proses ontvou, sê hy.

Lees sê hoewel die DA nog altyd gevra het die SAL moet geprivatiseer word, vrees hy die aankondiging het dalk te laat gekom om die bankrot lugdiens te red.

Die DA is baie bekommerd dat die konsortium eers ’n omsigtigheidsondersoek moet aanpak voordat die transaksie afgehandel sal word.

“Dit is kommerwekkend in die lig van die feit dat minister Gordhan vol vertroue is dat die konsortium R3 miljard in kapitaal sal voorsien om nuwe lewe in die SAL te blaas.

“Duidelikheid is nodig oor wat sal gebeur as die konsortium se transaksie nie suksesvol is nie,” sê Lees.

Hy sê daar is ook onduidelikheid oor die moontlike notering van die SAL.

“Daar is ook kommer oor die dogtermaatskappy van die SAL en in besonder Mango.”

Dit is ook nog nie duidelik of die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies behoorlik nagekom is toe daar op ’n strategiese ekwiteitsvennoot besluit is nie.

Die ANC se parlementêre koukus het die aankondiging verwelkom en gesê hy ondersteun dié “strategiese stap” ten volle.

Mulder sê Solidariteit verwelkom die verkoop van die beherende aandeel in die SAL.

“Van die begin af het Solidariteit dit onomwonde gestel dat private eienaarskap die enigste denkbare pad vorentoe vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens is. Trouens, in sakeplanne vervat in Solidariteit se sakereddingshofstukke was dit duidelik dat die uiteinde van enige sakereddingsproses ’n strategiese ekwiteitsvennoot moet wees,” sê Mulder.

Die National Union of Mineworkers (NUM) en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) het die regering daarvan beskuldig dat hy nie deursigtig was oor die proses nie. Hulle sê in ’n gesamentlike verklaring hulle het in die media van die besluit kennis geneem.

Die ANC-koukus het op sy beurt gesê hy verwelkom die besluit oor die SAL en pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Donderdag dat die drempel vir selfopwekking van krag sonder ’n lisensie van 1 megawatt (MW) tot 100 MW gelig is. Hy sê dit is “dapper besluite”.

“Ons verwelkom dié verwikkelinge omdat dit dui op die vooruitgang wat gemaak word op ons pad na herstel.”

Carl Niehaus, woordvoerder van die radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie in die ANC, het egter gesê die aankondiging oor die privatisering van die SAL is “baie slegte nuus” en die mense van die land verloor nou die beheer oor hul ekonomiese lot. “Ons word nou uitverkoop: romp en stomp, die hele boedel!”

Die Inkatha Vryheidsparty het die aankondiging verwelkom.

Meer oor:  Da  |  Harith  |  Anc  |  Obk  |  Jabu Moleketi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.