Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kommer oor inenting-komitee onder leiding van Mabuza

Kommer heers dat besluitneming én dienslewering gekniehalter kan word weens die baie ministers wat in die interministeriële komitee (IMK) vir Suid-Afrika se Covid-19-entstofprogram dien.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Verenig (Sama), wat dokters landwyd verteenwoordig, het Woensdag dié kommer uitgespreek in reaksie op die IMK, onder leiding van adj.pres. David Mabuza, wat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag aangekondig het.

Ramaphosa en sy kabinet het Dinsdag ook ’n spesiale aanlyn vergadering gehou waartydens die stigting van die IMK goedgekeur is “om te help met vinnige besluitneming van alle relevante departemente wat gaan bydra tot die gladde implementering van die entstofprogram”.

Die IMK sal weekliks vergader om verslae te ontvang en in te gryp by enige probleme wat tydens die implementering van die entstofprogram mag ontstaan.

Ramaphosa het Dinsdag gesê dat hy die eerste vergadering van die IMK sal lei.

Vinnige besluitneming mag gekniehalter word met die groot aantal ministers wat in die IMK dien.

Ministers wat in die IMK dien, is dr. Zweli Mkhize (gesondheid), Tito Mboweni (finansies), dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (samewerkende regering en tradisionele sake), Jackson Mthembu (presidensie), Nosiviwe Mapisa-Nqakula (verdediging en militêre veterane), Bheki Cele (polisie), Ayanda Dlodlo (staatsveiligheid), dr. Blade Nzimande (hoër onderrig, wetenskap en innovering), Pravin Gordhan (openbare ondernemings), dr. Aaron Motsoaledi (binnelandse sake), Senzo Mchunu (staatsdiens en administrasie), Ebrahim Patel (handel, nywerheid en mededinging), Lindiwe Zulu (maatskaplike ontwikkeling) en dr. Naledi Pandor (internasionale betrekkinge en samewerking).

Intussen het dr. Angelique Coetzee, Sama-voorsitter, Woensdag namens dié vereniging gesê dat daar kennis geneem is van die name van die talle ministers wat in die interministeriële komitee sal dien.

Al dié ministers dien ook in die nasionale koronavirusbevelsraad.

“Vinnige besluitneming mag gekniehalter word met die groot aantal ministers wat in die IMK dien.

“ ’n Kleiner IMK wat toesig oor die entstofprogram kan hou en terugrapporteer aan die groter nasionale koronavirusbevelsraad, sou dalk van groter waarde wees.

“Dit is ’n lomp IMK wat ook dienslewering kan kniehalter,” het Coetzee bygevoeg.

Intussen het Herman Mashaba, ActionSA-president, Woensdag ook Mabuza se leiding van die IMK skerp gekritiseer.

“Mabuza was die afgelope twee jaar voorsitter van die taakspan wat Eskom moet regruk. Die aankondiging van sy leierskap van die entstofprogram terwyl Suid-Afrikaners deur maande van beurtkrag in die gesig gestaar word, wek nie vertroue nie.

Met ons ekonomiese krisis en gesondheidstelsel wat oorweldig is, kan ons nie die tipe onbevoegdheid en korrupsie bekostig wat ons regdeur die regering se hantering van die Covid-19-pandemie gesien het nie.

“ActionSA glo die beste skuif wat die regering nou kan maak, is om ’n span van die beste breine in ons land aan te stel om die inentingspogings te lei, en vir politici om uit die pad te bly.

“Met ons ekonomiese krisis en gesondheidstelsel wat oorweldig is, kan ons nie die tipe onbevoegdheid en korrupsie bekostig wat ons regdeur die regering se hantering van die Covid-19-pandemie gesien het nie,” het Mashaba gesê.

Sy kritiek kom nadat die DA Dinsdag ook sy ontevredenheid uitgespreek het dat Mabuza die IMK lei, omdat hy nie ’n “bevoegde en betroubare figuur” is nie.

Intussen het dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder aan die Nelson Mandela-Universiteit, Woensdag gesê dat politici se kommer en kritiek oor Mabuza wat die IMK lei, eg is, veral omdat sy gesondheid en beskikbaarheid in die verlede al betwyfel is.

“Hy is egter deur die president as IMK-voorsitter aangestel om strategiese en politieke leierskap te verleen, veral met die gebruik van staatshulpbronne vir die entstofprogram. Hy en die res van die IMK sal op operasionele vlak deur kundiges en wetenskaplikes geadviseer word.”

Meer oor:  David Mabuza  |  Inenting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.