Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kommer oor nuwe regulasies oor vlugtelinge

Nuwe regulasies sal verseker dat net opregte asielsoekers en vlugtelinge Suid-Afrika voortaan sal binnekom én die immigrasiestelsel teen misbruik beskerm, meen die parlement.

Adv. Bongani Bongo, voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake, het dít gesê toe hy die nuwe regulasies namens dié komitee Donderdagaand in ’n verklaring verwelkom het.

Die Wysigingswet op Vlugtelinge, met die nuwe regulasies, is onlangs in die Staatskoerant gepubliseer en het op 1 Januarie in werking getree.

Die Scalabrini-sentrum in Kaapstad meen egter dit sal nie die integriteit van die stelsel versterk óf huidige probleme daarmee oplos nie. Die sentrum – wat hom beywer vir die regte van immigrante en vlugtelinge – het ook reeds dringend aan dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, geskryf oor ’n spesifieke bepaling in die regulasies wat “ernstige gevolge kan hê”.

Bongo meen egter die doel daarvan is om die land se immigrasiestelsel te versterk én dit word nie vir “afstootlike” redes gemanipuleer nie.

Adv. Bongani BongoFoto: Daily Sun

Die komitee het ’n beroep op die departement van binnelandse sake gedoen om sy werknemers behoorlik oor die nuwe regulasies op te lei sodat dit ten volle geïmplementeer kan word.

Bongo het ook doemprofete gekritiseer wat die nuwe regulasies kritiseer, maar nie ander en lewensvatbare keuses verskaf nie.

Hy meen die nuwe regulasies het drie doelwitte, naamlik om die “soewereiniteit en veiligheid van die gasheerland te verseker, die regte van vlugtelinge en asielsoekers te beskerm en om internasionale verpligtinge waarvan Suid-Afrika ’n ondertekenaar is, te ondersteun”.

Die komitee glo ook baie sterk dat dit korrupsie en bedrog sal afskrik.

“Die voorgeskrewe vereistes sal die aansoekproses om die land binne te kom versterk, veral die vereiste dat die aansoekers geldige transito-visums vir asiel van die land waardeur hulle gereis het by die Suid-Afrikaanse grenspos waar hulle inkom, moet voorlê. Aansoekers sal ook geldige identifikasie en biometriese data moet verskaf,” het Bongo gesê.

Intussen het Sally Gandar, hoof van voorspraak by die Scalabrini-sentrum, Vrydag gesê die sentrum verskil sterk van Bongo oor sy kritiek en interpretasie van die regulasies.

“Die verhoogde beperkinge, breër lys van gronde vir die beëindiging van vlugtelingstatus en onttrekking óf uitsluiting van asiel is waarskynlik ook ultra vires en strek buite die bestek van internasionale wetgewing oor vlugtelinge, terwyl dit ook Suid-Afrika se Grondwet en menseregte van vlugtelinge ondermyn.”

Sy het bygevoeg dat die departement van binnelandse sake ook geen van die kommer en praktiese voorstelle van verskeie burgerlike organisasies in die nuwe regulasies in ag geneem het nie.

“Ons glo dat die portefeuljekomitee in sy toesighoudende rol ewe besorg moet wees oor die wyse waarop hierdie regulasies swakhede in die asielstelsel kan vererger en gevolglik die koste van die departement, wat waarskynlike regskoste sal insluit, kan verhoog.

“Verder as om die asielstelsel ’n veiliger stelsel te maak, verwyder die wysigings ook aanspreeklikheidsmeganismes met betrekking tot departementele amptenare soos die 180-dae-periode vir die verwerking van asielaansoeke en hul ander pligte, terwyl dit geleenthede vir korrupsie kan verhoog en opregte asielsoekers in ’n ongedokumenteerde staat kan dwing,” het Gandar bygevoeg.

Meer oor:  Bongani Bongo  |  Vlugtelinge  |  Asielsoekers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.