Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kommissie dien strafregtelike klag teen Zuma in

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het die sekretaris van die Zondo-kommissie opdrag gegee om ’n strafregtelike klag teen oudpres. Jacob Zuma by die polisie in te dien.

Zondo het Maandag op ’n sitting van die kommissie aangekondig dat die kommissie op ’n dringende grondslag ook ander stappe teen Zuma gaan doen.

Dit kom nadat Zuma Donderdag sonder toestemming ’n sitting van die kommissie in die teepouse verlaat het, hoewel hy gedagvaar is om verlede week hier te getuig.

Oudpres. Jacob Zuma het verlede week voor regter Raymond Zondo by die Zondo-kommissie verskyn. Foto: Melinda Stuurman

Zuma was ontevrede dat sy aansoek van die hand gewys is dat Zondo homself as voorsitter van die kommissie moet onttrek.

Voor die teepouse het adv. Paul Pretorius, hoof van die kommissie se regspan, dit duidelik gestel dat Zuma nie homself mag verskoon nie omdat die dagvaarding steeds geldig is.

Ingevolge die Wet op Kommissies is iemand wat gedagvaar is om voor ’n kommissie te verskyn en nie teenwoordig is nie, tensy hy deur die voorsitter verskoon is, skuldig aan ’n oortreding.

Zondo het Maandag gesê Zuma se optrede raak die integriteit van die kommissie, die oppergesag van die reg en openbare aanspreeklikheid.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het die sekretaris van die Zondo-kommissie opdrag gegee om ’n strafregtelike klag teen oudpres. Jacob Zuma by die polisie in te dien. Foto: Melinda Stuurman

Boonop kan sy optrede ’n boodskap stuur dat getuies wat nie gemaklik is om voor die kommissie te verskyn nie, kan “kom en gaan nes hulle wil”.

“As dit sou gebeur, sal die kommissie nie operasioneel kan wees nie. Daarom is dit belangrik vir die doeltreffende funksionering van die kommissie dat sy optrede in pas is met die wet.”

Benewens die klagte teen Zuma, het Zondo ook die sekretaris van die kommissie opdrag gegee om alle relevante inligting oor die kwessie aan die nasionale vervolgingsgesag beskikbaar te stel.

Die kommissie wil ook ander datums vasstel vir wanneer Zuma voor die kommissie moet verskyn. Die sekretaris van die kommissie sal ’n dagvaarding daarvoor uitreik en dit op Zuma laat bedien.

Oudpres. Jacob Zuma het die kommissie-sittting sonder toestemming verlaat. Foto: Melinda Stuurman

Die kommissie sal ook ’n dringende aansoek by die konstitusionele hof indien om ’n bevel teen Zuma uit te reik wat hom sal dwing om voor die kommissie te verskyn in oorleg met die dagvaarding.

’n Bevel sal ook gevra word om Zuma te dwing om beëdigde verklarings in te dien.

“Die kommissie is baie duidelik oor watter stappe gedoen sal word. En daardie stappe sál gedoen word, op ’n dringende grondslag,” het Zondo gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.