Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Komplot-beweringe ‘kwaadwillige skinderpraatjies’

Die ANC ontken ten sterkste beweringe van ’n sameswering teen pres. Cyril Ramaphosa, maar Jackson Mthembu, die party se hoofsweep, sê die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) moet dringend aandag gee aan dié onthulling.

Die Sunday Times het Sondag berig daar is ’n sameswering deur die sogenaamde premierliga in die ANC – wat oudpres. Jacob Zuma steun – teen Ramaphosa, die ANC-president en staatshoof.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: Argief

Die ANC het die beweringe Sondagmiddag laat as “sensasionele twak” verwerp en dit as “kwaadwillige skinderpraatjies” afgemaak.

Die party sê hy sal nie “waardigheid aan dié blatante leuens en versinsels verleen nie”.

Die Sunday Times het geskryf Zuma, Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, Supra Mahumapelo, uitgeskopte premier van Noordwes, Meokgo Matuba, sekretaris-generaal van die ANC-vroueliga, en Thanduxolo Sabelo, sekretaris van die ANC-jeugliga in KwaZulu-Natal, het glo Donderdag in die Elangeni-hotel in Durban vergader.

Matuba en Sabelo het die berigte oor die beweerde vergadering Sondag ook ten sterkte ontken.

Mthembu het Sondag op Twitter gesê so ’n beweerde sameswering kan die eenheid, en pogings om vernuwing in die ANC te bring, ondermyn.

Dit is volgens hom “betreurenswaardig” dat die naam van Magashule as sekretaris-generaal genoem word as een van die betrokkenes.

Dit is ook kommerwekkend dat die sameswering die staat se pogings ondermyn om staatskaping te beveg en die invloed daarvan om te keer.

Mthembu sê hy is ook bekommerd dat dit die ANC se kanse in volgende jaar se algemene verkiesing kan ondermyn en benadeel.

Luidens die Sunday Times-berig het bronne in Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, gesê in Magashule se dagboek is aangeteken hy was Donderdag in Bloemfontein.

Volgens ooggetuies het Zuma glo eers met Magashule en Mahumapelo vergader voordat hy ook met die res van die groep gepraat het.

Die foto van Ace Magashule (links), Supra Mahumapelo, vorige premier van Noordwes, oudpres. Jacob Zuma en Meokgo Matuba, sekretaris-generaal van die ANC-vroueliga, is na bewering Donderdag in die Elangeni-hotel in Durban geneem. Foto: Sunday Times

Nóg ’n vergadering is Vrydag in die Beverley Hills-hotel in Umhlanga gehou waarby Magashule, Mahumapelo en Dudu Myeni, die vorige voorsitter van die SAL-raad, was. Zuma het nie dié vergadering bygewoon nie.

Die Zuma-groep is glo bekommerd dat sy politieke mag swakker is nadat die ANC Mahumapelo se provinsiale uitvoerende komitee in Noordwes ontbind het.

Die groep meen dié stap kan sy kanse knou om die ANC te dwing om ’n nasionale konsultatiewe konferensie byeen te roep om van Ramaphosa ontslae te raak.

Op die vergadering in die Elangeni-hotel is ’n terugvegpoging van die Zuma-faksie glo bespreek.

Dit sluit in moontlike hofstappe waarin die uitslag van die verkiesing op verlede jaar se nasionale konferensie van die ANC in Nasrec, Johannesburg, bevraagteken word.

Al ontken hulle dat sulke klandestiene vergaderings plaasgevind het, wil dié groep ’n boodskap aan die ANC stuur dat hy moet herbesin. Hulle poog ook om die stemming binne die ANC teen Ramaphosa te laat draai.

Die groep beweer daar was voor die verkiesing grootskeepse ongerymdhede op takvlak waar besluit is watter afgevaardigdes na die Nasrec-beraad moes gaan. Hulle sê ’n groot aantal afgevaardigdes was onwettig op die konferensie.

Die ANC sê in sy verklaring Magashule is, soos die ander leiers in die party, gefokus daarop om die opdragte van die party se nasionale konferensie uit te voer om eenheid in die ANC te bevorder.

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, sê die beweerde klandestiene vergadering wys die Zuma-groepering raak desperaat.

Dit wys ook baie moeilikheid lê vir Ramaphosa voor.

“Aan die een kant het hy die groot ekonomiese uitdagings in die land, en andersyds moet hy ook baie bekommerd wees oor wat in die ANC aan die gang is,” sê hy.

Mathekga sê die groep rebelle besef hul posisie in die ANC sal verswak wees as die ANC volgende jaar in die algemene verkiesing ’n groot oorwinning behaal.

Ramaphosa sal die eer daarvoor kry.

“Al ontken hulle dat sulke klandestiene vergaderings plaasgevind het, wil dié groep ’n boodskap aan die ANC stuur dat hy moet herbesin. Hulle poog ook om die stemming binne die ANC teen Ramaphosa te laat draai.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.