Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Koop van onwettige sigarette lei nie noodwendig tot misdaadrekord

Rokers sal steeds in hegtenis geneem word as hulle gedurende die staat van inperking onwettig sigarette koop, maar hulle sal nie noodwendig ’n misdaadrekord daarvoor kry nie.

So het Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag in die Nasionale Raad van Provinsies gesê toe hy en ander ministers in die kabinet se veiligheidsgroep LP’s se vrae mondelings beantwoord het.

Bheki Cele Foto: SON

Oor die koop van sigarette het Cele gesê ’n hof het onlangs bevind dit is nog onwettig tydens die inperking.

Hy het hier verwys na die hooggeregshof in Pretoria wat Vrydag ’n dringende aansoek van die Fair Trade Tobacco Industry (Fita) teen die regering daaroor van die hand gewys het.

Cele het gesê ’n volbank regters het nou besluit dit is steeds onwettig en nie net die regulasies nie.

“So, as ’n hof bevind het dit is verkeerd om sigarette te koop en mense doen dit steeds, pleeg hulle ’n misdaad. Dit is omdat mense wetend doen wat hulle nie veronderstel is om te doen nie.”

Cele het saamgestem so ’n oortreding behoort nie vir gewone Suid-Afrikaners tot ’n misdaadrekord te lei nie.

Volgens hom het Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, reeds die polisie daaroor genader “om te kyk hoe verhoed kan word dat gewone mense ’n misdaadrekord daarvoor kry”.

Hy het dit egter duidelik gemaak dat geharde misdadigers en georganiseerde kartelle, wat sigarette in groot maat die land insmokkel, se misdaadrekord nie oorgesien sal word nie.

Cele het ook aan LP’s gesê 276 607 Suid-Afrikaners is van die begin van die inperking af tot 19 Junie weens die verbreking van die regulasies in hegtenis geneem.

Hy het bygevoeg dat die nie-nakoming van die regulasies veral sedert die begin van vlak 3 op 1 Junie al hoe erger geraak het. Hy het dit duidelik gemaak dat veral die hervatting van die verkoop van drank ook grootliks daartoe bygedra het, “omdat dronk mense nie by regulasies hou nie”.

Intussen moes Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, gedurende die vrae-en-antwoordsessie ook bontstaan met antwoorde vir LP’s wat haar met vrae gepeper het oor die hardhandige optrede van soldate en ander wetstoepassers teenoor landsburgers tydens die inperking.

LP’s het gehoor dat dit gelei het tot 33 klagte by die militêre ombudsman, terwyl dit ook tot die dood van Collins Khosa in Alexandra, Johannesburg, gelei het.

So, as ’n hof bevind het dit is verkeerd om sigarette te koop en mense doen dit steeds, pleeg hulle ’n misdaad. Dit is omdat mense wetend doen wat hulle nie veronderstel is om te doen nie.

Mapisa-Nqakula het herhaal dat sy haar kop in skaamte laat sak vir sulke optrede.

Volgens haar is intussen ná ’n hofbevel stappe gedoen om veral soldate se gedrag in gemeenskappe te reguleer.

Oor Khosa het sy gesê die polisie ondersoek sy dood in samewerking met die militêre polisie, asook ’n raad van ondersoek én die militêre ombudsman.

Alle betrokkenes is volgens haar intussen geskors.

Volgens haar moet vir verdere optrede op die uitslae van die ondersoeke gewag word.

Mapisa-Nqakula sê die polisie ondersoek ook in ander gevalle misdadige optrede deur soldate, terwyl talle ander soldate ook amptelike waarskuwings vir minder ernstige oortredings opgelê is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.