Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kopane is DA in Vrystaat se premierskandidaat

Die ANC en korrupsie is in dieselfde “WhatsApp-groep”. Die ANC is nie ’n regering nie, maar ’n mafia, ’n sindikaat, wat die Vrystaat drooggeplunder en gekaap het.

So het Mmusi Maimane, DA-leier, Dinsdag in die Ramkraal-tronk in Bloemfontein teen die ANC uitgevaar toe hy Patricia Kopane, die DA se Vrystaatse leier, as die amptelike premierskandidaat vir die provinsie in die 2019-verkiesing bekend gestel het.

Hy het gesê staatskaping in die Vrystaat is sigbaarder as gevolg van die arrogansie van Ace Magashule, voormalige premier. “Die enigste manier om die ANC te dissiplineer is om hom uit te stem.”

Mmusi Maimane, DA-leier, en Patricia Kopane, die Vrystaatse DA-leier, wat dié party se premierskandidaat vir die 2019-verkiesing is.Foto: Mlungisi Louw

Maimane sê die ANC se leiers hoort almal in hegtenis geneem te word sodat hulle voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping kan verskyn.

“Dink net, as hulle almal in die tronk is, sal daar geen korrupsie meer wees nie,” het hy met ’n breë glimlag gesê.

“Magashule is die sekretaris-generaal van die Guptas,” het hy gesê.

“Onder sy bewind is van die Vrystaat by die Vredesuiwel-melkplaas gesteel om vir ’n Gupta-troue te betaal, waar swart mense nie toegelaat was om kelners te wees nie.

“Diefstal is gepleeg vir mense wat rassisme openbaar.”

Mmusi Maimane, DA-leier, stel Patricia Kopane, die DA se Vrystaatse leier, Dinsdag bekend as dié party se premierskandidaat vir die Vrystaat in die 2019-verkiesing. Foto: Mlungisi Louw
Mmusi Maimane, DA-leier, Dinsdag voor die Ramkraal-tronk, ’n erfenisgebou in die Vrystaat. Die ANC het R120 miljoen hier laat “verdwyn” in ’n projek waarin hy veronderstel was om ’n nuwe wetgewergebou vir die Vrystaat hier op te rig, sê hy. Foto: Mlungisi Louw

Maimane het gesê die ANC het ook R120 miljoen “vir die historiese Ramkraal-tronk op skandalige wyse laat verdwyn, terwyl hy ’n nuwe wetgewer-gebou vir die Vrystaat moes oprig”. Die afgelope agt jaar kon geen rekenskap van die geld gegee word nie.

Projekte soos die Vrede-suiwelplaas, Ramkraal, die Winnie Madikizela Mandela-museum op Brandfort en die Trompsburg-hospitaal is bewyse “van hoe die ANC-regering van die mense gesteel het, pleks daarvan om na hulle om te sien”.

Hy het gesê daar is geen eerbaarheid “onder die tsotsi’s van Magashule nie”.

“Dit help nie jy het ’n sak vrot aartappels en jy sit ’n vars aartappel bo in die sak nie. Almal moet verwyder word.”

Patricia Kopane, Vrystaatse leier van die DA, Dinsdag voor die Ramkraal-tronk, waar die DA bekend gemaak het dat sy die party se premierskandidaat vir die Vrystaat in die 2019-verkiesing is. Foto: Mlungisi Louw

Maimane het Kopane voorgehou as ’n leier met goeie vaardighede en ’n onkreukbare waardestelsel, ’n leier wat toegewyd aan die demokratiese bestel is.

“Julle sal nie hoor dat sy van iemand gesteel het nie. Sy kan die Suid-Afrika wat ons graag wil hê, help bou.”

Kopane het onderneem om die Vrystaatse polisiemag reg te ruk indien sy aan die bewind kom. Sy wil ook die departemente van veral onderwys en gesondheid van korrupsie skoonvee.

Patricia Kopane, Vrystaatse leier van die DA, en Mmusi Maimane, nasionale leier, in die ruïnes van die historiese Ramkraal-tronk. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Patricia Kopane  |  Vrystaat  |  Politiek  |  Da  |  Premierskandidaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.