Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Koppe moet rol oor VBS-debakel’

Die koppe van die burgemeesters van die 15 munisipaliteite wat R1,5 miljard onwettig by VBS Mutual Bank belê het, moet rol.

Só het Kevin Mileham, nasionale DA-woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, Vrydag in Polokwane gesê.

Die DA het mosies van wantroue teen die burgemeesters van die 15 munisipaliteite ingedien. Agt van die munisipaliteite is in Limpopo, vier in Noordwes, twee in Gauteng en een in Mpumalanga.

Kevin Mileham en Jacques Smalle van die DA Vrydag in Polokwane. Foto: VERSKAF

Die nasionale tesourie het die munisipaliteite beveel om nié geld by VBS te belê nie, omdat dit ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur onwettig is.

“As die burgemeesters verwyder word, is dit die eerste stap tot verantwoordbaarheid,” sê Mileham.

Hy sê hoewel pres. Cyril Ramaphosa die optrede van die munisipaliteite veroordeel het, doen hy en Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, niks om enigiemand aan die pen te laat ry nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat die armstes van die armes wat geld by VBS belê het, nou in ellelange toue moet staan om van hul geld terug te kry, terwyl die burgemeesters steeds in weelde leef,” sê Mileham.

Mileham sê dienslewering gaan erg geraak word in die munisipaliteite wie se geld by VBS belê is, omdat hulle beslis nie die geld gaan terugkry nie.

Die DA het reeds klagte van korrupsie, rampokkery en bedrog teen die uitvoerende base van VBS Mutual Bank, die munisipale bestuurders en die finansiële hoofde van die betrokke munisipaliteite by die polisie aanhangig gemaak.

Intussen het Stan Mathabatha, premier van Limpopo, Dinsdag op ’n sitting van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) in Thohoyandou gesê die agt munisipaliteite in Limpopo wat hul geld by VBS belê het, gaan gestraf word. Hy het egter nie gesê hoe nie.

Florence Radzilani, burgemeester van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, wat R311 miljoen oftewel 34,57% van hul jaarlikse begroting by VBS belê het, is op dieselfde sitting as die provinsiale voorsitter van Salga verkies.

Die Groter Giyani-munisipaliteit het R158 miljoen, meer as die helfte van sy jaarlikse begroting, by die bank belê. Die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit het R46 miljoen onwettig by VBS belê.

Mileham sê die ANC se “sogenaamde veldtog teen korrupsie is net ’n slagspreuk om stemme vir volgende jaar se verkiesing te werf.

Die 15 munisipaliteite is:

Vhembe-distriksmunisipaliteit in Thohoyandou in Limpopo.

Fetakgomo-munisipaliteit in Burgersfort in Limpopo.

Groter Giyani-munisipaliteit in Giyani in Limpopo.

Lepelle Nkumpi-munisipaliteit in Lebowakgomo in Limpopo.

Collins Chabane-munisipaliteit in Malamulele in Limpopo.

Elias Motsoaledi-munisipaliteit in Groblersdal in Limpopo.

Ephraim Mogale-munisipaliteit in Marble Hall in Limpopo.

Makhado-munisipaliteit in Louis Trichardt in Limpopo.

Dr. J.S. Moroka-munisipaliteit in Siyabuswa in Mpumalanga.

Dr. Ruth Segomotoso Mompani-distriksmunisipaliteit in Vryburg in Noordwes.

Mafikeng-munisipaliteit in Mahikeng in Noordwes.

Moretele-munisipaliteit in Makapansstad in Noordwes.

Madibeng-munisipaliteit in Brits in Noordwes.

Merafong-munisipaliteit in Carletonville in Gauteng.

Wes-Rand-distriksmunisipaliteit in Carletonville in Gauteng.


Meer oor:  Vbs Mutual Bank  |  Gauteng  |  Mpumalanga  |  Limpopo  |  Noordwes  |  Koppe Moet Rol  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.