
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: CITY PRESS
Die koronavirus-pandemie en die staat van inperking het soos die spreekwoordelike “manna uit die hemel” in pres. Cyril Ramaphosa se skoot geval, sy beeld as ANC- en landsleier versterk én sy politieke loopbaan ’n tweede asem gegee.
Volgens politieke kenners het dit ook faksiebinnegevegte in die ANC op die agtergrond geskuif, asook die ANC sekretaris-generaal, Ace Magashule – wat as Ramaphosa se grootste opponent in die ANC beskou word – vir nou geneutraliseer.
Prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder van die Universiteit van Wes-Kaapland, en prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, het Dinsdag gereageer op navrae oor watter impak die pandemie op Ramaphosa en Magashule se onderskeie loopbane het.

Ace Magashule Foto: DAILY SUN
Volgens Mngomezulu het die faksiegevegte voor die uitbreking van die koronavirus-pandemie die ANC en sy alliansie uitmekaargeskeur.
“Die regering het weens daardie ANC-binnegevegte ook nie dienste optimaal gelewer nie. Tans praat die regering egter uit een mond oor die koronakrisis wat ook tot verhoogde dienslewering landwyd gelei het.
“Die pandemie het basies ook faksiegevegte en opposisiepolitiek tydelik gevries soos wat daar saam na oplossings teen die virus op al drie regeringsfere gesoek word.
“Dit is soos ’n versteekte seëning vir Ramaphosa wie se leierskap en beeld tydens die staat van inperking en die krisis al sterker lyk.”
Mngomezulu meen die pandemie het egter die teenoorgestelde uitwerking op Magashule en sy radikale ekonomiese transformasie-faksie in die ANC gehad omdat dit hul aktiwiteite in hul spore gestuit het, “veral omdat Magashule se sterkpunt die mobilisering van steun op grondvlak is”.
Volgens Mngomezulu het Magashule verlede week weer op die voorgrond probeer tree deur ’n verklaring namens die ANC-alliansie-sekretariaat uit te reik, waarin enige voorstelle deur Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, om die Internasionale Monetêre Fonds om finansiële hulp aan Suid-Afrika se stryd teen die pandemie te nader verwerp word.
Dit is soos ’n versteekte seëning vir Ramaphosa wie se leierskap en beeld tydens die staat van inperking en die krisis al sterker lyk.
Dié stap deur Magashule en sy eweknieë in die alliansie is wyd deur veral opposisiepartye veroordeel.
Mngomezulu meen Magashule-hulle is vinnig in die bek geruk omdat die publiek in hierdie tyd van krisis geen verdeeldheid duld nie.
Duvenhage het op sy beurt gesê dat daar voor die koronavirus baie groot druk op Ramaphosa was met sy opponente wat ’n aanslag op sy ANC-presidentskap beplan het.
“Die slagordes was behoorlik vir Ramaphosa opgestel en die plan was om die ANC se komende nasionale algemene raadsvergadering te gebruik om steun te werf om hom te verwyder.
“Al hierdie planne het egter met die uitbreking van die koronavirus-pandemie in die slag gebly.
“Dit was soos manna uit die hemel vir Ramaphosa en het hom ’n tweede politieke asem gegee. Deur sy hantering van die krisis het hy vir homself ’n morele gesagsposisie gebou.”
Duvenhage stem saam dat die Covid-19-krisis ook alle politieke prosesse en binnegevegte in die ANC tot stilstand gedwing het.
“Magashule en sy faksie is weens die staat van inperking in hibernasie geplaas.”
Hy meen dit is veral sleg vir Magashule, wat soos oudpres. Jacob Zuma ook goed is om steun op grondvlak te werf, maar weens die inperking kan hy dit tans nie doen nie.
“Buiten Magashule, het die pandemie ook talle ander populiste in die Suid-Afrikaanse politieke landskap stilgemaak,” meen Duvenhage.