Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Korrupsie gaan ANC vernietig, waarsku leiers
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake. Foto: GCIS

As iets drasties nie gedoen word nie, gaan korrupsie in die geledere van die ANC dié party, “wat jare lank die aanslae van die Boere oorleef het”, vernietig.

Dít was Dinsdag die boodskap wat dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, gelewer het namens die ANC se nasionale uitvoerende komitee op ’n interprovinsiale aanlyn gedenkdiens wat die party vir die ontslape struggleheld John Nkadimeng gehou het.

Nkadimeng (93) is verlede week dood. Hy word Vrydag met ’n spesiale staatsbegrafnis in Johannesburg begrawe.

Motsoaledi was Dinsdag op die gedenkdiens een van talle senior ANC-leiers wat erg uitgevaar het teen die korrupsie in die ANC.

Die euwel van korrupsie vreet die lewenswerk weg waarvoor hy en sy klas geleef én gesterf het.

Dit was die afgelope paar weke weer sterk op die voorgrond weens die openbare verontwaardiging oor beweerde korrupte Covid-19-tenders vir persoonlike beskermende toerusting waarby senior ANC-leiers en hul families regstreeks betrek is.

Dit het daartoe gelei dat pres. Cyril Ramaphosa verlede week ’n spesiale interministeriële komitee van ses ministers aangestel het wat die wetstoepassingsagentskappe moet help om dié soort korrupsie te ondersoek.

Motsoaledi het ook gesê Nkadimeng is dood op ’n tydstip dat die ANC mense van sy kaliber nodiger het as ooit, omdat die party deur “ ’n baie moeilike tydperk gaan”.

“Die euwel van korrupsie vreet die lewenswerk weg waarvoor hy en sy klas geleef én gesterf het.”

Motsoaledi het bygevoeg hy oordryf nie as hy sê dat korrupsie “op pad is om te bereik wat die apartheid-regering in langer as ’n eeu nie kon regkry nie. Dit is om die magtige ANC te vernietig.”

Bo alles het hy interne onenigheid gehaat. Dié soort onenigheid gaan die ANC nog baie vinniger as korrupsie vernietig.

“Nkadimeng sou nooit gedink het hedendaagse ANC-leiers sou met hul arms gevou sit en in stilte en uit moedeloosheid net toekyk nie.”

Hy glo Nkadimeng sou verwag dat die ANC korrupsie in al sy vorms moet beveg “ongeag die statuur van mense wat betrokke is”.

“Ons is dit dus aan hom verskuldig om al die moontlike te doen om korrupsie uit te roei en die ANC te verlos uit die moeras van korrupsie waarin hy tans verstrengel is.”

Stan Mathabatha, premier en ANC-voorsitter van Limpopo, het gesê Nkadimeng het “korrupsie, kras materialisme, patronaatskap, loopbaangedrewenheid, die gebruik van vuil geld, swak dissipline, die kultus van persoonlikhede en mense wat by die ANC aangesluit het om selfsugtige redes, passievol gehaat het”.

“Bo alles het hy interne onenigheid gehaat. Dié soort onenigheid gaan die ANC nog baie vinniger as korrupsie vernietig.

“Dit omdat interne onenigheid tussen faksies gepaard gaan met nepotisme. Jy sal dus nie korrupsie doeltreffend kan uitroei terwyl daar verskillende faksies is nie.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het in sy hoedanigheid as provinsiale ANC-voorsitter gesê dat lede van die party “Nkadimeng se ANC” moet beskerm.

“En om die ANC te beskerm beteken nie dat ons oortreders van korrupsie moet beskerm nie of dat die ANC nie beslissend moet optree teen diegene wat aanhou om ons in die verleentheid te stel nie.”

Mandla Ndlovu, waarnemende ANC-voorsitter in Mpumalanga, het gesê korrupsie is die “vyand van ons mense”.

Volgens hom moet dit ter ere van Nkadimeng uitgewis word – veral as die ANC volgende jaar se munisipale verkiesings wil wen. “Ons kan nie onproduktiewe koalisie-regerings bekostig nie. Ons moet verenig en wen. Net dan sal ons leiers in vrede rus.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Aaron Motsoaledi  |  Anc  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.