Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC praat steeds uit 2 monde
Pres. Cyril Ramaphosa kom Woensdag in Fort Beaufort in die Oos-Kaap aan.

Korrupsie in die ANC is soos gif en “dit maak dood.

“Eers sal dit die organisasie doodmaak en dan ons mense se sin daarin om die ANC te ondersteun,” het pres. Cyril Ramaphosa gesê toe hy Woensdagmiddag by die Universiteit van Fort Hare in Alice, in die Oos-Kaap, die Charlotte Maxeke-gedenklesing gelewer het.

Volgens Ramaphosa sou dié ANC-struggle-ikoon geweier het om by enige korrupsie betrokke te raak.

Hy het vroeër Woensdag by ’n ander Maxeke-gebeurtenis op Fort Beaufort in dieselfde provinsie gesê Suid-Afrikaners “sal nog liewer vir die ANC wees” as hulle sien dat die partyleiers daadwerklik teen sy eie lede optree wat by korrupsie betrokke is.

Bogenoemde gebeurtenisse was deel van die ANC se landwye program Woensdag om Maxeke se 150ste verjaardag te vier.

Adj.pres. David Mabuza was daarvoor in Limpopo, Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, in Soweto en Paul Mashatile, ANC-tesourier-generaal, in KwaZulu-Natal.

Daar is tydens dié gebeurtenisse nie doekies omgedraai in die verskillende ANC-faksies nie. Dié topleiers en hul ondersteuners het hul toesprake gebruik om hul onderskeie standpunte duidelik uit te stippel.

Ace Magashule Woensdag by die kransleggingseremonie by Charlotte Maxeke se graf in Soweto. Foto: ANC Facebook

Ramaphosa het in sy gedenklesing gesê Maxeke was nooit ongedissiplineerd nie. “As die organisasie gesê het dít is sy besluit, sou sy nie ’n totaal ander ding gedoen het nie. Dít was hoe gedissiplineerd Maxeke was en dit is presies wat nou benodig word.”

Dít blyk om ’n verwysing te wees na Magashule, wat ná die ANC se besluit verlede week – dat alle ANC-lede wat weens korrupsie en ander ernstige misdade in howe teregstaan hul poste binne 30 dae moet ontruim – aangedui het dat hy eers met oud-ANC-leiers, insluitend oudpres. Jacob Zuma, daaroor wil konsulteer.

Magashule self word ook van korrupsie aangekla.

Ramaphosa het bygevoeg dat Maxeke vandag ook doelgerig op die ANC se eenheid en hernuwing gefokus sou wees. “Sy sou ook nooit by enige ANC-faksies aangesluit het nie.”

City Press het Sondag berig ANC-lede beplan onder die vaandel van radikale ekonomiese transformasie (RET) om glo die hele Suid-Afrika te ontwrig deur steun vir Magashule en Zuma te werf.

Oscar Mabuyane – Oos-Kaapse premier, ANC-voorsitter en ’n Ramaphosa-ondersteuner – het gedurende die gedenklesing Woensdag kaalvuis onder RET-ondersteuners ingeklim.

Volgens hom moet die ANC dringend “die tendens van georganiseerde groeperings en faksies, insluitend die groep wat hom vermom as RET, maar as ’n splintergroep in ons organisasie bedryf word, verslaan.”

“Die president en die hele kollektiewe ANC-leierskap het die ANC in die Oos-Kaap se volle en onverskrokke ondersteuning daarvoor.”

’n Uittartende Magashule het Woensdag tydens ’n kransleggingseremonie by Maxeke se graf in die Nancefield-begraafplaas gesê: “Voorwaarts met RET, voorwaarts!”

Die ANC het verlede week ook besluit dat geen partylid hom met die “verdelende” RET-groepering moet vereenselwig nie.

RET is ANC-beleid wat by die Nasrec-verkiesingskonferensie (in 2017) aanvaar is. Ons kan dit nie nou wil verander, verdraai en iets anders noem nie.

Magashule het bygevoeg dat dit net RET is wat kan verseker dat die eienaarskap van Suid-Afrika se ekonomie so gou moontlik in die hande van swart mense kom.

“RET is ANC-beleid wat by die Nasrec-verkiesingskonferensie (in 2017) aanvaar is. Ons kan dit nie nou wil verander, verdraai en iets anders noem nie.”

Magashule het voorts Woensdag aan joernaliste in Soweto gesê dat hy ná sy konsultasies met oudleiers met Ramaphosa oor sy lot sal vergader.

Dakota Legoete, ’n ANC-NUK-lid, het daartydens gesê die ANC-stryd teen korrupsie is nie net op Magashule gefokus nie omdat ’n volledige lys van alle geïmpliseerde ANC-lede nog verwerk word.

Intussen het Mabuza in Limpopo aan Newzroom Afrika gesê die ANC het sy “opsystaan”-besluit geneem en dat die party enige spanning en ongelukkigheid wat uit dit mag spruit, sal hanteer. “Ons gaan egter voort om dit te implementeer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.