Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Korrupsie in VS gaan verbrysel word, sê ANC
Op die amptelike opening van die Vrystaatse wetgewer waarop premier Sisi Ntombela haar provinsiale rede gelewer het, het veral die vroue deftig aangetrek. Van links is Adri Botes, finansiële hoof van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer, en Ntombi Nhlapo, direkteur van batebestuur in dieselfde departement. Foto: Nyakallo Mahloko

Die lelike kop van korrupsie in die Vrystaat gaan verbrysel word. Daar sal geen genade betoon word aan diegene wat korrup is nie, het Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, Dinsdag op die amptelike opening van die Vrystaatse wetgewer in Bloemfontein gesê.

Derduisende mense van oor die provinsie heen het die geleentheid op die Suidkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV), voorheen die Vista-kampus, bygewoon. Die opening, wat na raming sowat R4 miljoen gekos het, is deur opposisiepartye as spandabelrig bestempel.

Mashinini, ook die voorsitter van die Vrystaatse ANC, is deur Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, op ’n nuuskonferensie nadat sy die provinsiale rede gelewer het, gevra om die media se vrae oor korrupsie te beantwoord.

Mashinini het gesê “daar is niks wat my so teen die bors stuit soos korrupsie nie. Ek gaan geen genade betoon nie en vra fluitjieblasers om na vore te tree sodat ons die lelike kop van korrupsie in die provinsie kan verbrysel.”

Links is Gadija Brown, hoof van die Vrystaatse departement van openbare werke en infrastruktuur, en Murendi Ndandweni, direkteur in die kantoor van die departementshoof vir openbare werke en infrastruktuur.Foto: Nyakallo Mahloko

* Die Vrystaatse provinsiale regering het ingegryp in munisipaliteite waar bates soos toerusting en voertuie opgeveil en vir skulddelging verkoop moes word, het Kapung Ralikontsane, direkteur-generaal van die provinsiale regering, op die nuuskonferensie gesê.

Hy het gesê Ntombela, hyself en die departementshoofde het ’n taakspan saamgestel om daardie munisipaliteite te help. Dit sluit in Mafube (Frankfort), Tokologo (Boshof) en die voormalige Naledi-munisipaliteit (Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus) waar toerusting en voertuie deur die balju opgeveil en verkoop word om skuld te delg.

“Ons help hulle om krediteure te kan betaal en om hul geldsake reg te kry. Van die munisipaliteite het weer van hul toerusting en voertuie waarop die balju beslag gelê het, teruggekry.”

Ralikontsane het gesê daar word ook nou op regeringsvlak met dr. Zweli Mkhize, nasionale minister van samewerkende regering en tradisionele sake, saamgewerk wat met sy taakspan help dat sukkelende Vrystaatse munisipaliteite wat ineenstort, gestabiliseer word.

“In Mafube het ons ’n vergadering met die balju gehou om die krediteure te kan betaal of afbetalingsooreenkomste aan te gaan. Ons wil ook saam met Mkhize en die Municipal Infrastructure South Africa-taakspan, wat bestaan uit ingenieurs en stadsbeplanners, die munisipaliteite regruk.”

Bertha Leeuw, administrasiebeampte vir sekuriteit van die Vrystaatse provinsiale regering, op die amptelike opening van die Vrystaatse wetgewer in Bloemfontein. Foto: Nyakallo Mahloko

Mashinini het oor munisipaliteite gesê daar moet onthou word dat baie van hulle in landelike gebiede geleë is waar groot werkloosheid bestaan. Gevolglik sukkel die inwoners om vir munisipale dienste te kan betaal.

“Dit is nodig dat sakeondernemings met die regering hande sal vat om die munisipaliteite lewensvatbaar te kan maak. In Tweeling gaan met so ’n projek begin word ingevolge die sogenaamde ‘stimulus-pakket’ waarvan pres. Cyril Ramaphosa gepraat het.”

Ntombela het die volgende beloftes voor die media gemaak:

* Alle kontrakteurs wat vir die regering en munisipaliteite werk doen, sal voortaan binne 30 dae betaal word;

* Die derduisende putlatrines en emmers in die Vrystaat, ook in skole waar dit veral ’n gevaar inhou, sal so gou moontlik verwyder word en geld word in die komende begroting hiervoor opsygesit.

* Die Maroka-hospitaal en -kliniek in Thaba Nchu, naby Bloemfontein, sal so gou as moontlik opgeknap word.

Meer oor:  Sam Mashinini  |  Korrupsie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.