Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Korrupsie moet ‘uitgerook’ word

Almal wat by korrupsie betrokke is – nie net by Eskom nie – moet “uitgerook” word, glo Rob Davies, minister van handel en nywerheid.

Rob Davies, minister van handel en nywerheid.

“As daar diegene was wat tenders of voordele op ’n onbehoorlike wyse bekom het, moet daar gevolge wees,” het hy Dinsdag by die Kaapse persklub geantwoord op ’n vraag oor korrupsie.

Pres. Cyril Ramaphosa se verkiesing het volgens hom nuwe hoop gebring dat van die land se probleme reggestel kan word – sommige wat regstreeks aan staatskaping en korrupsie verbind kan word.

“Wat ons gesien het, ek wil dit só stel, niemand het waarskynlik die voorneme gehad om Eskom te verwoes nie. Hulle het gedink ek sal my bietjie neem en dan neem iemand anders sy bietjie en al die goed hoop op. Die effek is dat jy institusionele skade op ’n aansienlike skaal het.”

Suid-Afrika het volgens hom ’n “groot probleem” wat die nasionale kragkrisis betref.

Dit is “taamlik voor die hand liggend” dat beurtkrag ’n effek op die ekonomie sal hê. Daar sal egter vir die syfers van Statistieke Suid-Afrika gewag moet word om te sien wat die presiese impak daarvan was.

“Ek het met baie beleggers gepraat wat gesê het dat hulle die langtermynsiening neem.”

Ek het met baie beleggers gepraat wat gesê het dat hulle die langtermynsiening neem.

As daar nie betroubare kragverskaffing in die land is nie, sal meer en meer sakeondernemings begin om hul eie elektrisiteit op te wek. Klein sakeondernemings in townships sal dit egter nie kan doen nie daarom moet Eskom dinge regkry.

Tegniese kapasiteit is noodsaaklik by Eskom, sê Davies.

’n Paar jaar gelede toe hy deel van die regering se ‘strydkamer’ was om die elektrisiteitsprobleme op te los was hy die eerste minister wat erken het dat die probleme baie tegnies van aard is.

“Ons benodig meer tegniese kennis.”

Op ’n vraag oor wat hy gedoen het al die jare terwyl hy in die “rampspoedige” kabinet van oudpres. Jacob Zuma was, het Davies geantwoord toe hy by die departement gekom het, het hy ’n punt daarvan gemaak dat wanneer besluite geneem moet word oor wie ’n aansporing moet kry, hy seker gemaak het dat hy niks daarmee te doen het nie. Die departement het skoon ouditmenings ontvang en waar korrupsie ook al sy kop uitgesteek het, is dit beveg.

Toe hy harder gepols is en gevra is waarom hy nie uitgepraat het nie, het Davies geantwoord hy kon bedank het.

“Ek kon geloop het. Ek het baie keer gedink dat ek uit (die kabinet) geskommel sou word. Ek kon bedank het, maar het gedink nee. Die departement is minstens ietwat beter as die manier waarop ek dit gevind het.”

As die ANC ’n merkbare meerderheid in die Mei-verkiesing behaal, sal Ramaphosa die mandaat van die mense hê.

Meer oor:  Cyril Ramapahosa  |  Rob Davies  |  Korrupsieklagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.