Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Kortrok’ De Lille straal by beëdiging
pat
Patricia de Lille word deur pres. Cyril Ramaphosa beëdig terwyl adj.pres. David Mabuza toekyk. Foto: Felix Dlangamandla

Patricia de Lille, leier van die Good-party, het Donderdag gestraal toe sy in Pretoria as minister van openbare werke en infrastruktuur beëdig is.

Sy het met ’n breë glimlag die eed vir die uitvoerende gesag voor hoofregter Mogoeng Mogoeng afgelê.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand met die bekendmaking van sy kabinet onverwags aangekondig dat sy een van die land se nuwe ministers is.

De Lille het Donderdagoggend, voordat sy by die Sefako Makgatho- presidensiële gastehuis in Pretoria as kabinetslid beëdig is, gesê alles is nog ’n “bietjie oorweldigend” toe telefoniese kontak met haar verbreek is.

Dié voormalige DA-burgemeester van Kaapstad het in 2018 ná ’n uitgerekte openbare uitval met die DA, wat selfs in die howe gedraai het, uit die party bedank.

Gelukwensinge met haar aanstelling in die kabinet het sedert Woensdagaand op Twitter ingestroom.

Helen Zille, oudpremier van die Wes-Kaap, het op Twitter gesê: “@PatriciaDeLille as minister van openbare werke maak ware geleenthede oop, veral vir Kaapstad. Ek en sy (as burgemeester van Kaapstad) het vir jare tevergeefs probeer om grond van openbare werke in goed geleë gebiede beskikbaar te laat stel om bekostigbare huise te bou om die ruimtelike nalatenskap van apartheid te oorkom. Hier is ’n ware kans!”

Kritiek het egter ook opgeklink.

Mmusi Maimane, DA-leier, het kort ná De Lille se aanstelling aan die SAUK gesê sy het “sekerlik ’n rol in die ANC se verkiesingsveldtog gespeel en dit is duidelik deel van ’n beloning wat op die tafel is. Ek wens die hele kabinet sterkte toe.”

Die VF-Plus het De Lille op sy beurt daarvan beskuldig dat sy haar kiesers verloën het.

Patricia de Lille het die bruin kiesers wat vir haar gestem het, uitverkoop ter wille van ’n pos by die ANC.

Peter Marais, lid van die VF-Plus in die Wes-Kaapse wetgewer, het gesê net soos die Nuwe Nasionale Party ’n “Kortbroek”-figuur gehad het wat die einde van sy party veroorsaak het deur sy aansluiting by die ANC, net so het die Good-party nou sy eie “Kortrok’ wat ook die einde van dié party gaan beteken.

“Patricia de Lille het die bruin kiesers wat vir haar gestem het, uitverkoop ter wille van ’n pos by die ANC. Die vraag kan met reg gevra word of die ANC dié skuif met haar onderhandel het terwyl sy as leier van Good aan die verkiesingsveldtog deelgeneem het. Indien wel, is sy ’n verduideliking verskuldig aan elke persoon wat Good met hul stem vertrou het,” het Marais gesê.

Prof. Erwin Schwella, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Tilburg in Nederland en die Hugenote-kollege op Wellington, het gesê De Lille is ’n ervare politikus met jare se ervaring en met ’n bepaalde beeld dat sy korrupsie bestry.

Sy bring volgens Schwella beslis waarde na die kabinet. “Sy het bevoegdhede en bekwaamhede – dit was nie ’n slegte besluit nie.”

Die stap deur Ramaphosa is terselfdertyd ook om politieke redes geneem, sê hy.

“Hy kon natuurlik ook vir Mmusi Maimane, DA-leier, of dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus, in sy kabinet aangestel het. De Lille het bepaalde bekwaamhede en ’n bepaalde profiel uit Suid-Afrika se omstrede wapenskandaal, en terselfdertyd is daar ook die bonus-strategie om haar eintlik te gebruik in die voortgesette poging om die Wes-Kaapse steun van die DA weg te neem.

“Die president sien politieke voordeel in die Good-party en dit kan ook aan dié party ’n hoër profiel en verdere impetus gee,” sê Schwella.

De Lille moet nie as ’n politieke strateeg onderskat word nie. “Sy gaan nie maklik ingetrek word in die agenda van die ANC nie, sy het ook haar eie agenda.”

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.