Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Krag-aankondiging: ‘Dalk die begin van vele meer’

Hy sal nie verbaas wees as daar binne die volgende paar dae nóg dramatiese aankondigings sal wees soos dié van pres. Cyril Ramaphosa Donderdag oor kragopwekking nie, sê die politieke ontleder Theo Venter.

Dit lyk of die ANC begin besef die staat kan die land se kragprobleem nie oplos sonder die samewerking van die private sektor nie omdat die staat eenvoudig nie die vermoë het om dit te doen nie.

Dit volg ná Ramaphosa se aankondiging dat die drempel vir selfopwekking van krag sonder ’n lisensie van 1 megawatt (MW) tot 100 MW gelig is.

Dié aankondiging maak volgens hom ’n hele “politieke waenhuisdeur” oop vir verandering.

“Dit lyk of die ANC begin besef die staat kan die land se kragprobleem nie oplos sonder die samewerking van die private sektor nie omdat die staat eenvoudig nie die vermoë het om dit te doen nie.

“Wanneer jy in ’n krisis beland, soos nou met die verskaffing van elektrisiteit, lê die antwoorde nie daarin om terug te gryp na jou ou ideologiese oplossings nie.

“Dit lê eerder in die meriete van die saak en die hantering van dit wat voor die hand liggend is,” sê Venter.

“Vir my lyk dit of iets in die ANC begin sê ‘kom ons beweeg weg van ons sterk ideologiese vooroordele en ons gaan kyk wat die land nodig het’.

“Die pendulum van hoe besluite geneem moet word, het begin swaai van totale regeringsbeheer na die middel toe.

“Dit wys die ANC begin besef daar is beperkinge op ideologiese standpunte.

“Ek hoop dit alles syfer deur na die kwessie rondom art. 25 van die Grondwet (waarvan die wysiging oorweeg word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak), die kwessie oor die Kubane en die hele kwessie oor ras,” sê Venter.

“Ek dink wat ons hier sien gebeur, is die resultaat van dit wat gebeur namate Ramaphosa daarin slaag om ontslae te raak van die sogenaamde radikale-ekonomiese-transformasie-faksie in die party, wat ten gunste is van volle staatsbeheer.”

‘Maak die drempel onbeperk’

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, sê die drempel behoort onbeperk gemaak te word.

“Suid-Afrika kan binne 18 maande genoeg son- en windkrag opwek sodat die land nooit weer beurtkrag hoef te hê nie.

“Ons is dankbaar vir die aankondiging van die president, hoewel dit al vroeër moes gebeur het.

“Dit is ’n stap in die regte rigting, maar die drempel moet onbeperk wees. Daar is geen rede onder die son waarom dit nie onbeperk gemaak kan word nie.

“Dit sal groter mededingendheid meebring,” sê Botha.

Dit is die onbevoegde mense wat tydens die bewind van oudpres. Jacob Zuma by Eskom aangestel is wat ons in die situasie laat beland het waarin ons nou is.

“Wat ek nie kan verstaan nie, is: Hoekom het dit Gwede Mantashe (minister van minerale bronne en energie) en die regering so lank gevat om te besef dit is nodig om die drempel te verhoog?

“Ons ekonomie kan eenvoudig nie meer beurtkrag bekostig nie.

“Dit is die onbevoegde mense wat tydens die bewind van oudpres. Jacob Zuma by Eskom aangestel is wat ons in die situasie laat beland het waarin ons nou is.

“Ons is in dié tyd ’n rat voor die oë gedraai en daar is vir ons gelieg dat Eskom genoeg kapasiteit het.

“Dit is hoekom die program vir hernubare krag tot stilstand gekom het. Die departement skop steeds vas daarteen. Ons kragstasies raak al hoe ouer en die probleme sal nie ophou nie.

“Elke keer wanneer die krag afgaan, moet ons onthou wie die oorsaak daarvan was: Jacob Zuma en sy aanstelling van onbevoegde mense of van mense wat ander motiewe gehad het,” sê Botha.

‘Cyril is in voeling met ekonomie’
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Getty Images

Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se ekonomiese komitee, sê in sy reaksie Ramaphosa het gewys hy is in voeling met wat in die ekonomie gebeur, hy luister na die vryemark-ekonomie en hy reageer op die voorstelle.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê die aankondiging is ’n belangrike stap in die rigting van volledig mededingende kragopwekking in Suid-Afrika.

“Die program vir onafhanklike kragverskaffers het reeds ’n belangrike bydrae gelewer, maar is deur regulatoriese rompslomp gekortwiek.”

Morné Mostert, hoof van plaaslike regeringsake by AfriForum, sê ook die aankondiging is ’n stap in die regte rigting.

“Wanneer ondernemings toegelaat word om self hul energie te reguleer, maak dit ook Eskom se lading om krag te verskaf ligter. Verder gaan dit aan ondernemings die geleentheid bied om self nuwe energie-oplossings vir verskillende nywerhede in werking te stel.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Nicol Jansen  |  Dr. Roelof Botha  |  Eskom  |  Selfopwekking  |  Kragopwekking  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.