Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Krisis breek dalk Pravin se greep

Die huidige Eskom-krisis verhoog onderlinge spanning in pres. Cyril Ramaphosa se kabinet en kan uiteindelik daartoe lei dat Pravin Gordhan se ysere greep op die kragreus verbreek word.

Dit volg nadat die voorsitter van Eskom se direksie, Jabu Mabuza, onverwags Vrydag op sy swaard geval en bedank het weens Eskom se onvermoë om die ligte tydens die vakansietyd aan te hou.

Mabuza se bedanking kom nadat Ramaphosa, ná ’n ontmoeting met senior Eskom-amptenare op 11 Desember en kort nadat Eskom vir die eerste keer in die geskiedenis fase 6-beurtkrag moes implementeer, ’n beurtkraglose feestyd beloof het.

Hy het toe gesê dat dit nie nodig sal wees om enige beurtkrag in te stel tot 13 Januarie nie.

Dié onderneming het gesneuwel nadat Eskom Dinsdag fase 2-beurtkrag moes instel om die netwerk te beskerm.

Dit het geweldige druk op Rama­phosa geplaas om te verduidelik presies wat aangaan en waarom sy belofte aan die nasie van ’n maand gelede nie gestand gedoen is nie.

‘Gordhan is behep daarmee dat hernubare kragbronne ontwikkel moet word.’

In sy bedankingsbrief Vrydag aan Ramaphosa sê Mabuza die plan wat hy as voorsitter aanvaar het om onbeplande onderbrekings tot 13 Januarie te beperk, is aan Ramaphosa voorgelê. Hy sê die risiko’s is ook beklemtoon en op grond hiervan het die president sy aankondiging gedoen. Hy bied dan sy bedanking aan omdat “die belofte wat u aan die nasie gemaak het, gegrond was op ons planne, wat nie uitgewerk het nie”.

Mabuza het nie Saterdag gereageer op ’n versoek om ’n onderhoud nie, maar ’n kort verklaring aangestuur waarin hy sê dis tyd om ander die kans te gee, en dat hy bedank het “as leier van ’n direksie wat nie sy verbintenis om die kragnetwerk te stabiliseer kon nakom nie”.

Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, het ook in sy aankondiging aan Eskom-personeel oor die direksievoorsitter se bedanking klem gelê daarop dat Mabuza “verplig gevoel het om verantwoordelikheid te aanvaar vir die feit dat Eskom nie kon voldoen aan die president se verbintenis nie”.

Rapport verstaan dit is egter net die helfte van die storie en dat daar agter die skerms ’n hewige magstryd heers wat van Ramaphosa se grootste bondgenote betrek.

Onberispelike bronne in die regering het aan Jan de Lange gesê daar woed reeds geruime tyd tweedrag in die kabinet oor Gordhan, die minister van openbare ondernemings, se hantering van die Eskom-krisis.

“Gordhan is behep daarmee dat nuwe, hernubare kragbronne ontwikkel moet word om die kragkrisis op te los. Hy het tot ’n groot mate steun van Ramaphosa.

“Maar aan die ander kant is ander ministers in die ekonomiese groep wat meen die herstelwerk en onderhoud aan die huidige steenkoolkragstasies moet voorrang geniet om die kragkrisis op te los.”

Gwede Mantashe, minister van energie, is aan die voorpunt in dié groep, maar daar is nog ministers, onder wie Ebrahim Patel en Jackson Mthembu, wat dié standpunt steun, sê Rapport se bronne.

Daar is ook mense in die kabinet wat glo dat Matshela Koko en Brian Molefe, albei voormalige uitvoerende hoofde, geraadpleeg moet word oor die beste moontlike regrukplan vir Eskom.

Ramaphosa en Gordhan skop egter vas weens dié twee se korrupte prestasiegeskiedenis.

In regeringskringe word nou bespiegel dat Mantashe as minister van minerale bronne en energie binnekort die verantwoordelike minister vir Eskom gaan word.

Cosatu se onverwagte aandrang dat Gordhan en die direksie van Eskom afgedank moet word, moet ook in dié konteks beoordeel word en het druk op Gordhan en Ramaphosa verder laat toeneem.

Mabuza se bedanking was ’n poging om dié druk te verlig.

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, stem saam en sê Mabuza het op sy swaard geval om Gordhan te beskerm.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, meen die wyse waarop Mabuza skielik “uitgestoot is weens (ANC)-faksiegevegte” is kommerwekkend.

Die ekonoom Mike Schüssler sê dit is net nog ’n voorbeeld van politieke inmenging in Eskom se sake.

“Eskom sal nooit reggeruk kan word tensy politici hul hande van hom afhou, kundige mense in beheer plaas en hulle die ruimte en tyd gee om hul werk te doen nie”, sê hy.

Die groter onmiddellike probleem is egter wie vir Mabuza as direksievoorsitter gaan vervang.

Eskom het die afgelope 12 jaar sewe direksievoorsitters en 12 uitvoerende hoofde gehad, en dit word al hoe moeiliker om mense met die nodige ondervinding te vind wat bereid is om dié twee poste te vul.

Luidens berigte vroeër vanjaar het 27 swart kandidate wat genader is om die pos as Eskom se uitvoerende hoof te aanvaar, die aanbod van die hand gewys.

“Almal het nee gesê. Baie van die swart uitvoerende bestuurders wil niks te doen hê met ’n staatsbeheerde instelling nie. Hulle voel daar is te veel politieke inmenging,” het ’n bron in die regering destyds aan die Sunday Times gesê.

Twee van die mense wat nee gesê het vir die pos, is Nelisiwe Magubane en Sifiso Dabengwa. Albei is lede van die Eskom-direksie. Die twee is waarskynlik ook onder die gunstelinge wat nou by Mabuza gaan oorneem.

Dabengwa het voorheen vir Eskom gewerk as uitvoerende direkteur in die verspreidingsafdeling. Hy is ’n gekwalifiseerde elektriese ingenieur en het sy MBA by Wits voltooi.

Magubane is ook ’n elektriese ingenieur met ’n MBA wat voorheen betrekkings by Eskom en die departement van minerale en energie beklee het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.