SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Krisis dreig by Statistieke SA

Statistieke Suid-Afrika (SSA), wie se vermoë om betroubare data in te samel en te publiseer die grondslag is van die moderne ekonomie, stuur op “vernietiging” af, waarsku Pali Lehohla, wat tussen 2000 en 2017 statistikus-generaal was.

Weens ’n enorme geldtekort is altesame 19,5% (685) van SSA se 3 511 poste al sedert Oktober 2016 vakant, kan Rapport vandag onthul.

Onder die poste wat nie gevul is nie, tel meer as 170 sleutelbestuursposte. In altesame 26 sleutelposte is amptenare op ’n waarnemende grondslag aangestel. Hieronder tel vyf van die agt adjunk-direkteurs-generaal (ADG’s) asook die hoofbedryfsbeampte.

19,5% van poste al sedert 2016 vakant.

Só nypend is die geldtekort – SSA het in die 2018-’19-boekjaar sy begroting van R2,27 miljard met sowat R39 miljoen oorskry – dat ’n kernbelangrike opname oor armoede, die Opname oor Uitgawes en Inkomste, verlede jaar afgestel is.

“As die afgelope dekade vermorste jare was, wag in die volgende dekade die vernietiging van die statistieke-stelsel van Suid-Afrika,” het hy aan Rapport gesê.

Lehohla het reeds in sy bestuursverslag van 2017 gewaarsku oor die “enorme risiko’s” wat met die uitkalwing van bekwaamheid verband hou.

Hy het toe al gekla oor te veel vakatures in “kritieke poste” en gewaarsku dit maak nie saak wie hom opvolg nie: As SSA nie behoorlik gefinansier word nie, gaan die organisasie sink.

Lehohla is opgevolg deur Risenga Maluleke, wat volgens Lehohla ’n “goeie opvolger” is.

“Maar as SSA nie die geld kry nie, gaan hy onsuksesvol wees,” sê Le­hohla.

Indien die land sy vermoë verloor om betroubare data in te samel en te publiseer, sal Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, binnekort nie die repokoers kan bepaal nie omdat die statistikus-generaal nie in staat sal wees om hom van die onverwerkte verbruikersprysindekssyfers (VPI) te voorsien nie, waarsku Lehohla. “Die aanpassing aan salarisse en maatskaplike toelaes sal kort daarna op arbitrêre data gegrond wees, asook die banke se uitleenkoers.”

Die land sal in chaos gedompel word.

“Die graderingsagentskappe sal by die ouditeur-generaal aansluit en ons kredietgradering bevraagteken. Dit sal egter niks nuut wees nie, want ons presteer daarin om eie doele aan teken,” sê Lehohla.

Prof. David Everatt, voorsitter van die Statistiekeraad, skryf in die jongste jaarverslag die organisasie het tegniese, analitiese en ander vaardighede verloor kort voordat daar oorgeskakel moet word na ’n meer gerekenariseerde omgewing en kort voor die volgende sensusopname in Oktober 2021.

“Die behoefte aan meer analisering en verslaggewing, sowel as data-insameling, word gedurig aan SSA gestel – maar dit is ongelukkig onmoontlik om daaraan te voldoen terwyl die begroting staties bly.”

Daar is ook min vooruitsigte vir bevorderings in ’n omgewing waar poste gevries is.

Gevolglik word sommige sleutel-aanwysings nie gedek nie, soos die opname oor armoede wat gekanselleer is.

“Tog lewer SSA goeie diens ondanks die tekortkominge. 93% van die teikens is ondanks die personeeltekort behaal. ’n Skoon ouditmening is ook vanjaar verkry.”

Everatt waarsku egter dat dit verkeerd sou wees om die risiko by SSA te ignoreer.

SSA sê aan Rapport die organisasie gee nou voorkeur aan die verskaffing van basiese statistieke.

“Ons was nie in staat om navorsing te doen oor die huishoudelike inkomste en uitgawes, wat inligting verskaf oor die uitgawepatrone van huishoudings in Suid-Afrika, nie,” sê Trevor Oosterwyk, woordvoerder van SSA.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê die situasie is kommerwekkend.

Hy sê sommige mense beweer een van die groot redes vir die Depressie van die 1930’s was ’n gebrek aan statistieke. Omdat mense nie kon meet wat in die ekonomie aangaan nie, is verkeerde beleid gevolg, sê hy.

“Betroubare statistieke is ’n absolute voorvereiste vir die monitering van ekonomiese bedrywighede in ’n moderne ekonomie soos Suid-Afrika.

“Daar moet geloofwaardigheid wees in die data wat SSA publiseer, byvoorbeeld oor die inflasiekoers. SSA bereken dit en die Reserwebank gebruik dit vir die inflasie-vooruitskattings om te sien wat met rentekoerse moet gebeur.”

Op verskeie ander wyses speel SSA ’n kernbelangrike rol. “Daarom is dit belangrik dat SSA behoorlik gefinansier moet word en die regte hulpbronne en personeel moet hê.”

Oor die kritieke geldtekort by SSA sê Rossouw, wat ook vanaf Januarie die verkose president van die Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika (Essa) is, dis belangrik dat die regering sy bestedingsprioriteite regkry.

“Dis belangriker om SSA behoorlik te finansier as om ’n klomp hopelose staatsondernemings soos Denel en die SAL te probeer red.”

Die regering is bewus van SSA se dilemma. Jackson Mthembu, minister in die presidensie, skryf in sy voorwoord tot die jaarverslag hy is nie blind vir die werklikheid van fiskale stremming op die regering en wat SSA en ander kritieke agentskappe ervaar nie. “Dis onhoudbaar en ons sal moet optree terwyl ons kan.”

Meer oor:  Pali Lehohla  |  Statistieke Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.