Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Basies bankrot ANC’ in krisisbestuur voor verkiesing
Gegriefde ANC-lede betoog Woensdag by Luthuli-huis in Johannesburg oor die party se prosesse met die kandidatelyste. Foto: Melinda Stuurman

Die “basies bankrot” ANC sal sy veldtog vir die komende munisipale verkiesings op krisisbestuur moet bou weens die veelvoudige interne krisisse waardeur dié party geteister word.

Dit is die mening van die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga, wat ook sê die krisisse in die party gaan sy veldtog vir die plaaslike verkiesings op 1 November baie moeilik maak.

Dié krisisse het Woensdagmiddag weer in die openbaar oorgespoel toe ’n groot groep gegriefde ANC-lede van wyke in Mamelodi, Salvokop en Emalahleni (Witbank) betoog het voor Luthuli-huis, die ANC se hoofkwartier in Johannesburg, oor dié party se chaotiese prosesse met die party se kandidatelyste.

Skenkersgeld het opgedroog

Luthuli-huis is egter sedert Augustus gesluit weens ’n onbepaalde staking van ANC-werknemers omdat hulle nie betaal is nie weens ’n geldkrisis in die ANC nadat skenkersgeld opgedroog het.

Een van die betogers, Jamaica Mogaile, het Woensdag gesê hulle wil net hê ANC-leiers moet na hulle luister oor hul klagtes met die kandidatelyste. “As hulle dit nie doen nie, sal ons wegbly op verkiesingsdag.”

Dié kandidatelyste-prosesse is die afgelope ruk ook plek-plek gekenmerk deur betogings en politieke geweld, soos die afgelope naweek in Inanda, Durban, waar drie mense by ’n takvergadering doodgeskiet en vyf ander beseer is.

Verdeeldheid oor Cyril en Ace

Benewens die kandidatelyste- en geldkrisis is die ANC erg verdeeld weens ’n stryd tussen ondersteuners van pres. Cyril Ramaphosa aan die een kant en Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal, en oudpres. Jacob Zuma aan die ander kant.

Mathekga en prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, meen dié krisisse gaan die ANC se verkiesingsveldtog “baie moeilik” maak.

Maar alles sal darem nie vir die ANC verlore wees nie omdat opposisiepartye self “tans taamlik deurmekaar” en “ondoeltreffend” is.

Dinsdag moes Pule Mabe, ANC-woordvoerder, in ’n verklaring ook weer erg walgooi toe hy ontken het dat die party sy eie spertye gemis het om dispute oor kandidatelyste op te los.

Mabe het bygevoeg dat die ANC se onmiddellike taak tans is om gemeenskappe te mobiliseer om die komende naweek vir die plaaslike verkiesings te registreer.

Foto: Melinda Stuurman

Volgens hom sal die ANC ook al sy kandidate teen 21 September vanjaar by die Verkiesingskommissie (OVK) registreer.

Dit volg nadat die ANC teen die vorige OVK-spertyd versuim het om al sy kandidate te registreer. Dit sou daartoe kon lei dat die party sy mag in tot 35 munisipaliteite kon verloor.

Die DA en ander opposisiepartye betwis egter tans ’n OVK-besluit in die konstitusionele hof om sy kandidaatregistrasieproses te heropen omdat dit volgens hulle die ANC bevoordeel.

Mathekga het bygevoeg dat ’n “basies bankrot” ANC dit ook baie moeilik gaan vind om sy verkiesingsveldtog te finansier.

Volgens hom volg die ANC se geldprobleme nadat skenkersgeld opgedroog het weens die nuwe Wet op die Finansiering van Politieke Partye wat vereis dat skenkings by die OVK verklaar word.

Jessie Duarte, ANC-sekretaris-generaal, het vroeër gesê die party sal sy netwerk van vrywilligers landwyd gebruik om sy verkiesingveldtogte in elke wyk te dryf.

Landelike steun word ook minder

Mathekga meen dit “sal ’n wonderwerk wees as die ANC enige metro wen, terwyl sy steun in sy tradisionele landelike steunbasisse ook al hoe minder sal word”.

Volgens Duvenhage het ’n onlangse peiling van die marknavorsingsfirma Ipsos getoon dat die ANC se steun landwyd ondanks sy krisisse steeds op 49,3% draai.

“Dít sê iets oor die meerderheid swart kiesers. Hulle stem vir ’n party wat hulle glo hulle of hul saak kan bevoordeel, soos die ANC en EFF.

“Buiten dié twee partye is daar tans geen sterk alternatief vir hulle nie. ActionSA (van Herman Mashaba) het interessant in dieselfde meningspeiling 1,5% steun gekry, maar dit kom meesal van die DA wat 17,9% steun gekry het.”

Duvenhage meen Magashule en Zuma se gegriefde ondersteuners kan ook verder die ANC-verkiesingsveldtog ontwrig. “Dit gaan ’n moeilike omgewing vir die ANC wees, maar die party bly die simbool van bevryding. Hy sal waarskynlik nog in hierdie verkiesings daarop kan teer.”

Hy glo ook dat ANC-steun erg in metro’s sal afneem en dat baie meer koalisiepolitiek ná die verkiesings gesien sal word.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Plaaslike Verkiesing  |  Anc  |  Bankrot  |  Krisisbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.