Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kritiek teen Mabuza ‘niks nuuts’

Beweringe van korrupsie teen adj.pres. David Mabuza in sy termyn as premier van Mpumalanga in ’n verdoemende artikel in die invloedryke New York Times-koerant, is “niks nuuts nie”.

Adj.pres. David Mabuza Foto: Theana Breugem

Thami Ngwenya, kommunikasiehoof in die kantoor van die adjunkpresident, het Vrydag gesê dit “is net ’n herhaling van kwaadwillige bewerings” sonder bewyse.

Volgens hom maak mense “reeds baie lank” die bewerings wat op 4 Augustus in die artikel getiteld “South Africa Vows to End Corruption. Are It’s New Leaders Part of the Problem?” gepubliseer is.

“Die adjunkpresident het al herhaaldelik, selfs al amptelik in die parlement, gesê mense met inligting oor beweerde misdade wat hy gepleeg het, moet dit by die owerhede aanmeld sodat dit ondersoek kan word.

“Daarom sê ons daar is niks nuuts in die berig nie en die tydsberekening daarvan is ook baie verdag,” het Ngwenya gesê.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, kon nie Vrydag bereik word vir kommentaar op die artikel nie. Die regerende party het ook nog geen enkele woord daaroor gerep nie.

Die artikel lui onder meer hoe die hele land se onderwysstelsel onder die ANC-regering in wanorde gedompel is en só deur korrupsie deurtrek is dat selfs ANC-amptenare verstom is oor hoe min kinders leer in skole. Daarby is daar skole wat so vervalle is dat kinders in puttoilette val en verdrink.

Dit lui verder hoe die gevaarlike situasie met puttoilette in veral Mpumalanga ook ’n weerspieëling is van die deur skandale geteisterde Mabuza, ’n voormalige wiskunde-onderwyser, LUR vir onderwys en premier, se beheer oor dié provinsie.

Verder word verwys na miljoene rande wat vir onderwys bedoel was en onder sy leiding na bewering verdwyn het in ’n “draaikolk van verdagte besteding, slordige openbare konstruksiewerk en onbeskaamde korrupsie” om sy “politieke ambisie” aan te dryf.

Sy teenstanders het aan die koerant gesê sy “skouspelagtige vordering” in die ANC is te danke daaraan dat hy na bewering “geld vir skole en ander openbare dienste herlei het om lojaliteit te koop en om enorme mag te versamel wat dit onmoontlik sou maak om hom op nasionale vlak te ignoreer”.

Hy het etlike nuwe ANC-lede gelok met staatskontrakte, kontant en selfs KFC-maaltye, volgens huidige en gewese ANC-amptenare.

“Mabuza ondermyn die belofte van ’n nuwe dagbreek in die land miskien meer as enige ander lid van Suid-Afrika se nuwe regering ná die uittrede van oudpres. Jacob Zuma,” lui die berig.

Daar word ook geskryf hoe Mpumalanga onder Mabuza een van die gevaarlikste plekke in Suid-Afrika geword het met byna 20 politici, meesal van die ANC, wat die afgelope twee dekades daar vermoor is nadat van hulle beweerde korrupsie daar onthul het.

“In dié tyd het Mabuza se loopbaan gefloreer. Hy het etlike nuwe ANC-lede gelok met staatskontrakte, kontant en selfs KFC-maaltye, volgens huidige en gewese ANC-amptenare.

“Sy opswepende werwingsveldtog het sy relatief onbetekenisvolle provinsie in die ANC se naasgrootste steunblok verander,” lui die berig.

Mabuza se kritici sê verder dat sy rol as Suid-Afrika se tweede magtigste politikus die geloofwaardigheid van die nuwe regering en die ANC se planne om korrupsie vas te vat in die gedrang bring.

* Lees die volledige berig hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.