Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kritiese vrae oor Gautengse Sedtrade-maatskappy

Kritiese vrae word steeds gevra oor die groot stuk grond van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks wat vir R48 miljoen aan die Gautengse maatskappy Sedtrade verkoop is.

Leona Kleynhans, DA-wetgewerlid in die Vrystaat, sê sy wil weet waarom dié party met ’n Paia-aansoek (die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting) by die Vrystaatse departement van openbare werke inligting oor dié verkooptransaksie moes probeer kry omdat die hele projek van die begin af “in groot geheimhouding gehul was”.

Die Paia-aansoek is toe boonop geweier. Nadat in Mei appèl hierteen aangeteken is, is niks weer van die departement van openbare werke gehoor nie.

Volgens Kleynhans sukkel die party al ’n jaar lank om van die regte inligting te kry. Hulle gaan nou ’n regsmening inwin oor wat hulle te doen staan om die inligting “wat openbaar behoort te wees”, te kry.

’n Kaart van die totale terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein. Kaart: Verskaf

Nazir Kathrada, amptelike woordvoerder van Sedtrade, sê die volle koopprys van R48 miljoen vir die grond sal betaalbaar word wanneer dit aan die maatskappy oorgedra word.

Wenkbroue het vandeesweek gelig oor ’n studentekoshuis met 154 eenhede wat Sedtrade in groot geheimhouding op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks bou. Dit staan al dakhoogte.

Boonop het Dan Maritz, woordvoerder van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), gesê sy instansie distansieer hom van die projek.

Kathrada ontken dat die koshuis ’n onwettige struktuur is omdat die Mangaung-metro nog nie die bouplanne goedgekeur het nie en omdat die grond ook nog nie hersoneer is nie.

“Bouplanne hoef nie volgens ons kenners al in die eerste fase van die ontwikkeling goedgekeur te wees waar opknappings en uitbreidings aan ’n bestaande gebou gedoen word nie,” sê hy.

“Dieselfde geld die hersonering van die grond. Dit sal eers vir die volgende fases nodig wees.”

Inwoners wou vandeesweek weet hoe dit moontlik is dat ’n koshuis vir studente by die sale van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks gebou kan word, waar geestesgestremde inwoners bly.

’n Klag is ook ontvang oor ’n erfenisgebou wat glo platgeslaan is.

Kathrada sê hul subkontrakteur het binnemure van die gebou uitgeslaan nadat die nodige toestemming hiervoor verkry is.

Van die R48 miljoen gaan R20 miljoen vir die grond en R28 miljoen vir die skep van grootmaat- munisipale infrastruktuur en dienste wat die maatskappy self moet verskaf.
Gadija Brown

Volgens hom is die regte tenderprosesse gevolg toe die stuk grond bekom is.

“Die Vrystaatse departement van openbare werke het voorstelle vir ontwikkelings aangevra en tenderaars aangemoedig om die grond te koop. Die ontwikkelings moet die plaaslike ekonomie stimuleer, werk skep en plaaslike infrastruktuur verbeter.”

Kathrada sê ’n groot klomp entiteite het toe tenders vir die koop van die grond en ontwikkelings ingedien. Die tenderproses was regverdig en deursigtig en dit is uiteindelik aan Sedtrade toegeken.

Hy beskryf dat as ’n gemengde ontwikkeling bestaande uit ’n behuisings- en kommersiële ontwikkeling. ’n Groot behoefte bestaan aan studenteverblyf en die koshuis sal vir studente van enige universiteit wees.

Kathrada sê die vyf huise aan die voorkant van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks was by die kooptransaksie ingesluit. Dit word nou verbeter.

Gadija Brown, departementshoof van die Vrystaatse departement van openbare werke, het die koopsom van R48 miljoen bevestig en gesê dat Sedtrade reeds R5 miljoen betaal het.

“Van die R48 miljoen gaan R20 miljoen vir die grond en R28 miljoen vir die skep van grootmaat- munisipale infrastruktuur en dienste wat die maatskappy self moet verskaf.”

Sy sê die tenderdokumente kan by navraag aan enigiemand verskaf word. “Daar was verskeie tenderaars, maar Sedtrade was die suksesvolle tenderaar nadat behoorlike prosesse en evaluerings gevolg is.”

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.