Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kry eers regsmening oor NGV-wet, sê DA
Mmusi Maimane, leier van die DA.Foto: ELIZABETH SEJAKE

’n Regsmening moet dringend deur die parlementêre regsdienste ingewin geword oor die grondwetlikheid van die hersiene Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) voordat dit op komiteevlak deur LP’s bespreek word.

As die parlement dit nie vooraf doen nie, kan die wetsontwerp “jare lank in die howe” betwis word, ten koste van belastingbetalers.

Mmusi Maimane, DA-leier – wat nie oortuig is dat die wetsontwerp die toets van grondwetlikheid sal slaag nie – het Dinsdag dié standpunt op ’n mediakonferensie by die parlement gehuldig. Siviwe Gwarube, DA-LP, het saam met hom die mediakonferensie toegespreek.

Die wetsontwerp, wat verlede week in die parlement ter tafel gelê is, maak onder meer voorsiening vir die skep van die NVG-fonds en dit bepaal hoe dit bedryf gaan word. Die wetsontwerp toon ’n bykomende belasting sal dalk vir die NGV gehef moet word.

Die DA is nie oortuig dat die wetsontwerp in sy huidige vorm tot universele gesondheidsorg sal lei nie.

Maimane sê die DA is nie oortuig dat die wetsontwerp in sy huidige vorm tot universele gesondheidsorg sal lei nie, maar “mag sal konsolideer, die private gesondheidstelsel sal verlam en die ekonomie in duie sal laat stort”.

Dit sal volgens hom dalk ook die magte van provinsies ondermyn.

Hy het reeds aan Thandi Modise, speaker van die nasionale vergadering, geskryf om te versoek dat die parlementêre regsdienste ’n regsmening oor die wetsontwerp inwin voordat lede van die portefeuljekomitee oor gesondheid dit bespreek.

Maimane het daarop gewys dat gesondheidsorg in die Grondwet geïdentifiseer word as ’n funksie wat samelopend deur die nasionale en die provinsiale regering gelewer moet word. Dit is dus ’n gebied waarop besluitneming gedeel word tussen die nasionale en provinsiale regering. Dit kom op sigwaarde voor asof die wetsontwerp aktief dié grondwetlik gedeelde mag tussen die nasionale en provinsiale regering beperk, sê Maimane.

Gwarube het uitgewei oor die vyf aspekte van die wetsontwerp waarteen die DA gekant is:

* Die totstandkoming van die NVG-fonds as ’n staatsinstelling;

* Die nasionalisering van gesondheidsorg en die duidelike wegkalwing van provinsiale magte;

* Die fragmentering van die gesondheidstelsel;

* Die bykomende belastinglas vir Suid-Afrikaners; en

* Die algehele verwydering van die keuse van Suid-Afrikaners om hul eie gesondheidsorg te kies.

“Dit gee ons terugflitse van wat gebeur het in sommige staatsinstellings soos ons in die ondersoek na staatskaping gesien het met die Openbare Beleggingskorporasie en Eskom,” sê Gwarube.

Dié wetsontwerp gaan nie oor die voorsiening van gesondheidsorg nie, maar oor die bou van nóg ’n staatsinstelling wat die nasionale fiskus sal verlam.
DA

Maimane sê dit is duidelik dat die NGV gesondheidsorg wil “nasionaliseer” en magte wil wegneem van provinsies en dit op nasionale vlak wil vestig.

“As jy gesondheidsorg slegs op nasionale vlak konsolideer en dit nóg ’n staatsinstelling maak, soos met Eskom en ander, druis dit nie net in teen Bylae 4 (van die Grondwet) nie, maar verseker jy ook dat provinsies wat goed funksioneer in die voorsiening van gesondheidsorg minder het om te doen. Wat ons gesien het, is dat magte en doeltreffendheid beter is as jy dit desentraliseer.”

Op die vraag of die DA nie voortydig is om die wetsontwerp uit te daag voordat dit deur die parlementêre proses is nie, het Maimane gesê daar is reeds loodsprojekte vir die NGV gedoen. “Die staat het reeds meer as R5 miljard in dié projek belê. So waarom bestee ons geld vooruit aan iets wat dalk nie die toets van grondwetlikheid sal slaag nie?”

As daar nie vooraf regsduidelikheid oor die wetsontwerp gekry word nie, is die DA bereid om hom tot “watter hof ook al” te wend om die kwessie te beveg. “Dié wetsontwerp gaan nie oor die voorsiening van gesondheidsorg nie, maar oor die bou van nóg ’n staatsinstelling wat die nasionale fiskus sal verlam,” sê Maimane.

Philip van Staden, VF Plus-woordvoerder oor gesondheid, het ook Dinsdag in ’n verklaring gesê die regering se poging om die gesondheidsdienste te “nasionaliseer en volle beheer oor die administrasie en bestuur daarvan te hê, sal tot gevolg hê dat Suid-Afrika se NGV dieselfde pad gaan loop as Eskom, Transnet, Denel, die SAUK en vele ander. Die NGV gaan net nog ’n maklike manier wees om diefstal te pleeg met belastingbetalers se geld.”

Meer oor:  Ngv-Wet  |  Mediese Sorg  |  Wetgewing  |  Gesondheid. Da  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.