Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kuba se ‘dienste’ kos SA R1,6 mjd.

Die regering het die afgelope vyf jaar R1,614 miljard aan Kuba betaal vir dienste wat werklose Suid-Afrikaners self kon gelewer het.

’n Brandstof-tenkwa op die onderstel van ’n Samil-50, een van die weermagvoertuie wat by Wallmansthal noord van Pretoria deur Kubaanse werktuigkundiges gestroop word vir onderdele. Foto: Wikipedia

Verreweg die grootste deel van die geld kom uit die verdedigingsbegroting, wat só teruggesny word dat die weermag sy operasionele militêre vermoë tot niet maak terwyl Islamistiese rebelle ons buurland Mosambiek op horings neem.

Die Kuba-geld word meestal uitgegee op Projek Thusano, ’n militêre kodenaam vir 150 Kubaanse motorwerktuigkundiges wat sedert 2015 militêre voertuie in stand moet hou en kundigheid verskaf om werkwinkels doeltreffend te bestuur.

Die Suid-Afrikaanse nasionale weermag (SANW) het tot dusver R1,076 miljard aan Projek Thu­sano bestee, het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, Donderdag in ’n skriftelike antwoord in die parlement gesê.

Die bedrag het die parlementslede in die portefeuljekomitee vir verdediging se monde laat oopval, want hulle het op ’n oorsigbesoek aan militêre eenhede in Desember agtergekom dat die Kubaanse werktuigkundiges meestal besig bly deur ou Samil-vragmotors te stroop vir oorblywende, bruikbare onderdele.

Vir perspektief, die ministerie van finansies se begroting beloop vanjaar R8 miljoen.

Dit word by die leër se hoofvoertuig-depot in Wallmansthal, ook bekend as die 4 Voertuig-Reserwepark, noord van Pretoria gedoen.

Die groep van 12 LP’s van alle partye was met hul besoek verbaas dat die Kubane na Suid-Afrika gebring word om sulke elementêre werk te doen.

Volgens die parlementêre verslag daaroor het die Kubane 42 voertuie gestroop en is nog 50 voertuie op hul werkkaart om gestroop te word.

Daar is egter probleme met die eenheid se rekenaarstelsel, wat net drie dae per week werk. Daar is ook tekorte aan gespesialiseerde gereedskap soos alternator-toetsstelle, skakelaar-toetsers en gereedskap om aan lugkleppe te werk.

Net 12 Suid-Afrikaanse lede van die SANW word daar deur die Kubane as werktuigkundiges opgelei in ’n halfhartige poging om die ou Suid-Afrikaanse Tegniese Dienskorps te laat herleef.

Gedurende die besoek het die LP’s die bevelvoerder, lt.kol M.W. Antonio, voor stok gekry omdat sy voorlegging so min inligting bevat het. Hy het aan die voorsitter van die portefeuljekomitee vir verdediging, Vusumuzi Xaba, onderneem om later meer inligting te verstrek, maar tot dusver het dit nog nie gebeur nie. Die Kubaanse werktuigkundiges hou ook voertuie by die Potchefstroomse voertuigdepot in stand.

“Die ergste is dat die Samil-voertuie in Suid-Afrika ontwerp en gebou is deur Denel en Krygkor-filiale. Daar is honderde, indien nie duisende nie, Suid-Afrikaners wat die werk net so goed, maar waarskynlik beter as die Kubaanse werktuigkundiges kan doen,” sê Kobus Marais, DA-woordvoerder oor verdediging.

Van die R1,076 miljard wat aan Projek Thusano bestee is, is R746,3 miljoen die afgelope drie jaar uitgegee. Die koste van die projek het dus skerp gestyg tot meer as R250 miljoen per jaar.

“Die koste word opgejaag omdat hulle tot drie keer per jaar ’n Airbus A340-300 van die SAL huur vir ’n vlug Kuba toe om die tegnici terug te neem en ’n aflosspan weer na Suid-Afrika te bring. Die spanne word elke ses maande omgeruil,” sê Marais.

Die SANW het verlede jaar ook R235 miljoen bestee om medisyne van Kuba te koop en dit onwettig die land in te bring omdat die weermag se nasionale bevelsraad vas oortuig was dat dit soldate teen Covid-19 bestand sal maak. Die medisyne mag nie in Suid-Afrika gebruik word nie en sal waarskynlik nooit beskikbaar gemaak word nie.

Die bedrag is vir die medisyne betaal, maar sluit nie die koste in van die Airbus A340 waarin dit na Suid-Afrika gesmokkel is nie.

Nog R238 miljoen is bestee aan 187 Kubaanse dokters wat hoofsaaklik in landelike gebiede help om Covid-19 te bekamp.

Die skokbedrag van R1,076 miljard wat aan Projek Thusano bestee is, kom kort ná ’n aankondiging van Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, dat sy R65 miljoen begroot om 24 Kubaanse ingenieurs na die land te bring om waterinfrastruktuur te herstel.

Solidariteit het binne ’n paar dae ’n lys met meer as 120 name van Suid-Afrikaanse ingenieurs aan haar verskaf wat graag die werk sal wil doen. Die vakbond het Woensdag hofstukke op Sisulu laat beteken om haar te probeer keer om nog Kubane hierheen te bring.

Marais het in sy toespraak in die begrotingsrede daarop gewys dat die leër se begroting vanjaar met 16,12% teruggesny word wanneer inflasie in berekening gebring word, en infanterie-vermoëns met 23%, maar dat uitgawes aan kontrakteurs vir die leër nogtans met R1 miljard verhoog word.

Die lugmag se begroting word met 24% teruggesny. Besteding aan luggevegvermoëns word met 62% verminder, helikoptervermoëns met 20,3% en besteding aan brandstof vir die lugmag word met 54% verminder.

“Maar die ministerie van verdediging se uitgawes word met R97,2 miljoen verhoog tot R125,5 miljoen. Uitgawes vir reis- en verblyf word met 95,71% verhoog. Net vir perspektief, die ministerie van finansies se begroting beloop vanjaar R8 miljoen,” sê Marais.

Meer oor:  Nosiviwe Mapisa-Nqakula  |  Kubane  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.