Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Kultuurerfenis moet sensitief, grondwetlik beskerm word’

Die erfenis van alle Suid-Afrikaners is onlosmaaklik aan mekaar verbind en enige deel van dié erfenis behoort in gelyke mate aan alle Suid-Afrikaners.

Die erfenis van een groep is volgens die FW de Klerk-stigting ook nie belangriker as dié van ’n ander nie.

“Ons Grondwet heg ’n spesiale waarde aan kulturele inklusiwiteit en gelykheid in Suid-Afrika,” het adv. Jacques du Preez, uitvoerende hoof van die stigting, Woensdag op die vooraand van Erfenisdag gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa sal Donderdagmiddag omstreeks 12:00 sy amptelike Erfenisdag-boodskap virtueel aan Suid-Afrikaners lewer.

Die tema vanjaar is: “Die viering van Suid-Afrika se lewende menslike skatte.”

Die presidensie het Dinsdag gesê dat vanjaar se Erfenismaand toegewy word aan Suid-Afrika se lewende “menslike skatte” soos dr. Esther Mahlangu, Mama Madosini Latozi Mpahleni en Mama Ouma Katrina Letsau.

As ’n gevarieerde en ryk kulturele erfenis soos ons s’n nie op ’n grondwetlike en kultuursensitiewe wyse beskerm en bestuur word nie, stort die inherente verenigingskrag daarvan in duie.

Erfenisdag word vanjaar ook gevier enkele weke nadat Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, in die parlement aangekondig het dat alle standbeelde, simbole en monumente uit die koloniale en apartheidsera na temaparke verskuif sal word van waar dit nou in openbare ruimtes oor die land heen staan.

Ramaphosa en sy kabinet het onlangs ook die skuif na temaparke goedgekeur omdat hulle glo dat “dit tot nasiebou sal bydra en sal verseker dat die land se openbare ruimtes die grondwetlike waardes van ’n post-koloniale en post-apartheid demokratiese bestel weerspieël”.

Du Preez het Woensdag verder namens die FW de Klerk-stigting gesê dat Suid-Afrikaners op Erfenisdag aangemoedig word om hul kultuur, die diversiteit van hul oortuigings en tradisies te vier in dié land “wat aan al sy mense behoort”.

“As ’n gevarieerde en ryk kulturele erfenis soos ons s’n nie op ’n grondwetlike en kultuursensitiewe wyse beskerm en bestuur word nie, stort die inherente verenigingskrag daarvan in duie.

“Omgekeerd, as ons ons gedeelde erfenis, selfs die pynlike aspekte daarvan, kan omarm deur inklusief te wees, kan ons gesamentlik trotser wees, nie net op wie ons is en dit wat ons oorkom het nie, maar ook op wat ons nog steeds saam kan bereik.

“As ons daarin slaag, sal ons ons erfenis, wat ons gedeelde erfenis van die nuwe en grondwetlike Suid-Afrika insluit, beter kan beskerm en koester,” sê Du Preez.

Intussen het Thandi Modise en Amos Masondo, voorsittende beamptes van die parlement, Woensdag in hul Erfenisdag-boodskap gesê dat Suid-Afrikaners vanweë hul eenheid, vennootskappe en sinergieë wat hulle waarlik as ’n nasie karakteriseer, die Covid-19-pandemie oorkom en die land in staat gestel het om na vlak 1 van die staat van inperking te kon beweeg.

Hulle meen dieselfde gees van ubuntu moet ook ingespan word om die ekonomie te herbou en die sosio-ekonomiese probleme op te los.

Modise en Masondo het ook die “ongebreidelde” voorkoms van korrupsie tydens die pandemie sterk veroordeel en gevra dat die strafregstelsel die oortreders moet laat boet.

“Soos ons môre Erfenisdag vier, laat ons ons herverbind tot en ons pogings verskerp om die voortdurende euwels van korrupsie en geslagsgeweld uit te roei,” lui hul verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.