Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kunsteraad ‘kul’ hul hier en daar!

Maatskappye wat tee en versekering verkoop, ’n konstruksiemaatskappy, staatsamptenare, ’n 19-jarige en raadgewers van die minister van sport, kuns en kultuur is glo onder diegene wat stimulusgeld gekry het wat vir kunstenaars bedoel is.

Dié bewerings is vervat in ’n voorlopige verslag oor geld vir kunstenaars uit die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) wat saamgestel is deur die South African Roadies Association (Sara).

Die fotograaf Kutlwano Moagi vroeër vandeesmaand in die kantore van die Nasionale Kunsteraad in Newtown, Johannesburg, waar kunstenaars ’n sitstaking hou. Foto: Deon Raath

Dis Woensdag aan die Valke en spesiale ondersoekeenheid oorhandig. Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, kon nie bevestig of hulle dit gaan ondersoek nie.

’n Groep kunstenaars se sitstaking in die kantoor van die Nasionale Kunsteraad (NAC) in Newtown, Johannesburg, asook in die Sukovs-teater in Bloemfontein is vandag al 47 dae aan die gang. Hulle maak beswaar teen die wanbestuur van die PESP-geld wat deur die NAC geadministreer word.

Luidens die verslag is die PESP-geld onreëlmatig toegeken aan individue en maatskappye wat vroeëre en huidige verhoudings met die raad en die departement het. Ander maatskappye wat glo onreëlmatig daaruit voordeel getrek het, het glo nie aan die minimum vereistes voldoen nie en party is nie eens in die kuns-en-kultuur-sektor nie.

Party van die maatskappye wie se aansoeke om toelaes goedgekeur is, het glo nie eens die basiese vereiste dokumente nie.

Sitstakers se besware val steeds op dowe ore.

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het verlede maand gesê begunstigdes wat aan die NAC verbonde is of was, het uit die fonds voordeel getrek voor of ná hul betrokkenheid.

“Mense het om geld aansoek gedoen en hulle was nie toe lede van die raad nie en hulle is goedgekeur.”

Volgens hom is die staatsprokureurs se regsadvies dat dit nie op ’n belangebotsing neerkom nie.

Die ministerie het die afgelope week in ’n verklaring gesê die departement is gereed om kwotasies aan te vra vir ’n diensverskaffer om die kwessie van die PESP-geld te ondersoek.

Tshepo Mashiane, NAC-woordvoerder, het gesê die raad het die Sara-verslag nog nie ontvang nie, maar ontken die bewerings daarin. Volgens hom is die nuwe raad nie bewus van individuele aansoekers, hul vereistes of hoe hulle dit reggekry het om goedkeuring vir toelaes te kry nie.

Mashiane sê raadslede aan wie toelaes toegeken is, het in hul hoedanigheid as lede van verskeie organisasies daarvoor aansoek gedoen terwyl hulle nog nie in die raad was nie. “Hulle trek nie as individue voordeel nie; hul organisasies trek voordeel uit die PESP.”

Volgens Mashiane het raadslede nog nie geld ontvang nie en sal hulle wag tot al die ander aansoekers se geld uitbetaal is.

Die raad het verlede week ’n hofbevel gekry om die kunstenaars wat die sitstaking hou te mag verwyder. Oor waar dié proses trek, het Mashiane gesê: “Daar is ’n balju van die hof wat by die proses betrokke is. Ons weet nie wat is die jongste inligting daaroor nie.”

Masechaba Khumalo, woordvoerder van Mthethwa se departement, sê sy is nie bewus van die Sara-verslag nie.

Freddie Nyathela, president van Sara, hou egter vol die inhoud is met die NAC en Mthethwa se kantoor gedeel voordat dit aan die Valke en die spesiale ondersoekeenheid verskaf is.

Hy sê Sara het sy ondersoek gegrond op ’n lys begunstigdes wat op die NAC se webwerf verskyn het. Die vereniging het gekyk of hulle by die kommissie vir intellektuele eiendom en maatskappye (CIPC) of as organisasies sonder winsbejag geregistreer is.

Onder die begunstigdes is:

* Die Robbeneiland-museum, wat in staatsbesit is en sy geld van die staat kry;

* ’n Musikant se maatskappy wat in die proses van deregistrasie is en nie ’n belastingsertifikaat het nie;

* Die maatskappy van ’n adjunkdirekteur in Mthethwa se departement;

* Die maatskappye van twee van Mthethwa se span raadgewers;

* ’n Bekende sanger, asook maatskappye wat hy saam met ander besit (altesaam meer as R5 miljoen); en

* Sy dogter, wat verlede jaar as 19-jarige aansoek gedoen het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.