Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kwotas in netbal: AfriForum ‘maak berg van molshoop’

Suid-Afrikaanse Skolenetbal beskou nie AfriForum se aantygings oor rassediskriminasie in skolenetbal in ’n ernstige lig nie en sê die burgerregteorganisasie maak met sy uitlatings daaroor ’n “berg van ’n molshoop”.

Kallie Kriel, hoof van AfriForum, en Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, Woensdag op die nuuskonferensie by AfriForum se hoofkantoor in Centurion. Maree het in sy studentedae self netbal gespeel. Foto: Christiaan du Plessis

Kallie Kriel, hoof van AfriForum, het Woensdag op ’n nuuskonferensie in Centurion gesê sy organisasie het bewyse dat 56 wit netbalspelers op grond van hul velkleur nie in Gautengse skolespanne ingesluit is nie. Die organisasie het keurders by die proewe se puntestate in die hande gekry wat volgens ’n ontleding deur AfriForum wys dié spelers moes volgens meriete wel die span gehaal het.

AfriForum het namens 13 van die benadeelde meisies se ouers ’n amptelike klag by Suid-Afrikaanse Skolenetbal, Gautengse Skolenetbal en Netbal Suid-Afrika ingedien.

AfriForum het ook Dinsdag briewe aan die netballiggame gerig waarin hy onder meer eis dat rassekwotas heeltemal afgeskaf word en dat die benadeelde meisies skriftelik erkenning van Gauteng Skolenetbal moet kry dat hulle wel op grond van meriete gekies moes word.

Di Woolley, president van Suid-Afrikaanse Skolenetbal, sê AfriForum maak net aannames. Sy wou egter nie daaroor uitbrei nie omdat sy nie met AfriForum in ’n geveg in die media betrokke wil raak nie.

“Dit is hartseer dat kinders nou deur grootmense gebruik word om politieke agendas te bevorder,” sê Woolley.

Sy sê sy sal binne die spertyd van twee weke in ’n brief aan AfriForum op sy aantygings reageer.

Woolley glo die ouers wat by AfriForum om hulp gaan aanklop het, oorreageer en is net suur omdat hul kinders nie die span gehaal het nie.

Blanche de la Guerre, hoof van Netbal Suid-Afrika, sê netbal in die land fokus eerder daarop om spelers toegang tot geleenthede te gee as op ras. Sy was Woensdagmiddag nie bewus van AfriForum se aantygings nie.

“As dit waar is dat 56 spelers uitsluitlik op grond van ras uitgelaat is, is dit wreed. Ek sal egter eers self moet ondersoek instel,” sê sy.

Sy het AfriForum daarvan beskuldig dat hy inkonsekwent optree. Sy het verwys na Bokkieweek wat volgens sy Facebook-blad “aan Afrikanerkinders die geleentheid gee om binne volksverband op provinsiale vlak deel te neem”.

Pleks daarvan om kinders uit arm gemeenskappe se talent te ontwikkel om spanne op grond van meriete te behaal, word kwotaspelers nou bloot as versiering gebruik.

“Hoekom maak AfriForum nie ook daaroor geraas nie?” vra De la Guerre.

As die netballiggame nie binne twee weke reageer nie, sal AfriForum hom tot die Internasionale Netbalfederasie in Londen wend in ’n poging om van rassekwotas hier ontslae te raak. Hy hoop ’n beslissing in AfriForum se guns in hierdie verband sal hom groter slaankrag gee om ook teen rassekwotas in ander sportsoorte op te tree.

Volgens AfriForum kom die weglating van die 56 wit meisies uit die span op rassediskriminasie en selfs kindermishandeling neer. Hoewel AfriForum teen rassekwotas gekant is, steun hy die ontwikkeling van spelers uit arm gemeenskappe.

Volgens Kriel kom 49 van die 56 meisies wat op grond van ras, en nie meriete nie, gekies is, van privaat en voormalige model-C-skole.

“Pleks daarvan om kinders uit arm gemeenskappe se talent te ontwikkel om spanne op grond van meriete te behaal, word kwotaspelers nou bloot as versiering gebruik,” sê hy.

Hy sê die 42 swart meisies wat wel op meriete plek gekry het, word ook benadeel omdat die “kwota-etiket nou om hul nek gehang word”.

Meer oor:  Afriforum  |  Kallie Kriel  |  Kwotas  |  Netbal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.