Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Bloed vloei toe EFF-lede mekaar toetakel
Een van die mans wat beseer is in 'n straatgeveg tussen die EFF en hul teenstanders. Foto: VERSKAF

Dit gons in Polokwane nadat die bloed letterlik Maandag in die strate gevloei het toe EFF-lede by ’n luukse hotel handgemeen geraak het met ’n groep wat hulle glo teenstaan.

Lede van die Radical Economic Transformation Forum (RETF) het in die Fushion Boutique Hotel vergader toe Jossey Buthane, EFF-sekretaris-generaal in Limpopo, met ’n bakkie vol EFF-ondersteuners opgedaag het.

Buthane beskuldig die RETF daarvan dat hy onwettig tenders bekom en ondernemings toemaak van swart sakelui wat nie deel van die RETF is nie.

Hy het Maandag op Facebook geskryf: “Vandag patrolleer ek die strate van Polokwane om ons mense te verdedig.”

Clifford Mohloana van die RETF sê Buthane het rooi EFF-hemde uitgedeel aan mense en hulle in die reën agterop ’n bakkie laat ry om die RETF se vergadering te ontwrig.

Die twee groepe het mekaar by een van die hotel se hekke in Suidstraat met die vuiste bygedam.

Op ’n video wat op sosiale media die ronde doen, kan gesien word hoe EFF-ondersteuners RETF-lede skop en met stokke slaan.

'n Bakkie met EFF-ondersteuners Maandag in Polokwane. Foto: Verskaf

Mohloana beweer hulle is ook met elektriese skokstokke bygedam. Van die lede is inderhaas na die Mediclinic Limpopo gevat.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê drie klagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer is by die Polokwane-polisie aanhangig gemaak.

“Die klaers beweer dat die vermeende aanranders bekendes in die gemeenskap is. Ons is besig met ’n ondersoek.”

Mohloana en Buthane het al verskeie kere met die gereg gebots en is aartsvyande.

Buthane is al van openbare geweld, aanranding en aanranding met die opset om ernstig te beseer aangekla. Dié sake, wat onderskeidelik in 2015 en 2017 aanhangig gemaak is, sloer steeds.

Buthane en Julius Malema, EFF-leier, is boesemvriende.

Jossey Buthane, sekretaris-generaal van die EFF, in Limpopo: Foto: Verskaf

Thabo Mabotja, woordvoerder van die RETF, het aan News24 gesê Buthane is “ ’n provinsiale boelie”.

Mohloana is in Desember 2011 daarvan aangekla dat hy Chester Makana, ’n vryskutjoernalis, met ’n baksteen oor die kop geslaan het. Dié saak is in 2012 weens ’n gebrek aan bewyse teruggetrek.

Mohloana het in September 2015 weer opslae gemaak toe hy en ’n groep ouers van die Luthuli Park Combined School in Seshego by die Laerskool Pietersburg-Noord (Noordskool) amok gemaak het.

Hulle het in skooltyd tafels en stoele uit klaskamers gegryp omdat hulle ontevrede was dat daar nie genoeg meubels in die Luthuli Park Combined School was nie.

Clifford Mohloana van die Radical Economic Transformation Forum. Foto: Verskaf

Meer oor:  Eff  |  Polokwane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.