Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Cyril ontspanne voor ‘belangrike’ staatsrede

Sy staatsrede Donderdag is belangrik in die lig van die ekonomie en talle ander uitdagings waardeur Suid-Afrika in die gesig gestaar word, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Hy was Woensdag, ’n dag voor sy staatsrede, in ’n “ontspanne” luim.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa spreek Woensdag lede van die media toe. Hy het Woensdag die parlement besoek om te gaan kyk na die voorbereidings vir Donderdag se staatsrede. Foto: Jaco Marais

Altesame 1 200 gaste, waaronder oudpress. Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe en voormalige speakers van die Nasionale Vergadering, Frene Ginwala en Max Sisulu, het bevestig dat hulle die geleentheid sal bywoon.

Ramaphosa wat geskeduleer is om Donderdagaand om 19:00 die eerste staatsrede van die sesde parlementêre termyn te lewer, het joernaliste Woensdag op die trappe van die Nasionale Vergadering (NV) te woord gestaan.

Hy het, met Thandi Modise, speaker van die NV, Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), en Sylvia Lucas, adjunkvoorsitter van die NRP, by hom, gesê hy is gereed vir die geleentheid.

“Dit is ’n belangrike toespraak met inagneming van waar ons as ’n land is met die ekonomie wat nie baie goed in die laaste kwartaal gevaar het nie. So daar is taamlik baie uitdagings waarvoor ons as ’n nasie te staan kom en waaraan ons moet aandag gee. Dit raak al ons mense, so ek sal met alle Suid-Afrikaners praat,” sê Ramaphosa.

“Ek sal ’n aantal kwessies aanraak wat van belang is vir almal van ons as Suid-Afrikaners. Hiermee hoop ek dat ons as Suid-Afrikaners in staat sal wees om groot te droom, na die sterre te reik en uit te gaan om die Suid-Afrika te kan bou wat ons verdien. Dit is die oomblik waar ons as Suid-Afrikaners vorentoe moet beweeg met groter vasberadenheid na daardie Suid-Afrika wat ons almal verdien ná jare van apartheid en kolonialisme. So ek dink dit is ’n groot geleentheid vir almal van ons.”

Ek sal ’n aantal kwessies aanraak wat van belang is vir almal van ons as Suid-Afrikaners.

Die parlement was Woensdag ’n byenes van aktiwiteite om vir die staatsrede voor te berei. Die seremonie, wat weens geldelike oorwegings aansienlik afgeskaal is, sou aanvanklik dié keer sonder ’n imbongi (pryssanger) plaasvind, maar die parlement sê nou in ’n verklaring dié kwessie word heroorweeg.

Planne is ook ingestel vir moontlike slegte weersomstandighede. Dit sluit ’n binnenshuise rooi tapyt vanaf die NRP na die NV in, pleks van die gewone roete buite in Parlementstraat.

Intussen het politieke partye kwessies geïdentifiseer waarop hulle reken die president moet fokus.

Die DA sê Ramaphosa se toespraak behoort werkskepping, die ekonomie en veiligheid vir almal te prioritiseer. Mmusi Maimane, DA-leier, sê die staatsrede bied aan Ramaphosa die unieke geleentheid om vertroue in die land te herstel deur beleidsekerheid te verskaf wat die ekonomie op die pad van groei en voorspoedigheid kan plaas. Dapper en duidelike besluite is nodig, ongeag hoe ongewild dit dalk kan wees.

Ook die IVP sê dit is belangrik dat Ramaphosa ekonomiese groei voorop stel, werk skep en staatsinstellings stabiliseer.

“Wat nodig is, is dat die president meer beleggingsooreenkomste moet aangaan en die stabiliteit van die land se finansiële instellings, veral die Reserwebank, moet verseker,” lui ’n partyverklaring.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Sona 2019  |  Staatsrede 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.