Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Geen kwade gevoelens tussen Zuma en topses, sê Mashatile

Daar is geen kwade gevoelens tussen oudpres. Jacob Zuma en die ANC se topses leiers nie. Inteendeel, Zuma wil namens die ANC stemme help werf voor vanjaar se munisipale verkiesings.

So het Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC, Saterdag in Ekurhuleni op ’n gedenkdiens vir Chris Hani, vermoorde leier van die SAKP, in ’n onderhoud met die SAUK gesê.

Mashatile het gereageer nadat ’n opname op sosiale media versprei is van die vergadering tussen die topses verlede maand met Zuma oor sy weiering om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn.

In die opname stel Ramaphosa vir Zuma gerus dat hy nie teen hom gekant is of hom in die tronk wil hê nie.

“In jou kop is dit moontlik dat jy sal sê, nee, Cyril Ramaphosa was nog altyd teen my en wou gehad het dat ek tronk toe gaan,” lui die opname.

Ramaphosa gaan voort deur te sê hoewel dit Zuma se beskouing kan wees, was dit nooit sy oriëntering nie. “Ek sien jou as my leier en ouere in die ANC.”

Luidens uitgelekte notas van die vergadering het Zuma op die vergadering uitgevaar teen Ramaphosa en die ANC wat hom “verwaarloos” en aan sy eie lot oorgelaat het om politieke en regsaanvalle teen hom te trotseer. Hy is ook bitter omdat hy “onregverdig” as staatshoof uit sy amp gedwing is.

Oudpres. Jacob Zuma toe hy in November verlede jaar voor die Zondo-kommissie verskyn het.Foto: Gallo Images

Mashatile het gesê dit is jammer dat sowel die notas as die opname uitgelek het omdat dit nie veronderstel was om ’n openbare vergadering te gewees het nie.

Hy het voorts gesê dit was goed dat daar op die vergadering “reguit met mekaar gepraat is . . . Die vergadering is op ’n goeie noot afgesluit.”

Die konstitusionele hof het Zuma tot Woensdag kans gegee om ’n beëdigde verklaring van nie meer as 15 bladsye nie in te dien.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het Zuma ook gevra om getuienis voor die hof te lewer oor wat die “aard en omvang” van ’n moontlike vonnis moet wees, sou die hof hom aan minagting van die hof skuldig bevind.

LEES OOK: Zuma moet sê wat hy as ‘gepaste straf’ beskou

Die kommissie het die hof in Februarie gevra om Zuma van minagting van die hof skuldig te bevind en om hom twee jaar tronk toe te stuur.

Zuma weier om voor die kommissie te verskyn omdat adjunkhoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie lei, volgens hom teen hom bevooroordeeld is.

Ramaphosa, wat die hoofspreker was, en ander senior lede van die party en sy alliansievennote het klem gelê op hoe belangrik eenheid in die regerende party is.

Daar is tans groot onenigheid tussen twee faksies wat ondersteuners is van onderskeidelik Ace Magashule, die party se sekretaris-generaal, en Ramaphosa, ANC-leier.

Meer hieroor volg later.

Meer oor:  Mogoeng En Zuma  |  Politiek  |  Paul Mashatile  |  Anc  |  Zondo Vs. Zuma  |  Anc-Faksies  |  Zondo-Kommissie  |  Topses  |  Oudpres. Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.