Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Helen Zille se ‘time to say goodbye’

“Nostalgies en hartseer,” so het Helen Zille, die premier van die Wes-Kaap, haar laaste oomblikke op die verhoog voor duisende DA-lede in Bellville beskryf.

Die vuurvreterpolitikus het Saterdag haar plek op die DA- podium ingeneem en Andrea Bocelli se liedjie “Time to say goodbye” gesing.

“Julle sal almal in my hart bly voortleef,” het Zille aan die skare gesê.

Zille het DA-lede wat die Bellville-valedrome volgepak het vir die party se aksieplan voor die nasionale verkiesing in Mei kom groet en het haar daarop toegespits om die DA se suksesse in die Wes-Kaap te beklemtoon.

Volgens Zille gaan haar bloed vir altyd blou bly solank die DA by hulle beginsels staan.

“Daar is iets belangriks wat julle kan doen, stem blou,” het sy gesê.

Zille sê die DA moet nie net bloot aanvaar dat hulle die provinsie gaan wen nie en dat hulle hard sal moet werk om die Wes-Kaap te behou.

“Dit sal baie, baie sleg wees as elke provinsie in die hande van ’n korrupte party is. En al hou baie mense van Cyril Ramaphosa, word hy omring deur mense vir wie mag baie belangrik is en wat ’n baie twyfelagtige verlede het.”

Helen Zille, Wes-Kaapse premier tydens die DA-byeenkoms in Bellville in Kaapstad. Foto: Malherbe Nienaber

Zille het van die suksesse en statistieke tydens haar termyn as premier genoem.

Sy het genoem dat geen provinsiale departement in die Wes-Kaap onder ander partye ’n skoon oudit kon kry nie, maar onder die DA het 83% van departemente skoon oudits gekry.

“Die lewe is steeds baie sleg vir baie mense van die provinsie en ons moet wys dat ons dit kan verander. Ons het nie julle geld gesteel nie, ons het vir julle gewerk.”

Die premier het ná haar toespraak met die media gepraat.

“Ek gaan nie weer sing nie, maar dis tyd om totsiens te sê,” het sy gesê terwyl sy hartlik geglimlag het.

Volgens die premier is daar in die wêreld niks beter as ’n DA-massabyeenkoms nie.

“Ek is mal oor die DA-gees. Daar is geen gees soos die DA se gees nie.”

Sy sê dat sy nostalgies en ’n bietjie hartseer voel, maar dat sy die soort mens is wat altyd vorentoe kyk. “Ek is lief vir die DA. Ek is lief vir die mense van die DA en ek is lief vir Suid-Afrika.”

Nalatenskap

Sy sê haar belangrikste nalatenskap is die ekonomiese groei wat die DA in die provinsie bewerkstellig het en dat meer as ’n halfmiljoen mense wat voorheen werkloos was werk het sedert die party aan bewind gekom het.

“Indiensneming het met 24% gegroei, ons werkloosheidsyfer is 14% laer as die nasionale gemiddelde. Dit is my nalatenskap.”

Dinge wat sy anders sou wou doen, sluit in om meer tyd met haar familie deur te bring en al erken sy haar klomp Twitter-flaters deur die jare, sê sy dat sy nooit sal ophou twiet nie.

“Ek sou die kompleksiteit van burokrasieë baie nouer bestudeer het en ek sou gedink het hoe ’n mens doeltreffend kan werk in ’n baie komplekse burokratiese konteks met drie regeringsfere.”

Zille sê nou dat die uurglas in provinsiale regering vir haar leegloop, is sy eintlik eers gereed om premier te wees. “Termyn-limiete is ’n baie goeie ding en hulle moet bestaan,” het sy bygevoeg. “Dus, die groot ervaring wat ek vandag het, sou ek graag wou gehad het toe ek begin het.”

En wat die toekoms vir Helen Zille ná 8 Mei inhou, sê die premier dat daar ’n klomp ou vaardighede is wat sy van nuuts sal moet aanleer en dat sy vir eers dakloos gaan wees as sy uit haar premierswoning by Leeuwenhof uittrek, aangesien sy haar ou huis verkoop het.

“Ek weet nog nie wat ek van plan is om te doen nie, maar ek beplan om ’n bietjie vakansie te hou en te ontspan. Ek is nie seker of ek meer kan ontspan nie! Dis iets wat ek moet toets. Ek sal moet leer hoe om weer te parkeer, want ek is so lank rondgery dat ek nie weet of ek meer kan reverse-parkeer nie. Ek sal moet leer om betyds by plekke te kom, want ek moet faktore insluit soos om na ’n kaart te kyk of GPS te volg en parkering te vind en dit alles,” het Zille gesê.

Zille beplan ook om te skryf. “Ek is lief vir skryf.

“Ek sal sien, my hele lewe lank gaan daar deure vir my oop, wanneer een sluit, maak die volgende een weer oop. Dis die verhaal van my lewe,” het Zille gesê.

Meer oor:  Politiek  |  Da  |  Helen Zille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.