Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Hoeveel keer sê Cele ‘nee’ oor weermag?

Voordat Bheki Cele, minister van polisie, Donderdag aangekondig het dat die weermag in die Wes-Kaap ontplooi gaan word, het hy vir meer as ’n jaar dié versoek verwerp.

Oor die afgelope meer as 12 maande het Cele herhaaldelik in die openbaar gesê daar kan nie gehoor gegee word aan eise van gemeenskappe en politici dat die weermag as vredesmag ingeroep word nie.

Bheki Cele, minister van polisie. Foto: Jaco Marais

By navraag Donderdag waarom daar nie op vroeëre versoeke van die DA gereageer is nie, het Cele gesê hy het na gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) op die Kaapse Vlakte se klagtes geluister en “nie na politici” nie, berig Llewellyn Prince.

Fikile Mbalula, voormalige minister van polisie, het egter al op 10 Oktober 2017 beloof dat die weermag se hulp in die Wes-Kaap en Gauteng gevra gaan word.

Hy het toe gesê hy het opgemerk dat Suid-Afrika deur uiters gewelddadige misdaad geteister word, wat gemeenskappe onveilig maak en laat voel.

Mbalula het vertel dat hy Elsiesrivier in Kaapstad besoek het en een gemeenskapsleier het na bendemisdaad as terreur verwys. “Ek wil vir die mense van Elsiesrivier sê ek het julle gehoor en ek tree op,” het Mbalula gesê.

Teen 24 Mei 2018 het Cele, ná sy aanstelling as minister, egter aan inwoners van Tafelsig, Mitchells Plain, gesê daar is nie sprake van die weermag wat in bendegeteisterde dele van die Kaapse Vlakte ontplooi sal word nie.

Fikile Mbalula, minister van vervoer en voormalige minister van polisie. Foto: Felix Dlangamandla

“Ons verklaar nie oorlog nie, so ons gaan nie die weermag hierheen bring nie.”

Mmusi Maimane, DA-leier, het op 3 Julie 2018 besoek afgelê aan Nyanga – die sogenaamde “moordhoofstad” van die land – en benadruk dat die ontplooiing van die weermag van die “grootste belang” is omdat die toestande nie verander het sedert Mbalula se belofte in 2017 nie.

Ten tyde van die gewelddadige betogings in Zwelihle, Hermanus, in Julie verlede jaar het inwoners ook aangedring dat die weermag onmiddellik ontbied word en het Helen Zille, voormalige premier, later getwiet dat Cele dié versoek geweier het.

Cele het op 19 Julie 2018 op ’n vergadering in die Wes-Kaapse polisie se hoofkantoor in Groenpunt herhaal dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) nie ontbied sal word nie.

Hy het toe teruggekap teen die DA se #SendTheArmyNow-optog teen misdaad in Nyanga en gesê die weermag word nie benodig nie, “want soldate is nie in polisiëring opgelei nie”.

“Daar is dinge wat soldate nie kan verdra soos die polisie nie. Die polisie sal byvoorbeeld nie op vlugtende verdagtes skiet nie, terwyl die weermag sal. Ons sal eerder die getal polisielede in misdaadgeteisterde gebiede vermeerder, maar nie die weermag inroep nie. Ek dink nie die mense van Kaapstad soek die weermag nie – hulle wil net veilig wees.”

Op 10 September 2018, ná die bekendstelling van die misdaadstatistieke vir die boekjaar 2017-’18, het Zille weer getwiet dat dié syfers bevestig hoe noodsaaklik dit is om die weermag in te roep.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier.Foto: Peter Abrahams/Son

Volgens die misdaadsyfers het 83% van bendeverwante moorde in die land in die Wes-Kaap plaasgevind – 808 uit die 973 bendeverwante moorde landwyd. In die Wes-Kaap is 3 729 mense in dié tydperk vermoor, ’n toename van 418 (12,6%) teenoor die vorige boekjaar. Landwyd is 20 336 moorde in die boekjaar aangemeld.

Tien van die 30 polisiekantore met die meeste moorde is ook in Kaapstad, luidens die misdaadsyfers.

Cele het op ’n mediakonferensie oor die misdaadstatistieke gesê dit is nie die mense in die Wes-Kaap wat vra dat die weermag ontplooi word nie, maar die politici.

“Herstel die paaie, ligte, en takel die gebrek aan toilette in gemeenskappe. En hou op om die weermag na die Wes-Kaap in te roep. Mense kort toilette en nie die weermag nie.”

Op 2 November 2018 het pres. Cyril Ramaphosa en Cele die polisie se teenbende-eenheid in Hanover Park, Kaapstad, bekend gestel nadat die eenheid al sedert 8 Oktober in Manenberg, Hanover Park, Bishop Lavis, Nyanga en Mitchells Plain werksaam was.

Ramaphosa het toe aan inwoners jammer gesê dat dié wending so lank geneem het en dat bendes se tyd verstreke is.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid.Foto: Peter Abrahams/Son

Cele het later in November 2018op die Safer Western Cape-beraad in Kaapstad gesê dit maak nie saak hoeveel polisielede aangestel word nie, “daar sal geen veiligheid wees” as mense se omstandighede nie verbeter nie.

“Selfs al is die helfte van die bevolking polisielede, as hulle nie met die gemeenskap saamwerk nie, sal daar nie veiligheid wees nie. As mense in onleefbare toestande woon, sal daar geen veiligheid wees nie.”

Teen 27 Februarie 2019 het die polisie nog ’n versoek van die provinsiale regering dat die weermag ontbied word geweier en het Cele aangedui dat ingrypings in die Wes-Kaap reeds “vrugte afwerp”.

Dit was in reaksie op ’n geskrewe versoek van Alan Winde, voormalige LUR vir gemeenskapsveiligheid.

Cele het op 8 Maart 2019 met ’n besoek aan Lavender Hill ná versoeke van die gemeenskap gesê die teenwoordigheid van die weermag in bendegeteisterde gebiede is “nie ’n opsie nie”.

Helen Zille, voormalige premier van die Wes-Kaap. Foto: Malherbe Nienaber

Hy het toe gesê dit sal nie veilig wees nie en sal tot meer sterftes kan lei.

“Daar is nie ’n enkele soldaat wat opgelei is om dit te hanteer nie en soldate kry ook nie rubberkoeëls nie. Daar is nie ’n enkele soldaat wat nie sal reageer as daar ’n situasie ontstaan nie.”

Die Wes-Kaapse regering het toe op 29 April 2019 ’n interregeringsdispuut met die polisie verklaar nadat briewe van Winde aan Cele in Oktober en Desember 2018 nie beantwoord is nie.

Op 6 Mei 2019 het Cele in ’n TV-onderhoud betwyfel dat misdaad in die provinsie wel aan die toeneem is en het hy gesê dit gaan eerder daaroor of mense veilig voel.

Hy het aangevoer dat die Wes-Kaapse regering “lieg” oor die aantal polisielede in verhouding tot die bevolking.

Met ’n besoek aan Lavender Hill op 26 Junie 2019, ná die moord op sers. Donovan Prins (34), het Cele ook gesê dat hy nie hoor dat gemeenskappe vra die weermag moet ontplooi word nie.

“Ek hoor dat politieke partye dit vra, maar nie die gemeenskappe nie.”

GPF’s in Mitchells Plain het op 1 Julie 2019 met Cele vergader oor bendegeweld op die Kaapse Vlakte en meer hulpbronne en ’n aksieplan is geëis.

Sandy Schuter, Strandfontein se GPF-voorsitter, het toe gesê dat inwoners deur misdaadtoneellint gevangene gehou word. Dit was in verwysing na die polisielint wat gebruik word om misdaadtonele af te sper. “Daarom vra ons dat die weermag ingebring word om polisielede by te staan, nie om oor te vat nie.”

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het Woensdag in ’n verklaring gesê 1 995 onnatuurlike sterftes is tussen Januarie en einde Junie 2019 aangeteken as gevolg van skiet- en steekwonde.

In Junie was daar 448 lyke wat as gevolg van moordsake by lykshuise ontvang is, teenoor 344 in Junie 2018.

Hy het toe weer ’n beroep op Cele gedoen om die weermag te ontbied, gemeenskappe wat onder bendegeweld ly te stabiliseer en om meer polisielede in die provinsie aan te stel.

In Junie is daar ook berig dat tien mense daagliks in die Wes-Kaap vermoor word, aan die hand van getalle van forensiese dienste en nie dié van die polisie nie.

Winde, Wes-Kaapse premier, het toe herhaal dat die verhouding van polisielede tot die bevolking 1 tot 509 in die Wes-Kaap is en op 1 tot 560 inwoners in Kaapstad staan, teenoor ’n nasionale gemiddeld van 1 tot 375 inwoners.

Luidens die misdaadsyfers vir 2017-’18 het Nyanga die meeste moorde (308) onder polisiekantore in die land gehad.

Ander polisiekantore in Kaapstad onder die top-30 met die meeste moorde is Philippi-Oos (205), Delft (195), Khayelitsha (192), Kraaifontein (186), Guguletu (182), Mfuleni (157), Harare (142), Mitchells Plain (140) en Bishop Lavis (98).

Met 279 uit 985 van die kindermoorde in die land, het die Wes-Kaap ook die hoogste kindermoordsyfer in dié boekjaar gehad.

Grafika24
Meer oor:  Bheki Cele  |  Wes-Kaap  |  Bendegeweld  |  Misdaad  |  Politek  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.