Hy ondersteun Maseko ten volle, sê eNCA in sy kommentaar op Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, se “interaksie” met die joernalis Samkele Maseko tydens ’n regstreekse onderhoud op die televisiekanaal.
Duarte, wat die nuusmedia Dinsdag oor die uitslag van die ANC se nasionale werkskomitee se vergadering toegespreek het, was ontevrede oor ’n vraag van Maseko. Maseko se vraag het gehandel oor ontevredenheid oor die party se kandidatelys.
Duarte het aan Maseko gesê enige “aanvallende vrae” moet aan die nasionale woordvoerder gestel word.
“Mnr. Samkelo [sic], jy het die gewoonte om mense te wil intimideer, asof jy die koning van die media is.”
“Jy is die ergste boelie wat ek al teëgekom het. Ek nog nooit iemand so arrogant teëgekom nie. Jy wil vryheid van spraak verdedig waarvoor jy nooit geveg het nie. Wat moet ons doen? Voor jou buig en jou My Heer noem?”
Jeremy Maggs, hoofredakteur, sê hulle verwerp die stelling dat die televisiekanaal ’n agenda teen Duarte of die ANC het.
“Ons verwerp ook die suggestie dat die joernalis vir Duarte sou boelie.
“In die robuuste onderhoud in die politieke klimaat voor die verkiesing het ons die reg as mediamaatskappy om vrae, wat ons meen in die openbare belang is, aan politieke verteenwoordigers van alle partye te vra. Ons sal so voortgaan.
“Duarte se stelling dat ons leuse voor die verkiesing in 2016 ‘Tyd vir Verandering’ was, is verkeerd. Ons het die klingel ‘Jou onafhanklike verkiesingskanaal’ gebruik,” het Maggs gesê.
Dakota Legoete, waarnemende nasionale ANC-woordvoerder, sê die ANC neem kennis van die “eensydige weergawe van die interaksie tussen Maseko en Duarte.
“Duarte het aan die begin van die vergadering gesê sy gaan net die verklaring lees, en dat ander vrae aan die waarnemende nasionale ANC-woordvoerder gestel moet word.
“Maseko het daarna ’n onaanvaarbare en onprofessionele uitbarsting gehad.
“Duarte het ’n vergadering met eNCA en die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) aangevra. Sy het ook haar toewyding aan mediavryheid en redaksionele onafhanklikheid herhaal.”