Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Klagte teen Modise ‘politieke komplot, bekook’

Thandi Modise, speaker in die parlement, se ondersteuners meen die aanklagte van dieremishandeling teen haar is “deur sekeres binne die ANC met die hulp van die DA bekook”.

“Ons sal dit nog blootlê dat die aanklagte polities gemotiveerd is en dat haar plaas destyds gesaboteer is om water- en voervoorsiening vir die diere te belemmer,” het Raymond Elisha, ’n voormalige LUR en hoofsweep van die ANC in Noordwes, Dinsdag buite die streekhof in Potchefstroom gesê.

Modise het Dinsdag hier op die eerste dag van haar verhoor skuld ontken op ses aanklagte van dieremishandeling en -verwaarlosing.

Thandi Modise Dinsdag in die streekhof in Potchefstroom. Foto: Deaan Vivier

AfriForum vervolg haar privaat namens die Nasionale Raad van die Dierebeskermingsvereniging (NRDBV) nadat die nasionale vervolgingsgesag besluit het om haar nie te vervolg nie, glo weens ’n gebrek aan bewyse.

Modise het vroeër beweer sy was nie bewus van die toestande en erge dierelyding op haar plaas toe die NRDBV op 5 Julie 2014 daar opgedaag en die haglike omstandighede aangetref het nie. Sy sê haar plaasbestuurder moes na die diere omsien.

Adv. Gerrie Nel, aanklaer en hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het Dinsdag skokkende foto’s van onder meer karkasse wat daardie dag op die plaas aangetref is, op ’n skerm in die hof vertoon. Daar was karkasse in verskillende stadiums van ontbinding. Van die varke het vasgesit waar hulle deur openings uit die varkhokke probeer kom het. Een was vasgevang tussen ’n paal en ’n muur. Dié varke het net daar gevrek omdat daar blykbaar niemand was om na hulle om te sien nie.

Grace de Lange, senior inspekteur van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging, Dinsdag in die hof se getuiebank. Foto: Deaan Vivier

Grace de Lange, senior inspekteur van die NRDBV, het getuig in die elf jaar wat sy in die plaasdierebeskermingseenheid werk, was dit van die verskriklikste tonele wat sy tot nog toe aanskou het. Onder meer 53 varke, 19 skape en bokke, asook vier hoenders se karkasse het in krale en hokke rondgelê. Meer as 224 diere moes van kant gemaak word omdat hulle erg verswak was. “Van hulle was te swak om op te staan,” het De Lange getuig.

“Ek kon die skape se beendere deur die wol voel. Daar was nêrens, ook nie in enige van die buitegeboue, medisyne, kos of water vir die diere nie. Hulle het nie behoorlike skuiling gehad nie. Die diere het na ons gehardloop. Hulle doen dit tipies wanneer hulle uitgehonger is. Die varke het aan ons bene gebyt. Van die varke het aan die ander varke se karkasse probeer vreet.”

Van die tonele wat steeds by De Lange spook, is hoe uitgehongerde varke ’n pasgebore varkie verorber het net nadat hy gebore is.

“Toe een van die varke piepie, het die ander varke dit gedrink. Twee putte is op die plaas gegrawe waarin dooie karkasse en beendere gelê het. Die stank van verrotte vleis het in die lug gehang.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, Dinsdag in die hof. Foto: Deaan Vivier

De Lange het getuig daar was geen plaasbestuurder of -werker in sig nie en dat sy eers later gehoor het die plaas behoort aan Modise. “My toesighouer het haar gebel en haar oor die toestande ingelig.”

De Lange het getuig die posisies waarin van die karkasse gevind is, dui daarop dat die diere probeer het om uit die hokke te ontsnap, op soek na lig en dalk ook kos.

Adv. Dali Mpofu SC, Modise se regsverteenwoordiger, wou by De Lange weet hoe sy kan weet hoe die diere gevoel het.

“Diere voel ook pyn en swaarkry, hulle maak op mense staat om na hulle om te sien,” was haar antwoord.

Thandi Modise praat Dinsdag in die hof met haar advokaat, Dali Mpofu SC. Foto: Deaan Vivier
Thandi Modise Dinsdag in die beskuldigdebank in die hof. Foto: Deaan Vivier

Mpofu het in verwysing na die feit dat die diere in krale of geboue toegemaak was, vir De Lange gevra of hulle nie beter daaraan toe sou wees indien hulle vrylik op die plaas kon wei nie. De Lange het gesê dit sou nie ’n groot verskil maak nie omdat dit in die middel van die winter was en die weiding min met swak voedingswaarde was. “Alle boere gee in die winter bykomende voeding vir hul diere; hierdie diere moes gevoer word.”

Op ’n vraag van Mpofu aan De Lange of sy in die woonhuis was en gesien het wat daarbinne was, het sy nee gesê. Mpofu het aan haar gesê hul inspekteurs het mense op die plaas glo met die k-woord geskel.

“Ek is nie bewus daarvan nie, dit sou onaanvaarbaar wees,” het De Lange geantwoord.

Die verhoor duur Woensdag voort.

Adv. Gerrie Nel se “rassisme”

Die “rassisme in Gerrie Nel se kop sal gou uitgeskop word”, het James Gadinabokao, provinsiale sekretaris van Sanco in Noordwes, Dinsdag by die landdroshof in Potchefstroom landdroshof gesê.

“Ons gaan nie die kwessie van versoening verder neem solank as wat die Afrikaners in hierdie land nie met swart mense versoen wil raak nie,” het hy gesê.

’n Verteenwoordiger van Sanco het glo ook in die hof gedreig om Nel “se neus te breek”. Die polisie het hom toe verwyder.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.