Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: N-Kaap se Saul sê nee vir rooi tapyte, blou ligte

Alle rooi tapyte en blouligbrigades sal voortaan vir hom en sy kabinet verbode wees, het dr. Zamani Saul, nuwe Noord-Kaapse premier, Woensdag in Kimberley in sy inhuldigingstoespraak gesê.

Dit laat net die Noord-Kaapse polisiekommissaris wat ’n bloulig-gevolg in dié uitgestrekte provinsie sal gebruik.

Saul is saam met 29 ander partyverteenwoordigers deur regterpresident Pule Tlaletsi van die Noord-Kaap as wetgewerlede ingehuldig.

Saul het ’n gebed aangehaal waarin hy God verskoning vra vir “selfsug en arrogansie”.

Dr. Zamani Saul is Woensdag as nuwe Noord-Kaapse premier ingehuldig. Foto: Charné Kemp
Dr. Zamani Saul luister na sy benoeming as Noord-Kaapse premier. Foto: Charné Kemp

Hy het ook hulp versoek om “ ’n lig te wees wat helder in donker plekke skyn en ’n brug vir mense in nood te wees”.

“Help ons in die Noord-Kaapse wetgewer om eerbare en beter diensknegte te wees.”

Sy woorde het luide toejuiging van die sowat 2 000 teenwoordiges in die Mittah Seperepere-konferensiesaal uitgelok.

“Ek wil baie graag saam met die opposisiepartye werk om ’n beter samelewing te skep. Ek het met ons verkiesingsveldtog in die droë wildernis van die Kalahari oorgebly, die bruisende Augrabies-waterval beleef, die samevloeiing van die Vaal- en Oranjerivier bewonder en is in die wolklose hemelruim van die Karoo verwelkom. Ons mense het gesê hulle verlang na ’n moderne, groeiende en suksesvolle provinsie. Dít is ons mandaat vir die volgende vyf jaar.

Dr. Zamani Saul se ma, Nodayephi Saul, was ook in die gehoor waar hy as Noord-Kaapse premier ingehuldig is. Foto: Charné Kemp

“My administrasie sal nie deur politieke hooghartigheid gekenmerk word nie. As premier sal ek steeds na winkels, restaurante, die gimnasium en kerk gaan sonder ’n gevolg van blou ligte en rooi tapyte wat uitgerol word. “Staatsprotokol sal nie verhinder dat ek met gewone mense, vriende en kamerade sal saamkuier nie. Politici is nie koninklikes nie, maar aktiviste. Alle staatshulpbronne moet vir die mense gebruik word.”

Saul sê hy sal sy taak met ’n onwrikbare gewete en nederigheid verrig.

“Ons het ’n enorme verantwoordelikheid om die maatskaplike uitdagings te pak. Die sesde administrasie sal hard werk, vernuwend dink en groot veranderinge meebring.

“As die kind van ongeletterde ouers (’n huiswerker en werker), het ek in ’n informele nedersetting in Petrusville grootgeword. Vandag is ek ’n voorbeeld van die eindelose moontlikhede in Suid-Afrika.”

Dr. Zamani Saul, nuwe Noord-Kaapse premier, by Newrene Klaaste, speaker, en Mangaliso Matika, adjunkspeaker.Foto: Charné Kemp
Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, lag toe Shadrack Tlhaole, die EFF se provinsiale voorsitter, sy helm op sy kop wou sit. Foto: Charné Kemp

Hy het die ANC en sy familie vir hul ondersteuning bedank.

Newrene Klaaste, nuwe speaker, het ’n gelag ontlok toe sy die EFF die “Ekonomiese Vryheidsfront” genoem en daarop etlike kere verskoning gevra het. Shadrack Tlhaole, die EFF se provinsiale sekretaris, het haar verskoning glimlaggend aanvaar.

Aubrey Baartman, EFF-voorsitter, en Danie Coetzee, VF Plus-LW, het hul eedsverklarings in Afrikaans afgelê, en Tlhaole en Kesholohetse Lepolesa, EFF-LW, in hul moedertaal.

Die adjunkspeaker is Mangaliso Matika wat verlede jaar te midde van protesaksie en onder groot druk as burgemeester van Kimberley bedank het.

Andrew Louw, DA-leier, word as wetgewerlid ingehuldig. Foto: Charné Kemp
Danie Coetzee van die VF Plus word as Noord-Kaapse LW deur regterpresident Pule Tlaletsi ingehuldig.Foto: Charné Kemp
Meer oor:  Dr. Zamani Saul  |  Kimberley  |  Noord-Kaap  |  Rooi Tapyt  |  Inhuldiging  |  Politiek  |  Nuwe Premier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.