Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Vlak 3? Geen rede tot paniek, sê Cyril

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagmiddag virtueel vrae in die Nasionale Raad van Provinsies beantwoord. 

Van die vrae wat Ramaphosa beantwoord het, het oor geslagsgeweld, die doeltreffende bestuur van munisipaliteite, die omstrede vlug na Zimbabwe, Covid-19-tenderbedrog en die gerugte dat Suid-Afrika weer aan vlak 3 van die inperking onderwerp kan word, gehandel.

27 Okt. 17:37:48

Masondo bedank Ramaphosa. Dit is die einde van die sessie.

27 Okt. 17:37:41

Ramaphosa sê hy is net so gefrustreerd oor die lang tydsduur wat dit neem om wetgewing in SA deur te voer.

Hy sê die misdadigheid neem in daardie tyd net toe.

Daar moet gekyk word na hoe die proses verkort kan word.

Hy sê die regering se vasberadenheid om die misdadigheid te stop, is nou baie sterker.

"Ons gaan nou oorslaan na eerste rat om seker te maak dat die oortreders so vinnig moontlik skuldig bevind en gevonnis word. Ons soek tot 30 jaar tronkstraf vir mense wat skuldig bevind word aan die vandalisering van spoornetwerke en skole. Ons sal daar kom.

"Ek is tevrede want die wetstoepassingsagentskappe funksioneer nou baie beter. Dit gee my moed. Ons is onderweg na beter dienslewering en om die land te hervorm. Om die SA van ons drome te bou. Ons moet dit as 'n kollektief doen. Hierdie is 'n belofte wat ons aan die mense van die land gemaak het toe ons as LP's ingesweer is. Ons sal vorentoe dinge laat gebeur en die toekoms sal baie beter wees."

27 Okt. 17:29:41

Nog 'n opvolgvraag is oor wat van die wetgewing geword het dat mense tot 30 jaar tronkstraf opgelê kan word vir die vandalisering van kritieke infrastruktuur.

27 Okt. 17:27:26

"Ek vind die vandalisering van skole net so ernstig as dié van die spoornetwerke. Ons moet dit alles stopsit. Ons probleme is daarom baie breed. Ons kan nie net op een gebied fokus nie. Ek is vol vertroue dat ons met dit wat ons in plek gaan stel, agter die kap van die byl gaan kom oor waarom mense sulke dade pleeg."

27 Okt. 17:25:49

Die president sê daar word aan planne gewerk om mense wat infrastruktuur vandaliseer, behoorlik vas te vat en hulle vir hul dade te laat boet.

Hy sê dat 'n aantal projekte geïmplementeer sal word om die veiligheid by sleutel-spoornetwerke op te skerp. Hommeltuie en verskeie ander tegnologiese veiligheidsmetodes sal hiervan deel uitmaak. Die vervoerstelsel is baie belangrik vir die land en die regering moet dit beskerm.

"Ons moet seker maak dit werk so doeltreffend as moontlik omdat dit die lewensaar van die ekonomie is. Ekonomiese herstel sal net gebeur as ons vervoerstelsels doeltreffend werk. Daar is geld opsygesit hiervoor."

27 Okt. 17:14:59

Die laaste hoofvraag handel oor infrastruktuurontwikkeling.

Ramaphosa sê daar is is 'n veiligheidsplan waaraan gewerk word vir alle strategiese projekte, soos kragstasies en ander kritieke instellings soos spoorpendelnetwerke.

Hy sê vroeë-waarskuwingstelsel sal in plek gestel word om dit voortaan te beskerm.

Alle Suid-Afrikaners moet egter help om 'n betroubare openbare vervoerstelsel daar te stel wat die miljoene pendelaars daagliks veilig kan vervoer.

27 Okt. 17:12:49

Ramaphosa sê sy gesprekke met die wetstoepassingsagentskappe is deur middel van die minister van justisie en die minister van polisie.

"As ek vergaderings met die agentskappe het, is dit oor hulpbronne as hulle 'n gebrek daaraan het. Ek het dit van die begin af duidelik gemaak dat ek nie polities by hul werk wil inmeng nie. Hulle moet onafhanklik wees. Waar hulle versterk moet word of hulpbronne moet kry, sal ons ontmoet en daaroor praat. Hulle moet die wette afdwing. Hulle het nie 'n president nodig wat oor hul skouer loer nie."

27 Okt. 17:12:21

Ramaphosa word gevra of hy met die Valke en NVG gesprekke gehad het oor hul ondersoeke en vervolgings.

27 Okt. 17:08:50

Ramaphosa antwoord die wetstoepassingsagentskappe wat betrokke is, is bemagtig en daartoe verbind om hul werk te doen.

"Ons het volle erkenning aan hul pogings gegee. Hulle het self hiermee begin en besluit dat hulle moet saamwerk. Ons het dit goedgekeur. Dit was soos 'n toetsrit en dit werk goed.

"Ons sien dat dit in die toekoms volhou word. Dit is 'n voorbeeld van geïntegreerde samewerking tussen verskillende staatsentiteite. Ons bespaar daardeur geld terwyl die werk gedoen word. Dit gaan oor instellings wat 'n manier gevind het om, gestruktureerd met mekaar saam te werk.

"Gaan dit volhou word? Ja. Dit het gewys dat dit 'n baie doeltreffende en fantasiese metode is om misdaad te beveg. Meer as dit is dit 'n proses waar die oppergesag van die gereg in die land versterk word.

"Dit is instellings wat vroeër doelbewus verswak is wat nou saamwerk om die mense van die land te dien. Daar is geen enkele instelling wat gekompromitteerd sal wees nie omdat hulle self wigte en teenwigte vir mekaar het. Dit is 'n wonderlike stelsel wat ons verder kan neem."

27 Okt. 17:02:01

'n Opvolgvraag lui onder meer oor hoe die huidige momentum van vinnige ondersoeke en arrestasies van oortreders  volhou sal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.