Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: DA 'respekteer' Mashaba se besluit

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het sy bedanking op 'n nuuskonferensie aangekondig in reaksie op Helen Zille se verkiesing tot voorsitter van die DA se federale raad. Volg die regstreekse dekking hier.

  • Die DA se federale raad het Helen Zille (68), voormalige Wes-Kaapse premier, Sondagoggend in Johannesburg in ’n verkiesing bo Athol Trollip, Mike Waters en Thomas Walters tot die belangrike pos van voorsitter van die DA se federale raad verkies.
  • Daar is wyd bespiegel Mashaba gaan aankondig dat hy die DA verlaat en het luidens berigte vroeër al gedreig hy gaan loop as die party oorgeneem word deur wat hy as “regse elemente” bestempel.
21 Okt. 12:50:32

DA 'respekteer' Mashaba se besluit

Die DA sê in 'n verklaring hy respekteer die besluit van Herman Mashaba om as burgemeester van Johannesburg te bedank.

In die verklaring, wat deur Solly Malatsi, nasionale woordvoerder, uitgereik is, sê die party sy federale raad gaan dringend vergader om die impak van Mashaba se bedanking te bespreek om "politieke stabiliteit in Johannesburg te verseker".

Die DA meen hy en sy koalisievennote het beduidende vordering gemaak in die bestuur van die stad, veral wat betref die bekamping van korrupsie en die verskaffing van kwaliteit dienste.

"In slegs drie jaar het die koalisieregering, met die DA wat die leiding geneem het, groot vooruitgang gemaak. Dit sluit in: 

"1 500 metropolisiebeamptes is aangestel om misdaad te bekamp.

"Die nuwe teen-korrupsie-eenheid het meer as 5 335 sake geïdentifiseer wat meer as R34 miljard beloop.

"Daar is 'n toename in beleggings in die middestad van R5 miljard na R16.355 miljard om bekostigbare behuising en studentverblyf te bou.

"Die stad se voorlopige verslae dui aan dat aan die einde van die 2018/19 finansiële jaar was die stad in 'n sterker finansiële posisie met 'n kontantbalans van R4.4 miljard.

"Die voorlopige verslag van die nasionale tesourie oor plaaslike regerings se inkomste en uitgawes, wat in September gepubliseer is, toon aan die Stad Johannesburg is die toppresterende metroraad in die land is wat betref totale inkomste gegenereer (98.5% van wat begroot is). Wat besteding betref was Johannesburg tweede (97.5% van wat begroot is), naas Buffalo City (Oos-Londen).

"Ons gaan nie struikel in ons missie om ware verandering in Suid-Afrika te weeg te bring nie. Ons bedank Mnr. Mashaba vir sy diens aan die mense van Johannesburg en die DA."

21 Okt. 11:40:10

ANC meen Mashaba "hardloop weg"

Die ANC in die groter Johannesburg-streek het in 'n verklaring gesê hy is nie geskok deur Herman Mashaba se bedanking as burgemeester van Johannesburg nie.

"Mashaba se bedanking het bitter min te doen met Helen Zille se verkiesing tot voorsitter van die DA. Sy bedanking is is weens die ernstige finansiële krisis waarin hy die Stad Johannesburg geplaas het."

Die ANC meen Mashaba lieg al lank oor die ware stand van sake. 

"Mashaba hardloop weg van die waarheid wat binnekort gaan uitkom dat die stad bankrot is en dat die basiese koste van water- en elektrisiteitsvoorsiening aan inwoners nie gedek kan word nie, ook nie werkers se salarisse nie.

"Mashaba is 'n slegte verloorder; hy is nie 'n demokraat nie."

Die ANC meen Mashaba tree soos 'n kind op nadat hy 'n stryd binne sy party verloor het, en dat hy aandag soek.

"Hy het 'eerbare' uitweg nodig en Zille wat verkies is die perfekte verskoning."

21 Okt. 11:28:51

Mmusi Maimane, DA-leier, en Herman Mashaba nadat hulle albei die media toegespreek het. Foto: Felix Dlangamandla

21 Okt. 11:27:54

Aanhalings uit Herman Mashaba se bedankingstoespraak:

– "The DA no longer represents a party that is able to achieve what I desire most, a movement that can save South Africa, unseat the ANC and deliver One South Africa for All. Without this I am deeply concerned for the future of South African politics."

– "I maintain that coalitions are the future of South African politics. For a political party to back away from such arrangements 18 months before a local government election that will invariably produce more coalitions, is tantamount to declaring itself to be unsuitable for the future."

– "The election of Helen Zille as the Chairperson of Federal Council represents a victory for people in the DA who stand diametrically opposed to my beliefs and value system, and I believe those of most South Africans of all backgrounds. I cannot reconcile myself with a group of people who believe that race is irrelevant in the discussion of inequality and poverty in South Africa in 2019."

– "I cannot reconcile myself with people who do not see that South Africa is more unequal today than it was in 1994. I cannot reconcile myself with people who fail to realise that we have a patriotic duty to unseat the ANC and save our country before it is too late. With this grouping of people succeeding in their effort to take over the DA, I have no doubt whatsoever that they will move to collapse these governance arrangements."

– "From the very first day that I took office this coalition arrangement has been undermined, criticised and rendered nearly impossible. In every way, the DA has been the most difficult coalition partner in this arrangement. Despite the fact that coalitions survive on consultation, shared programmes and recognising the contributions of each member, the DA has criticised and questioned my approach."

– "It is not in my nature to wait for people to push me, I have lived my life on my terms. It is for this reason that I have called this press conference today to announce my resignation from the Democratic Alliance effective 27 November 2019. It is on the request of Party Leadership that my resignation is held off until this date to afford them the opportunity to identify a new candidate. By doing so, I will no longer serve as a Democratic Alliance Councillor and therefore I am required to resign as the Executive Mayor of the City of Johannesburg effective on the same date."

21 Okt. 11:08:24

Vakbond verwelkom Mashaba se bedanking

Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) het Herman Mashaba se bedanking as burgemeester van Johannesburg verwelkom.

"Sy bedanking bring 'n einde aan sy skrikbewind waarin werkers en vakbonde die slagoffers was," lui 'n verklaring wat deur die Samwu-sekretariaat uitgereik is.

Die vakbond beskuldig Mashaba daarvan dat hy kollektiewe bedinging ondermyn het en by die vakbond ingemeng het."

Onder Mashaba was daar nie goeie arbeidsverhoudinge nie en arbeidsforums is nie saamgeroep nie.

"Onder sy leierskap het die stad miljoene rand in regskoste betaal om die vakbond voor die hof te daag en elke liewe saak verloor.

"Onder sy leierskap het die Stad op onwettige wyse byna R30 miljoen van die werkers se geld teruggehou in 'n poging om die vakbond lam te lê."

Die vakbond beskuldig Mashaba verder daarvan dat mense na aan hom skuldig is aan diefstal van miljoene rand.

Samwu sê hy verwag nie groot veranderinge ná Mashaba se bedanking nie, aangesien die DA steeds die meerderheid in die koalisieregering het.

"Ons meen egter enige duiwel wat ons kry gaan beter as Mashaba wees."

21 Okt. 10:50:48

Mmusi Maimane, DA-leier, betree die podium

Mmusi Maimane, DA-leier, staan die media te woord:

"Mede-Suid-Afrikaners, al die personeellede van die Johannesburg-metro, DA-leiers, koalisieparty-lede, inwoners van Johannesburg, vandag is 'n moeilike dag.

"Dis 'n moeilike dag vir die mense van Johannesburg, want elke besluit wat iemand neem moet eerste gaan oor hoe ons die mense in hierdie land dien.

"Ek het Mashaba jare gelede ontmoet. Ek het hom gesien as 'n vriend, 'n medekameraad."

Maimane sê hy glo die lewensomstandighede vir Johannesburgers is nou beter as onder die ANC.

"Ons het 'n doelwit: One South Africa for all. Daar is niks belangriker as dit nie. Die span onder Herman Mashaba het hard gewerk om dit te laat gebeur."

Maimane verwys nou na die verbeterings in infrastruktuur, behuising, en so meer en sê hy het groot geword in Dobsonvillle, Johannesburg, so hy het dienslewering met 'n valkoog dopgehou.

"Dis beslis die hoop en die droom wat ons wil bevorder."

Hy verduidelik die party gaan nou Mashaba se aankondiging oorweeg. Dit sal dan voor die uitvoerende federale (raad) dien (om te besluit wat gebeur volgende).

"Niemand van ons het deelgeneem aan politiek om die ANC te verander of 'n faksie van die ANC te bevorder nie, ons wou verandering bring.

"Ek respekteer Herman Mashaba se besluit en neem kennis van die inhoud van sy gesprek vandag.

"Ek sou verkies het as hy die 5 jaar uitdien, maar sy laaste dag is dan 27 Desember.

"'n Plan van aksie moet in plek wees om die prosesse en planne te laat voortduur.

"Ons wil hê dié regering moet met die werk voortgaan wat hy begin het.

"Ek wil die burgemeesterskomiteelede bedank wat hier is. Weet net dat julle werk uitsonderlik is vir die landsburgers."

Maimane bedank ook Connie Mashaba, Herman se vrou.

Hy sê die Maimanes en die Mashabas is al jare lank vriende.

Maimane wens Mashaba voorspoed toe vir sy pad vorentoe, wat ook introspeksie oor al die gebeure insluit.

"Jy is 'n held. Jy is 'n held vir my," sê Maimane.

Hy en Mashaba gee mekaar 'n druk.

Die nuuskonferensie verdaag.

Daar is nie 'n geleentheid vir vrae agterna nie.

Foto: Felix Dlangamandla

21 Okt. 10:43:35

Misdaad en korrupsie

Mashaba sê die Group Forensic and Investigation Service (GFIS) ondersoek en verwys duisende sake na die nasionale vervolgingsgesag.

Hy sê die K9-eenheid is in 'n oorlog met dwelmhandelaars gewikkel.

"Die ergste vir my is dat ek nie gaan kan sien hoe van hierdie langtermyn planne uitspeel nie."

Hy sê sy mandaat word onmiddellik na die aankondiging beëindig.

Hy verskyn wel more voor die portefeuljekomitee oor binnelandse sake om sy saak te stel hoe die nasionale departement van binnelandse sake die inwoners van Johannesburg faal deur enige Jan Rap en sy maat toe te laat om die land binne te kom.

Hy sê hy is ook besig om hofdokumente vir die nasionale vervolingsgesag (NVG) voor te berei. Hy wil toesien dat die NVG die sake wat aan hulle oorhandig word, suksesvol vervolg.

"Ek verlaat (die stad) met jy kop omhoog. Ek het geveg vir hierdie stad en het altyd in die beste belang van die inwoners opgetree."

Hy maak spesiale melding van die EFF en bedank die party dat hy hom beywer om mense se lewensomstandighede te verbeter.

"Dankie vir die geleentheid. Baie dankie vir die eer, dames en here, om die stad te dien. Aan Mmusi Maimane: Dankie vir die voorreg en dat julle dit vir my moontlik gemaak het."

21 Okt. 10:39:21

Mashaba meld sy prestasies

Mashaba sê hy is dankbaar om die Stad Johannesburg met beter geldsake te laat as wat hy dit (van die vorige bedeling) geërf het.

Hy lees nou uit finansiële state.

Mashaba noem nou daar is 'n afname in kragonderbrekings, water wat  lek word herstel en dit alles het die stad geld gespaar.

Hy noem ook dat daar baie herstelwerk aan infrastruktuur, soos paaie en brûe plaasgevind het.

"Vir die eerste keer in die geskiedenis van die metroraad, het die private sektor ook aan boord gekom."

Hy sê mobiele klinieke word oral in informele nedersettings ingestuur, sodat mense daar toegang tot mediese sorg kan kry.


Meer oor:  Johannesburg  |  Herman Mashaba  |  Politiek  |  Da  |  Helen Zille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.