Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
LP's se eis aan Gordhan: 'Wys ons SAL se finansiële state'

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) kan gered word, maar nie in sy huidige vorm nie.

Dit is die voorlopige gevolgtrekking van die sakereddingspraktisyns wat besig is met ’n assessering oor of die sukkelende SAL gered kan word of nie.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Woensdagoggend op ’n gesamentlike sitting van die staande komitee oor openbare rekenings (Skoor) en die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings by die parlement verslag gedoen oor die jongste verwikkelinge oor die beplande sakeredding van die lugdiens. 

Gordhan sê die sakereddingspraktisyns is besig om ’n omvattende sakereddingsplan vir die SAL op te stel.

Dit sal bekend gemaak word sodra dit afgehandel is.

19 Feb. 11:26:46

Mkhuleko Hlengwa, Skoor-voorsitter:

"Kollegas, ons moet van die sakereddingspraktisyns hoor. Hulle moet op 6 Maart hul voorlopige werk afhandel. Ons sal daarna 'n datum bepaal sodat die sakeredders verslag aan ons kan doen en al ons vrae kan beantwoord. 

"Ons kan nie nuwe reëlings tref wat die SAL aangaan as ons nog nie van die mense gehoor het wat vir die oorgangstydperk verantwoordelik is nie. En dit is die sakeredders.

"Hoewel ons vandag van die minister en sy span gehoor het, is die sakeredders die mense met wie ons moet praat. Ek is bly hulle is vandag hier en dat hulle hoor wat ons sê. 

"As die Skoor-komitee sal ons later vergader en die weg vorentoe rakende die SAL bepaal. Die lugdiens sal die middelpunt van die parlement se fokus bly."

Die sitting verdaag.

19 Feb. 11:20:53

Gordhan sluit af:

"Daar is 'n aantal kontrakte waarna daar gekyk moet word. Ons is haastig dat dit so gou moontlik gedoen moet word omdat dit die SAL se koste kan besnoei. Ek wil egter baie dankie sê vir die geleentheid. Ek sal terugvoering aan julle gee sodra alles in plek is."

19 Feb. 11:20:05

Gordhan is weer aan die woord:

"Ons moet 'n bietjie geduldig wees. Die sakeredders is besig met 'n omvattende plan. Alles is nog in die beplanningsfase. Die besluite oor watter roetes gesluit sal word of nie, is ook nog nie geneem nie. Julle sal mettertyd al die antwoorde kry, maar dit moet op 'n holistiese wyse benader word."

19 Feb. 11:19:05

Mkhuleko Hlengwa, Skoor-voorsitter:

"As ons die SAL self moet besoek, sal ons dit doen om te sien of alles goed veroop.

"As dit nie 'n lopende saak is nie, is dit nie.

"As die regte dinge by die SAL gedoen is, sou ons nie in hierdie situasie gewees het nie. 

"Ons moet die saak dus nou laat vaar. Dinge is egter nie reg by die SAL nie. 

"Alles is nie wel nie en ons het rede tot kommer 

"Laat ons klaarmaak met die vrae wat reeds gevra is, en daarna sal ons op padkaart opstel oor die weg vorentoe. Dit is nie die einde vandag nie. Alles wat in die sakereddingsproses gedoen word, sal onder ons toesig moet geskied want elke reddingsboei wat hulle soek sal deur die parlement goedgekeur moet word.

"Ek sal daarom ditatoriaal raak en daarop aandring dat ons al die antwoorde kry wat ons soek."

19 Feb. 11:17:03

Nog 'n LP benadruk hulle wil nie verkeerd verstaan word nie.

"Ons is bewus van die situasie by die SAL en daarom was die komitee vir twee jaar geduldig. Ons wil op geen wyse hê die SAL moet gelikwideer word nie. Ons wil net hê dat die sake daar na normaal terugkeer. Ons rol is om julle by te staan. Ons hoop en bid dat jul sakereddingsplan datums en tydsraamwerke sal insluit van wanneer die finansiële state ingedien kan word."

19 Feb. 11:16:08

Mkuleko Hlengwa, komiteevoorsitter, vra of daar vrae van LP's is.

Een van die LP's vra hoe die sakereddingspraktisyns binne enkele dae besluit het dat die SAL gered kan word.

"Net hulle kan dit beantwoord. Nie jy nie, minister. Hul rol is om te kyk of dit gered kan word en of die SAL homself uit sy huidige posisie kan loswikkel. Dit is die sleutelvraag, maar laat ek dit daar laat."

19 Feb. 11:14:26

Tydlyn van sakeredding

Gordhan:

"Ons sal julle inlig sodra die sakereddingsplan aanvaar word. As daar daarna vrae is, sal ons dit beantwoord."


19 Feb. 11:07:49

Arbeidsbetrekkinge

Gordhan sê die nota wat aan die SAL se personeel in Durban gestuur is dat hulle nie ná 12 Maart moet terugkeer werk toe nie, was 'n fout.

"Dit was 'n fout en die personeel is daarvan in kennis gestel. Dan is daar ook regsoptrede deur twee vakbonde teen die SAL. Ons sal vir die hof se besluit daaroor wag."

19 Feb. 11:06:41

Roetes

Gordhan sê daar kan uiteenlopende menings wees oor watter vlugroetes gesny moet word, en watter nie. 

"Op die oomblik is die meeste roetes onbekostigbaar. As ons nie die wanbalans herstel nie, gaan ons nie met die regte antwoorde vorendag kom nie.

"Die wet maak saak. Daar is geen poging om die SAL te vernietig nie. As daar mense is wat dit as die oogmerk het, het sal ons hulle identifiseer en daarmee handel." 

19 Feb. 11:04:22

Gordhan:

" 'n Sleutel-swakpunt wat ons regoor alle staatsondernemings vind, is operasionele ondoeltreffendheid, wat, saam met korrupsie, 'n erge negatiewe impak het. Die skade wat dit aangerig het sal nie oornag herstel kan word nie.

"Dit is entiteite wat nie hul bedrywighede of finansiële state sal kan verbeter net omdat hulle 'n nuwe bestuur of direksie het nie. Dit gaan 'n nuwe kultuur verg vir ons om dit reg te ruk.

"Julle as Skoor se sake gaan oor geld, nes die regering s'n ook. Daar moet dus aanspreeklikheid wees. Die privaat sektor is ook nie die antwoord vir die SAL nie, so ook nie die regering nie. Ons het op sakeredding besluit om die SAL in 'n volhoubare maatskappy te omskep."

Meer oor:  Gordhan  |  Sakeredding  |  Sal  |  Pravin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.