Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: DA eis dat parlement Cyril se borgskappe ondersoek
  • Busisiwe Mkhwebane, Openbare Beskermer (OB), het Vrydagoggend bekend gemaak haar ondersoek na pres. Cyril Ramaphosa se antwoorde oor die omstrede Bosasa-skenking is afgehandel. 
  • Mmusi Maimane, DA-leier, het 'n klagte by die kantoor van die OB ingedien oor Ramaphosa se antwoorde in die parlement oor die skenking deur Gavin Watson, hoof van Bosasa.
  • Watson het R500 000 betaal in 'n rekening wat gekoppel was aan Bosasa en toe oorgedra is na 'n trustrekening wat gebruik is vir Ramaphosa se verkiesingsveldtog om die president van die ANC te word.
  • Mkhwebane het gemeld Floyd Shivambu, EFF-adjunkpresident, het ná Ramaphosa se antwoorde in die parlement op 6 November 2018 ook 'n klag by haar kantoor ingedien dat Ramaphosa die parlement mislei het. Hy was toe adjunkpresident.
  • Daar was ook 'n derde klag van 'n lid van die publiek, volgens Mkhwebane.
  • Mkhwebane het gesê haar kantoor het bevind Ramaphosa het die parlement doelbewus mislei toe hy gevra is oor die Bosasa-skenking.
  • Sy het ook bevind hy het verskeie etiese kodes oortree.
  • Maimane hou later 'n nuuskonferensie by die parlement oor die bevinding.
19 Jul. 13:15:48

DA: Groot bedrae geld wek kommer

Mmusi Maimane, DA-leier, het sy kommer uitgespreek dat daar nie behoorlik boekgehou word van die belange wat lede van die uitvoerende gesag verklaar nie.

"Toe ek na Pretoria (die Uniegebou) gaan om my verklaring van belange onder oë te kry, was dit nie daar nie."

Hy sê die DA het herhaaldelik versoek dat 'n ad hoc-komitee van die parlement saamgestel word om die president behoorlik te ondersoek.

Hy het verwys na 'n tabel in die OB-verslag wat wys hoe geld na bewering "gewas" is.

"Dit gaan nie net oor die president nie. As ons die praktyk laat voortgaan, kan enigiemand die parlement ondermyn. Daarom gaan ons 'n versoek aan die speaker (van die Nasionale Vergadering) rig dat 'n ad hoc-komitee op die been gebring word."

19 Jul. 13:07:29

Hoe glo die DA nou skielik die OB?

Joernaliste wat Mmusi Maimane, DA-leier, se nuuskonferensie in Kaapstad bywoon, wil weet hoe die DA in die een asem eis dat Busisiwe Mkhwebane as openbare beskermer verwyder word, en in die volgende asem haar bevinding oor pres. Cyril Ramaphosa as geloofwaardig beskou.

Maimane se antwoord was dat hy nie kan saamstem met bewerings dat Mkhwebane haar bevinding gemaak het weens die invloed van 'n faksie in die ANC wat vyandig teenoor Ramaphosa is nie. "Dit is die persoonlike menings van die mense (wat die aantygings maak). Ek kan dit nie doen nie."

Hy meen die kantoor van die OB moet gerespekteer word.

"Die bevindings in die verslag is uitgebreid en ernstig. Waarvoor was al die geld? Ek wens daar was nog 'n liggaam om die ondersoek te doen, maar wetgewing bepaal dat dit die OB moet wees."

Hy het gesê sy stryd om Mkhwebane te laat verwyder, gaan voort.

19 Jul. 12:55:26

Joernaliste kry 'n kans om Musi Maimane, DA-leier, uit te vra nadat hy 'n verklaring in Kaapstad voorgelees het oor die party se reaksie op die OB se bevinding dat pres. Cyril Ramaphosa etiese kodes oortree het. Foto: Philda Essop, Netwerk24

19 Jul. 12:51:34

DA wil sien dat Ramaphosa voor ad-hoc-komitee verskyn

Mmusi Maimane, DA-leier, hou 'n nuuskonferensie in Kaapstad om te reageer op die OB-verslag dat pres. Cyril Ramaphosa die parlement mislei het.

Maimane sê die party het die klag ingedien omdat niemand bo die reg verhewe is nie.

"Ons wette is ontwerp vir die beste en slegste in die land. Die bevinding dat die president die parlement mislei het, is 'n ernstige klag." 

Omdat die president van die land nie 'n lid van die parlement is nie, beveel die DA aan dat 'n ad hoc-komitee in die parlement aangestel word om te bepaal wat die gepaste straf vir president is, het Maimane gesê.

"Soos enige ander individu is dit reg dat die president moes verklaar het watter borgskappe hy ontvang het. Waarom het dit deur meer as een rekening gegaan as dit 'n regstreekse borgskap was? Ons wil weet wat die OB bedoel wanneer sy sê die NVG moet ondersoek instel. Bedoel sy die nuwe ondersoekdirektoraat in die NVG?"

Maimane het afgesluit met die stelling dat die land harde lesse onder oudpres. Jacob Zuma geleer het.

19 Jul. 12:37:00

OB: Honderde miljoene aan Ramaphosa se veldtog geskenk

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, het bevind "honderde miljoene" rand is aan pres. Cyril Ramaphosa se CR17-veldtog geskenk voordat hy tot president van die ANC verkies is.

R191 miljoen is tussen Desember 2016 en Januarie 2018 in die CR17-rekening inbetaal.

Min of meer dieselfde bedrag is weer uit die rekening na ander rekening oorgeplaas, het Mkhwebane bevind. 

Drie bedrae van R31 miljoen, R39 miljoen en meer as R51 miljoen is deur een skenker inbetaal.

"In die slotsom oor hierdie groot bedrae geld, wat ook van private ondernemings ontvang is, is my voorlopige indruk dat so scenario, wanneer mens dit versigting aanskou, 'n situasie van risiko skep van 'n soort staatskaping deur diegene wat die geld aan die veldtog geskenk het," het Mkhwebane gesê.

19 Jul. 11:54:44
19 Jul. 11:35:15

'Cyril oortree etiese kode vir lede van die uitvoerende gesag' - deur Bonolo Selebano

Busisiwe Mkhebane, openbare beskermer, het bevind pres. Cyril Ramaphosa het die etiese kode vir lede van die uitvoerende gesag oortree.

Sy het haar verslag op 'n nuuskonferensie in Pretoria bekend gemaak.

Mkhebane moes in haar ondersoek vasstel of Ramaphosa vir die parlement gelieg het oor die skenking van R500 000 wat hy van Bosasa ontvang het. Ramaphosa het aangevoer die geld is in 'n trustrekening betaal vir dienste wat sy seun, Andile, gelewer het.

Die vraag deur Mmusi Maimane, DA-leier, oor die betaling is op 6 November 2018 in die parlement aan Ramaphosa gestel.

Hy het gesê die geld is aan sy seun betaal, maar hy het later sy storie verander.

Ramaphosa het in 'n brief aan die speaker van die Nasionale Vergadering sy antwoord gewysig en gesê die geld is in 'n trustrekening van die CR17 ANC presidensiële veldtog inbetaal.

Dit is hieroor dat Mkhwebane bevind het Ramaphosa het die etiese kode vir lede van die uitvoerende gesag, die etiese gedragskode én die etiese kode vir die verklaring van lede se finansiële belange oortree.

Volgens haar het hy oortree deur nie die skenking van R500 000 te verklaar toe hy nog adjunkpresident van die land was nie.

19 Jul. 11:28:33

19 Jul. 11:26:17

19 Jul. 11:25:31

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.