Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Zuma hoor Dinsdag oor uitstel van hofsaak
  • Die saak teen oudpres. Jacob Zuma en die wapenvervaardiger Thales oor beweerde bedrog met die destydse wapentransaksie, is Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg hervat. Dis virtueel aangehoor.
  • Zuma dring daarop aan dat hy vrygespreek word op grond van sy “spesiale pleidooi” dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) hom nie kan vervolg nie weens vooroordeel en ’n gebrek aan onafhanklikheid.
  • Die NVG hou egter vol dat Zuma se klagtes oor misbruike en politieke sameswering teen die staat grotendeels deur die howe hanteer is – soos toe ’n volbank van die hooggeregshof sy aansoek om die staking van vervolging in 2019 van die hand gewys het.
  • Hy wil getuig oor hoekom hy vrygespreek moet word op die aanklagte van korrupsie sonder om verhoor te word.
  • Sy regspan voer egter in hofdokumente aan dat Zuma, wat gevangenisstraf in Estcourt uitdien, “nie in die huidige omstandighede gedwing kan word om sy verhoor op ’n virtuele platform of in sy afwesigheid te laat geskied nie”.

LEES OOK: Zuma se span veg voort vir uitstel


19 Jul. 14:46:33

Masuku sê dit is Zuma se saak; hy sluit sy saak af.

Koen vra wat is die versoek; hoe lank moet die saak uitgestel word? Masuku antwoord drie weke. Hierop vra Koen of hy ’n sekere datum moet gee. Die saak was uitgestel tot vandag vir die verhoor om te begin.

Masuku sê hy aanvaar dat die saak vandag moes voortgaan, maar daar is ’n aansoek hieroor gebring. “Was die saak nie vir vandag op die rol vir die res van die hofsessie nie?” vra Koen.

Koen sê hy stel die saak uit tot Dinsdag om 10:00 om sy beslissing te gee.

19 Jul. 14:38:56

Masuku sê ander verhore word uitgestel tot 26 Julie, waarom het die NVG nou so ’n dringendheid dat die saak moet voortgaan?

19 Jul. 14:38:27

Masuku sê daar is vantevore saamgewerk om die verhoor uit te stel. Nou wil die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie ’n uitstel hê terwyl Zuma in aanhouding is nie, want dit sal die NVG se saak bevoordeel.

Nou dring die staat om die een of ander rede aan dat die saak nie uitgestel word nie. Koen het gesê daar word geargumenteer vir en teen die uitstel van die saak, dit gaan nie oor ’n houding wat die NVG inneem nie.

19 Jul. 14:29:04

Die saak gaan voort.

19 Jul. 14:17:05

Masuku vra dat die hof verdaag sodat hy sy kollegas en indien nodig ook Zuma konsulteer om seker te maak hy het al die nodige gesê.

Die hof verdaag tot 14:25.

19 Jul. 14:12:26

Masuku sê die staat het nie die reg om Zuma anders te behandel nie. Dit word al vir te lank gedoen. Laat daar ’n regverdige verhoor wees en Zuma toegelaat word om in die hof te wees.

Hy sê ander verhore word uitgestel, selfs siviele aansoeke word uitgestel.

19 Jul. 14:11:43

'Zuma benadeel om uit tronk hofsaak te volg’

Masuku sê ander verhore wat vandag in die hooggeregshof aangehoor sou word, het nie voortgegaan nie. Hy sê die impak van die koronaviruspandemie moet in ag geneem word. Die staat het al vantevore self ’n uitstel gevra omdat dit ook ’n impak het op die beskikbaarheid van staatsgetuies.

Daar is ’n pandemie en dit moet in ag geneem word. Daar is ook ander beperkings, daar kan nie met Zuma gekonsulteer word nie. Die fisieke beperkings wat ’n virtuele verhoor plaas, is ’n werklikheid.

Hy sê daar is moontlike konstitusionele klagtes wat hieruit kan spruit met die impak van die koronavirus en ook dat Zuma nie in die hof is nie. Hy sal kan sê dat hy benadeel word om vanuit ’n tronk na die saak te luister. Om dié rede moet die saak uitgestel word, net soos wat ander sake uitgestel word.

19 Jul. 13:52:57

‘Zuma se reg beperk om te konsulteer’

Masuku sê dit is die staat se skuld dat die verhoor nou al vir 15 jaar uitgestel word. Om nou met kortpaaie te kom, is nie aanvaarbaar nie.

Zuma is teenwoordig, maar kan nie met sy regsverteenwoordigers konsulteer nie. Hy kan uit die gevangenis telefonies met sy regspan konsulteer, maar dit is nie ideaal nie. Om in die direkte teenwoordigheid van ’n kliënt te wees en te verduidelik wat in die hofprosedure gebeur, is die ideaal.

Koen sê in die aansoek wat aangehoor moet word (Zuma se aansoek dat Downer as staatsaanklaer moet onttrek), gaan dit oor regsargumente wat op skrif by die hof ingedien is. Dit is nie die verhoor nie.

19 Jul. 13:50:04

Masuku sê die vraag is of die uitstel van die saak tot nadeel van regspleging sal wees.

Hy sê dat Trengove nie ’n saak uitgemaak het dat dit tot nadeel van regspleging sal wees nie. Dit is nie ’n uitstel om die verhoor te frustreer nie. Die verhoor is reeds aan die gang en Zuma het reeds gepleit.

Indien daar afgewyk word van die normale prosedure (om die saak virtueel te verhoor), moet die regte van die aangeklaagde in ag geneem word – dit is die belangrikste reg wat in ag geneem moet word.

Masuku sê die regter moet in ag neem of ’n uitstel tot voordeel van die aangeklaagde (Zuma) sal wees, naamlik sy reg om onder die beste moontlike omstandighede verhoor te word. Al waaroor die hof moet besluit, is die voordele en nadele van ’n virtuele verhoor en daarvolgens besluit of die saak uitgestel moet word, sê Masuku.

19 Jul. 13:38:12

Die sitting gaan voort.

Adv. Thabani Masuku gaan antwoord op Trengove se argumente.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.